Diergaardt hoopvol oor opbou na 2020
Tielman van Lill – Die 2022-rugbyjaar sal vir Namibië en ander aanspraakmakers die bepalende een wees waarin agt kwalifiserende plekke vir die 2023 Wêreldbeker in Frankryk gevul sal word.
Hoewel Covid-19 klaargespeel het met die hoop dat Namibië onder sy nuwe hoofafrigter Johan Diergaardt vanjaar enige toetsrugby gaan speel, bly hy vol vertroue dat die land geensins sal skietgee op sy houvas op die vasteland se enkele posisie vir WB-kwalifisering nie.
Suid-Afrika (kampioen), Argentinië, Australië, Engeland, Fidji, Frankryk (gasheer), Ierland, Italië, Japan, Nieu-Seeland, Skotland en Wallis is die 12-tal wat reeds hul plekke vir WB 2023 bespreek het.
Dié spanne het by die 2019 Wêreldbeker in Japan in die topdrie in hul onderskeie groepe geëindig. Die Springbokke is uiteindelik vir die derde keer as wêreldkampioen bekroon, nadat hulle die Engelse Rose in die eindstryd met 32-12 gesnoei het.
Vir Afrika se hoopvolle spanne soos Marokko, Tunisië, Uganda en Zimbabwe lê opnuut ’n opdraande stryd voor. Of enige van hulle Namibië en Kenia in 2022 uit die Afrika-Rugbybekerfinaal kan hou, is ’n goeie vraag. Die wenner van die 2022 Afrika-Rugbybeker kwalifiseer regstreeks vir die 2023-wêreldskouspel, terwyl die naaswenner in ’n finale kwalifiseringstoernooi teen drie ander vastelande se naaswenners sal uitspeel om span nommer 20 in Frankryk te wees.
Wêreldrugby se oorblywende agt kwalifiserende plekke word in streek- en oorkruisstreekkompetisies beslis. Die finale repechage is in November 2022 op ’n rondomtaliegrondslag tussen die vier beste verloorspanne uit vier wêreldstreke.
Vir die Amerikas is twee regstreekse kwalifiserende plekke beskikbaar, terwyl Oseanië een het. Oseanië kan egter ’n tweede plek verseker indien sy span die Asiese wenner in ’n uitspeelwedstryd kan klop.
Buiten die Sesnasies bied die Europese Rugbykampioenskap die geleentheid vir nog twee plekke, terwyl Afrika net een direkte posisie kan opeis.
Die lande in die finale repechage sal span nommer 3 in die Amerikas-Rugbykampioenskap (September 2022) en nr. 3 in die Europese Rugbykampioenskap (Maart 2022) wees, saam met die tweede geplaaste span in Afrika.
Tonga en Samoa sal in 2021 een tuis- en een wegwedstryd teen mekaar speel om Oseanië se direkte verteenwoordiger vir Frankryk te bepaal. Die verloorder sal dieselfde jaar een weg- en een tuiswedstryd teen die wenner van die 2021 Asiese Rugbykampioenskap speel. Die wenner op aggregaattelling dring deur na die Wêreldbeker en die verloorder kry sy kans in November 2022 by die repechage.
Bill Beaumont, voorsitter van Wêreldrugby sê: “Ons het lande se vertonings verlede jaar in Japan onder die loep geneem om besluite te neem. Nadat ons met streekverenigings en lidlande gesels het, het ons op die nuwe stelsel besluit om kompeterende lande die bes moontlike kans te gee om vir Frankryk te kwalifiseer.
“Namens Wêreldrugby wens ek alle lande voorspoed met hul pad na Frankryk toewens.”
KONDISIONERING SENTRAAL
Mnr. Johan Diergaardt, Namibië se hoofafrigter, het aan Republikein gesê: “Omrede die nasionale oefengroep weens die gebrek aan toerusting nie behoorlik tuis kon oefen nie, kan ek sedert ons terugkeer na die oefenveld sien hul fiksheidvlak het ’n beduidende knou weg. Die ouens werk nou hard, maar om die agterstand in te haal, sal ons nog harder moet werk.
“Ek het Dinsdag die kwalifiseringsproses van Wêreldrugby gesien. Vir Namibië bly dit basies dieselfde as in die verlede. Die repechage tussen die laaste vier aanspraakmakers is ’n stresvolle proses en ’n mens wil nie graag daardie roete volg nie. Ons moet eenvoudig regstreeks vir Frankryk kwalifiseer soos ons met elke vorige Wêreldbeker (sedert 1999) gedoen het.”
In die 2018 repechage-wedstryde in Marseille was Kanada die oortuigende wenner wat Duitsland, Hongkong en Kenia uitgestof het om vir die 2019 WB te kwalifiseer.
“Ons rugbytalent in Namibië en spelers wat elders professionele rugby speel, is eenvoudig fenomenaal. Ek reken ons het genoeg spelers en as ons hulle goed kan bestuur en aanwend, behoort ons weer vir 2023 te kwalifiseer.
“Daar sal nogtans vir die volgende twee jaar baie hard gewerk moet word. Ons sal sodra die grendeltydperk verby is, so spoedig as moontlik aan die gang moet kom. Die spelers werk hard en onverpoos agter die skerms om verlore tyd in te haal.
“Hopelik kan ons in Augustus begin rugby speel, maar dan sal ons nie kan kruip en dan eers wil hardloop nie. Ons sal die grond volspoed moet tref om aan die gang te kom. Ons sal hopelik ’n enkelronde van die premierliga in Augustus, September en Oktober kan afhandel. My mikpunt is ons moet so spoedig vordering maak dat indien ons in Januarie volgende jaar moet opdraf, ons gereed daarvoor moet wees.
“Ons plan is om die Welwitschias vanjaar nog een of twee keer teen ’n plaaslike uitnodigingspan te laat speel. Om rugby groter blootstelling te gee, is die gedagte om die Welwitschias in die noorde en suide te laat speel. Ons het mos verlede jaar so ’n wedstryd teen die Southern Kings op Walvisbaai gehad.
“Die Namibië Rugbyunie het verlede jaar ’n strategiese plan opgestel om ons rugby te verbeter, maar die Covid-19-hekkie is ons lelik gepootjie. Ons ouens het vanaf Oktober bitter baie vir die SuperSport-uitdaagreeks gesweet, wat uiteindelik glad nie gespeel is nie.
“Behalwe ons ekonomie wat ’n knou gekry het, is ons sportmanne geestelik ook te na gekom. Ek weet met die karakter en tipe mense wat ons Namibiërs is, sal ons opstaan en beter anderkant uitkom en nuwe hoogtes bereik. Ek is opgewonde oor die taak wat vir my voorlê en sien baie uit daarna om weer met afrigting te begin. Ek glo harde werk word altyd beloon en dit is presies wat ons gaan doen,” het Diergaardt gesê.
Weens die Covid-19-situasie sal wedstryddatums vir 2021 eers later deur Wêreldrugby aangekondig word.
Die groepfase in Japan het só geëindig:
Groep A: Japan (19 punte), Ierland (16), Skotland (11), Samoa (5), Rusland (0).
Groep B: Nieu-Seeland (16), Suid-Afrika (15), Italië (12), Namibië (2), Kanada (2).
Groep C: Engeland (17), Frankryk (15), Argentinië (11), Tonga (6), VSA (0).
Groep D: Wallis (19), Australië (16), Fidji (7), Georgië (5), Uruguay

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie