Dippenaar, Smit konings van die ooste

Elke sekonde het getel in die eerste byeenkoms van die nasionale reeks.
Tielman van Lill
Tielman van Lill - Wilro Dippenaar en Bertie Smit het tydens die Bank Windhoek Gobabis-tydren skoonskip gemaak om die eerste been van die Namibiese nasionale kampioenskap in die motor- en veldwa-afdeling in te palm.

Agtien spanne het Saterdagoggend oos van dié dorp by die Omateko Lodge weggetrek om die verkorte kompetisie met agt supersnelde (SS'e) af te blits.

Die eerste spanne het omstreeks 10:30 by Piet Brand weggespring en daarna die trajekte by Vasbyt, MX, Jasper en Omateko kafgedraf.

Motors

In die S4-klas het Dippenaar en Carolyn Swan, sy nuwe navigator, sewe uit die agt sneldele gewen om die tydren 57 sekondes vinniger as Jaco Redelinghuys en Derek Jacobs met 'n totale tyd van 1 uur 03 minute 02 sekondes in die eerste plek af te sluit.

Redelinghuys blits die eerste trajek in 10 minute 55 sekondes af en eindig tweede in die res van die sneldele, met net enkele sekondes wat hom en Dippenaar van mekaar skei.

Hoewel Allan Martin en Maretha Olivier nie een sneldeel kon inpalm nie, lyk dit tog of Martin stadig maar seker besig is om sy voete met die nuwe Skoda R5 te vind. Hy eindig derde in 1:04:52 om 53 sekondes stadiger as Redelinghuys in te klok.

Zachary Martin en Mandie Hugo was die enigste deelnemers in die S3-klas. Zach en Hugo word die beeskontrei se eerste slagoffer in SS1 toe 'n stok deur die Groen Mamba se verkoeler steek en die 4x4 VW Polo S2000 se enjin oorverhit.

Dit was Martin junior se laaste sien van Groen Mamba, wat met sy “top gasket” aan flarde die veiligheid van sy sleepwa bo jaag moes kies.

S1-klas

In dié klas het Welmie Kühn en René Hugo haar RunX netjies deur sy passies gesit om Pieter Greef en JP Robinson (tweede) asook Gino Meyer en Riaan Hennop (derde) onderskeidelik met 2 minute 58 sekondes en 3 minute 5 sekondes te troef.

Kühn palm al agt sneldele in, terwyl Greeff en Meyer in 'n tweestryd gewikkel was. Meyer stof Greeff in SS5 en SS6 uit, maar moet tevrede wees dat Greeff ses trajekte agter sy naam skryf.

Veldrenne

Nuwe verwikkelinge het sedert 2019 in die Off Road-kode (OR) plaasgevind. Spanne wat laasjaar in die A-, B-, C, D- en E-klasse moes meeding, sal vanjaar in net twee kategorieë hoef in te skryf.

Boonop kan hulle in dié afdeling vir die eerste keer vir nasionale kampioenskapspunte jaag wat oor vier byeenkomste beslis sal word.

Rally Challenge-klas (CR1 en CR2)

Ongeag die voertuig se enjinkapasiteit, sal 4x4-bakkies in die CR2- en tweewieltrekvoertuie in die CR1-klas jaag.

Bertie Smit was verlede seisoen die haastigste op sy tuisdorp en maak Saterdag weer so toe hy al agt supersneldele oorheers.

Smit en Dewald Venter palm die algehele eerste posisie en die CR1-afdeling gevolg deur Stefan en Lappies Labuschagne (CR2) wat die tweede posisie inneem. Jacques Kruger en navigator Roche Louw (CR1) maak derde ná die V8's van Smit en Labuschagne klaar.

Nadat Niekie Swart en NG Swart (CR2) meganiese probleme in SS1 opgedoen het, is hulle die enigste span wat volgens supertydrenreëls die kompetisie in 1:33:16 kon voltooi. Swart kan wel kampioenskappunte verdien, maar kon nie 'n plek op die podium behaal nie.

Isai Nhinda/Tinus Malan, Ruaan Viviers en Willem Hugo (beide S4) asook Dirk Redman en Flippie Liebenberg (CR2) is die ander drie slagoffers wat nie die tydren kon voltooi nie.

Gobabis-motorklub en die organiseerders bedank Bank Windhoek, Auas Motors Gobabis, BSCS, Engen Eastern 1 Stop, Gobabis munisipaliteit, Gobabis Toyota, Gobabis Auto Truck & Tractor, Gobabis nood- en verkeersdienste, Gobabis-diensstasie, JA Repairs, Karoo-Oche, NMSF, die Namibië Brouerye, Nampol, Omateko Lodge, Spandiensmotors, WLA, grondeienaars asook die beamptes en publiek van Gobabis wat die byeenkoms suksesvol en moont­lik gemaak het.



Die voorste uitslae:

Karre (S4/algeheel): 1 W. Dippenaar / C. Swan (Shell V-Power 4x4 Toyota Auris S2000) 1:03:02, 2 J. Redelinghuys/D. Jacobs (Gobabis Toyota 4x4 Yaris S2000) 1:03:59, 3 A. Martin/M. Olivier (J&P Hydraulics 4x4 Skoda R5) 1:04: 52.

S1: 1 W. Kühn/R. Hugo Kühn Panelbeaters (4x2 Toyota RunX) 1:19:59, 2 P. Greef/JP Robinson (sealconsult­ingengineers 4x2 Toyota Corolla) 1:23:17, 3 Gino Meyer/Riaan Hennop (4x2 Toyota Corolla) 1:25:04, 4 Paul Oosthuizen/Johan du Plessis (4x2 Toyota Corolla) 1:45:40.

Veldwaens (algeheel): 1 B. Smit/D. Venter, 2 S. Labuschagne/L. Labuschagne, 3 J. Kruger/R. Louw.

CR1: 1 B. Smit/D. Venter (BSCS V8 4x2 Mazda Magnum-bakkie) 1:15:25, 2 J. Kruger/R. Louw (4x2 Toyota-bakkie) 1:24:19, 3 Wido Bartch/Raymond Fourie (Skyway 4x2 Ford Courier-bakkie) 1:26:44, 4 Rolf Pretorius/Katja Pretorius (4x2 Nissan NP300-bakkie) 1:31:20.

CR2: 1 S. Labuschagne/L. Labuschagne (Gobabis Truct & Tractor V8 4x4 Landy) 1:17:50, 2 Gert Liebenberg/Johan Thiart (Hardap Freight Services V8 Tata-bakkie) 1:29:02.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!