Dis Bond. James Bond
Dis Bond. James Bond

Dis Bond. James Bond

[email protected]
Sanet de Waal
Gerine Hoff

As jy nog nie die nuwe James Bond-fliek (die 25ste in die franchise!) gaan kyk het nie, moenie verder lees nie, want hierdie rubriek bevat ’n “spoiler”.

Die baas het verlede Vrydag ’n klompie van ons “gestick” om dit te gaan kyk. Ek was opgewonde om dit te gaan kyk, omdat Bond-aanhangers al meer as 18 maande vir No Time to Die wag – dit nogal in 3D! En ons sien dit nog voor die Amerikaners– dit begin eers môre (Vrydag) daar draai.

Kyk, ons het van die begin af geweet hierdie is die laaste Bond-fliek met Daniel Craig in die hoofrol, maar niemand het verwag dit sou ons held se swanesang wees nie.

Die titel is ironies. Ja, 007 verloor vir die eerste keer in die 59-jarige filmgeskiedenis van die karakter (en 68-jarige literêre geskiedenis) sy lewe. Die titel het ons om die bos gelei! Ons gunstelingspioen se dood is ook seker; hy is ernstig deur Safin (wat is ’n Bond-fliek dan sonder ’n diaboliese skurk?) gewond en ’n vuurpylaanval het die eiland verwoes waarop ons geliefde agent was.

Tog het die legendariese spioen vrede met sy lot gemaak. Dalk omdat hy vir die eerste keer (sover ons weet) pa geword het, net om kort daarna afskeid van sy “baby mamma” en dogter te neem.

No Time to Die het ’n speeltyd van twee uur en 43 minute – dis ’n uur langer as Quantum of Solace, so dis die langste Bond-film nóg. Dit mag lank klink, maar daar word soveel in dié tyd ingepak, voor jy jou oë kan uitvee, is dit verby.

Natuurlik hoop ons Bond-aanhangers vir ’n opstanding; die regisseurs was nog altyd ietwat vaag in terme van kontinuïteit, met verskeie akteurs wat die rol van Bond al gespeel het: Sean Connery, George Lazenby (al was dit net een keer), Roger Moore, Timothy Dalton en Pierce Brosnan wat elkeen ’n unieke aanslag gehad het. En daar word nog vreeslik gedebateer oor wie die beste Bond was.

Die superspioen het al ’n paar ongewone dinge in sy grootskermlewe gedoen: Van laserstrale op ’n ruimtestasie ontwyk tot om met ’n onsigbare motor oor ’n gletser te ry. Twee dinge wat hy nog nooit gedoen het nie, is eerstens, om ontslae te raak van ’n robothaai met ’n atoombom in New York se rioolstelsel (hoewel dít amper gebeur het!), en tweedens, om die hede met die ewige te verwissel.

Ek dink vir meeste Bond-aanhangers is dit nog onwerklik.

Daar is wel ’n ligpunt: Blykbaar gaan die soektog na die volgende Bond volgende jaar begin, aldus vervaardigers Barbara Broccoli en Michael G Wilson. Wie sal dit wees? Dalk hierdie keer ’n vrou? Ons het immers nou al kennis gemaak met Nomi (Lashana Lynch), Bond se plaasvervanger in die 00-program.

Oor die fliek self, dalk het Vesper Lynd dit die beste in Casino Royale gestel: “There are dinner jackets and dinner jackets, and this is the latter.” Daar is Bond-flieks en Bond-flieks, en No Time to Die is beslis laasgenoemde.

Gaan kyk dit en geniet dit. Ten spyte van die trane wat stil-stil weggevee moet word.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!