Dis 10 uit 10 vir 1ste motor in die ruimte

Elon Musk kry tien uit tien vir bemarking nadat SpaceX se Falcon Heavy-vuurpyl die afgelope week gelanseer is met 'n blinkrooi Tesla Roadster daarin, en só van 'n Tesla die eerste motor in die ruimte gemaak het.

“Om vandag mense se aandag te trek te midde van die oorlading van inligting wat ons beleef, is baie moeilik,” sê dr. Marietjie Theron-Wepener, 'n kenner van bemarking by die Universiteit Stellenbosch se bestuurskool.

Bemarkers soek alewig na iets ongewoon, iets nuut en selfs iets skokkends om die aandag op hul produk te vestig, sê sy.

Die Falcon Heavy-vuurpyl is verlede Dinsdag gelanseer. Sy bestemming is 'n elliptiese wentelbaan tussen die aarde en Mars. Dit kan vir honderde miljoene jare in dié wentelbaan bly, behalwe as die klein sportmotor iets sou tref.

Agter die stuur van die Tesla Roadster is 'n pop met die naam Starman in 'n ruimtepak soos dié van die ruimtevaarders op SpaceX se Crew Dragon-vlugte na die Internasionale Ruimtestasie.

Oor die luidsprekers het David Bowie se “Space Odity” gespeel en op die paneelbord is die woorde “Don't Panic” – 'n aanhaling uit Douglas Adams se The Hitchhiker's Guide to the Galaxy.

“Starman” is ook 'n verwysing na een van Bowie se liedjies.

Die Roadster is toegerus met drie kameras wat die sy-uitsig op pad na die elliptiese wentelbaan om die aarde, Mars en die son vasgelê het.

'n Byna onvernietigbare skyfie met 'n eksemplaar van Isaac Asimov se wetenskapfiksie-reeks Foundation is ook aan boord, asook 'n gedenkplaat met al die name van SpaceX se sowat 6 000 werknemers.

Dr. Marko van Deventer van die Noordwes-Universiteit se skool vir bestuurswetenskappe sê die bemarkingstoertjie is op nostalgie gebou. Dieselfde lanseerblad is gebruik as vir Apollo 11 met Neil Armstrong op pad na die maan. Dít, asook die Bowie-liedjie en Adams-aanhaling dui op nostalgie en laasgenoemde is ook 'n knipoog vir populêre kultuur.

“Die gebruik van die rooi Tesla is slim produkplasing deur Musk om sy ander maatskappy ook te bemark.”

Van Deventer sê 'n mens kan die publiek se aandag op 'n kognitiewe of 'n konatiewe manier kry. 'n Kognitiewe metode sal fokus op die wonderlike funksies van die produk. 'n Konatiewe metode bou op emosie en nostalgie: Dit wys jou hoe gelukkig jy kan wees as jy die produk gebruik.

Die Falcon Heavy is die wêreld se kragtigste vuurpyl in 45 jaar.

Mense het aan die kus van die Amerikaanse deelstaat Florida saamgedrom om te kyk hoe die vuurpyl om 15:45 (plaaslike tyd) die ruimte ingestuur is. Meer as 2,3 miljoen mense het die regstreekse uitsending van die lansering op YouTube gekyk.

– Netwerk24/Bloomberg

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!