Digitalisering bevoordeel landbouproduksie
Digitalisering bevoordeel landbouproduksie

Digitalisering bevoordeel landbouproduksie

Statistiek spreek vanself
Elvira Hattingh
Dr. Kobus Laubscher

Tradisionele produksietegnieke se dae is getel as ’n mens kyk na die uitkoms van ’n onlangse kompetisie tussen tradisionele aarbeiproduksie en digitaal bemagtigde produksie.

In Mei verlede jaar in China is die waarde van digitale bemagtiging van produsente ongetwyfeld bewys.

Vyf spanne het aan ’n kompetisie deelgeneem. Die een span het aarbeie op die tradisionele manier geplant, met toegang tot die normale (gewone) bronne van inligting.

Die ander vier spanne was nie vertroud met aarbeiproduksie nie en moes met behulp van digitale kanale hulself bemagtig. Aanvanklik was die tradisioneles los voor, maar met behulp van kunsmatige intelligensie het die ander spanne hulself bemagtig en eindelik meer “geleer” oor aarbeie. Die nuut verkrygde kennis is met digitale vindingrykheid aangevul.

Aarbeie se groei en groeibehoeftes is ontleed en met behulp van kunsmatige intelligensie kon vooruit gedink word oor wat nodig sal wees in terme van voeding en waterbehoeftes. Dit het optimalisering bevorder en die statistieke spreek vanself.

Die vier tegnologie-spanne het gemiddeld 196% meer aarbeie geproduseer en die opbrengs op hul kapitaal was 75,5% meer as dié van die tradisionele produsente. Dié verstommende prestasie is die gevolg van beter data, beter beskikbaarheid van dié data en verfynde ontleding daarvan. Om te weet, moet jy kan meet!

DIGITALE BEMAGTIGING

Landbou in China word danksy digitale bemagtiging bevoordeel en daarmee bly hulle die res van die wêreld ’n kortkop voor.

Ander voorbeelde is waar hoenderprodusente aangepas het om te kan voldoen aan die stygende vraag na organiese hoendervleis en die onus op die produsent rus om dit te kan bewys.

Sodoende kan die produk gedifferensieerd aangebied word en beter pryse behaal word. Elke hoender word toegerus met ’n klein monitor aan sy been wat inligting versamel, wat later verwerk kan word.

Die organiese vrylopende hoender moet juis dit kan doen: Dié hoender moet gesond wees en derhalwe is daar metings wat die boer betyds kan waarsku as daar afwykings is.

VERNUWING

Nou, met die herskikking van die ekonomiese orde gedurende en dalk ná die pandemie, sal dit ’n ernstige oordeelsfout wees om met besigheid aan te gaan soos gewoonlik.

Vir eers is daar belangrike verskuiwings aan die vraagkant. Dit is geen uitgemaakte saak dat die verbuikers jou produk moet koop nie. Al is dit die mooiste os of skaap, gemeet aan jou (dalk uitgediende) norme, gaan dit nie die verbruiker opgewonde maak nie.

Boere sal moet differensieer om ’n verskil te kan maak. Ten einde landbou se ontwikkelingsrol vlerke te gee wat die inskakeling van ontluikende boere betref, sal die beoogde transformasie anders aangepak moet word.

Ontwikkeling, met die oog op volhoubaarheid, sal nie net op die tradisionele oordrag van vaardigheid kan steun nie. Hiermee sal die ontluikende boere agter gelaat word en die impak hiervan sal veel erger wees as die diskriminasie van die verlede.

Digitale bemagtiging sal hoër prioriteit moet geniet, wat tot gevolg sal hê dat die aard en omvang van hoe die vierde nywerheidsrevolusie in die landbou uitgerol word, herdink moet word.

Hiervoor is verbeterde inligting-snelweë onontbeerlik. ’n Meesterplan met meetbare doelwitte en duidelike uitkomste is nou nodig, maar die wind waai nog spreekwoordelik wes! Alles moontlik moet ingespan kan word, insluitend internetkoppeling, databeskikbaarheid en bekostigbaarheid en mobiele internettoegang.

As regerings dink dié mobiliteit beteken dat verbruikers moet kan bel en teksboodskappe stuur, sit hulle die pot mis. Internetverbindings vir 5G-tegnologie is nou ewe noodsaaklik as huishoudelike voedselsekuriteit.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!