Diewe steel 20 koeie by een boer

Die afgelope maande vier veemisdaad weer hoogty, vertel boere uit verskillende dele van die land.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh – 'n Enkele boer in die Kalkfeld-omgewing het die afgelope jaar reeds N$324 000 aan veediefstal verloor.

Die laaste naweek van Oktober is daar wéér drie dragtige koeie op die plaas Omukandi van mnr. Albert Koch geslag.

“Ongelukkig kon ons niemand in hegtenis neem nie, maar hulle het die slagplek gelos met al die biltong wat hulle al gemaak het,” het Koch vertel.

'n Saak is by die polisie aanhangig gemaak en Koch het foto's van die slagplek getoon.

Hy sê tot dusver vanjaar het diewe reeds 20 beeste by hom gesteel – die meeste op sy plaas Otjongoro in die Omaruru-omgewing. Hy sê amper almal van hulle was dragtige koeie.

Dieselfde naweek, op Saterdag 31 Oktober, is nog 'n verdagte met 'n voertuig vol sakke biltong op die B1-pad by Karibib vasgetrek. Ten minste vier 50 kg-sakke vol biltong is gekonfiskeer, asook verskeie kleiner sakke. Beslag is ook gelê op items soos slagmesse, draadtange en 'n klein sonpaneel.

'n Week voor dit was 'n private K9-eenheid op die spoor van verdagtes wat drie waterpompe by Wilhelms­tal gesteel en met 'n voertuig in die rigting van Okahandja gevlug het.

Dit volg ná boere in die Witvlei-omgewing ook gekla het dat hulle in die afgelope tyd 'n erge toename in vee- en wilddiefstal ervaar.

Republikein het op 26 Oktober berig boere in die Witvlei-omgewing is opnuut moedeloos met 'n vlaag van vee- en wildmisdaad, terwyl hulle sê die regstelsel misluk daarin om enige beskerming aan hulle of hul eiendom te bied.

Vee- en wilddiewe in die gebied raak daagliks meer gesofistikeerd, het mnr. Jürgen Matthaei, voorsitter van die Nossob Misdaadvoorkomingsforum (NCPF) toe aan die koerant gesê. Volgens hom jag hulle nou op die rûe van perde of ry gesteelde vee met lorries weg.

'n Witvlei-boer, mnr. Alfred Kamupingene, sê die voortdurende diefstal van sy vee roei hom uit.

“Ek is só gefrustreerd, ek het moed opgegee,” het Kamupingene aan Republikein gesê.

Selfs polisiebeamptes was glo al by die onwettige slagting van Kamupingene se beeste betrokke. - [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!