Digitale gesondheidspaspoort vir kom vir passasiers
Digitale gesondheidspaspoort vir kom vir passasiers

Digitale gesondheidspaspoort vir kom vir passasiers

Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer - Die Internasionale Lugvervoervereniging (Iata) het Maandag tydens sy virtuele algemene jaarvergadering bekend gemaak planne is ver gevorder om vroeg aanstaande jaar ’n digitale gesondheidspaspoort, of toep, vir internasionale passasiers bekend te stel.
Dit sal die veilige vloei van inligting oor Covid-19-toetse en -inentings tussen passasiers, laboratoriums, regerings en lugrederye bewerkstellig en veilige internasionale reise moontlik maak.
Die verwagting is dat die toep in die eerste kwartaal van 2021 vir Apple IOS-fone beskikbaar sal wees en in die tweede kwartaal vir Android-fone, sê mnr. Linden Birns, Iata se woordvoerder in Afrikalande suid van die Sahara.
Iata het ‘n beroep op regerings gedoen vir sistematiese Covid-19-toetsing vir alle internasionale passasiers en vir die daarstelling van inligtingsinfrastruktuur wat dit moontlik sal maak om passasiers se toetsuitslae digitaal te bekom en te verifieer.
“Toetsing is die eerste sleutel om internasionale reise sonder kwarantynmaatreëls moontlik te maak. Die tweede is wêreldwye inligtingsinfrastruktuur sodat die toetsdata veilig bestuur, gedeel en geverifieer kan word aan die hand van die passasier se identiteit en die grensbeheervereistes wat van toespassing is,” het mnr. Alexandre de Juniac, Iata se direkteur-generaal en hoof uitvoerende beampte, gesê.
Hy sê die digitale gesondheidspaspoort sal aan die vereistes voldoen van die voorskrifte van sogenaamde “reisborrels” binne koördineerde openbare gesondheidskorridors wat toenemend ingestel word om reise binne bepaalde gebiede in die wêreld makliker te maak.
Passasiers sal op die toep hul toets- en inentingsertifikate kan ontvang en seker maak dit voldoen aan al die reisvereistes van die lande wat besoek gaan word. Dié inligting kan met lugrederye en reisagente gedeel word.
Hulle kan dit ook gebruik om al hul reisdokumente digitaal te bestuur terwyl hulle reis, sê Iata.
Mnr. Nick Careen, Iata se senior visepresident vir lughawens, passasiers, vrag en sekuriteit, sê dit sal regerings oortuig om sistematiese Covid-19-toetse in die plek van kwarantynmaatreëls te gebruik. En dit sal later aangepas word om vir Covid-19-inentings voorsiening te maak, sê hy.

Foto: Pixabay

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer