Direkteur se kommissie laat trust steier
Die hof het Dinsdag die getuienis van die laaste getuie in die saak tussen die Michelle McLean Children's Trust en die trust se voormalige direkteur aangehoor.
Jacqueline Louw
Regter Thomas Masuku het Dinsdag die getuienis van mnr. Neil McHardy, 'n ouditeur verbonde aan die Suid-Afrikaanse ouditeursfirma PKF, aangehoor.
Dít in die saak waarin mnr. Danie Botes, die voormalige geldinsamelaar en direkteur van die Michelle McLean Children's Trust (MMCT), die trustees vir miljoene dagvaar.
Nadat Botes in September 2013 deur die trustees, mee. Michelle McLean, Connie Maritz, Selma Shejavali en mnr. Nic Kruger, geskors is en twee maande later afgedank is, het hy hulle vir skadevergoeding van nagenoeg N$14 miljoen gedagvaar vir onder meer sy verlies aan inkomste en pensioenfondsbydraes.
Die trustees voer aan Botes het homself ten bedrae van N$6,7 miljoen wederregtelik verryk deur geld wat hom nie toegekom het nie aan die trust te onttrek. Hulle eis ook 'n verdere N$1 miljoen vir 'n mislukte transaksie waarin 'n versekeringsmaatskappy, Lawsure, gekoop is.
Botes se skorsing het gevolg nadat die MMCT se ouditeure die trustees in kennis gestel het sekere onreëlmatighede het in die trust se boekhouding aan die lig gekom.
McHardy het onder meer getuig Botes het kommissie op BTW terugbetalings van die trust ontvang, wat 'n verdubbeling van sy kommissie beteken het omdat hy reeds 'n kommissie op die trust se inkomste verdien het.
Hy het verder getuig die partye se onderskeie rekenkundige deskundiges het verskillende benaderings gevolg wat tot verskillende resultate in hul verslae gelei het.
Ten einde hierdie verskille aan te spreek, het mnr. Hans Hashagen, 'n vennoot van PWC verbonde aan dié firma se afdeling vir forensiese dienste, en Hardy 'n gesamentlike notule by die hof ingedien waarin die items in dispuut en in ooreenstemming met betrekking tot Botes se eis, gedokumenteer word.
Die basis waarop Botes se kommissie tydens sy dienstydperk by die trust bereken behoort te word, is die groot twispunt tussen die partye.
Volgens die trustees moet sy kommissie op die netto inkomste van die trust bereken word, terwyl dit Botes se saak is dat dit op die bruto inkomste van die trust bereken moet word.
Omdat hierdie ooreenkoms nooit gedokumenteer is nie, sal die hof oor hierdie aspek moet beslis.
Me. Elise Hussenman, 'n voormalige boekhouer van die trust, het gedurende die verhoor getuig indien Botes 30% op die trust se bruto inkomste verdien het, sou dit die trust in 'n baie ongunstige finansiële posisie plaas.
Ter illustrasie het sy gesê indien 'n bruto inkomste van N$500 000 vir bv. 'n golfdag ingesamel is en die uitgawes N$400 000 beloop het, sou Botes se kommissie op N$500 000 bereken word. Hy sou dus N$150 000 verdien, wat die trust N$50 000 in die rooi sou laat.
Senior advokaat Michael Fitzgerald, wat namens Botes opgetree het, het gedurende die verhoor erg kapsie gemaak oor die term “onregmatige toe-eiening” (misappropriation) met betrekking tot Botes, wat in Kruger en McLean se getuieverklarings voorgekom het. Volgens hom is die geskil tussen die partye slegs 'n kommersiële dispuut.
Regter Masuku het die verhoor tot 8 November uitgestel wanneer die partye se regsverteenwoordigers die regter agter geslote deure sal ontmoet om op datums vir die partye se finale betoë ooreen te kom.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie