• Tuisblad
  • Sake
  • Dis-Chem: R12,2 miljoen se afslag met petrol verdien

Dis-Chem: R12,2 miljoen se afslag met petrol verdien

Hanlie Stadler – Lede van Dis-Chem se lojaliteitsprogram het al punte verdien op 122 miljoen liter petrol sedert die program in Desember 2017 ’n vennootskap met Total aangegaan het.

Vir elke liter petrol wat kaarthouers by Total koop, kry hulle tien punte oftewel 10c afslag by Dis-Chem. Dit beteken Dis-Chem-klante wat hul kaarte by Total getrek het, het R12,2 miljoen se afslag by dié apteke verdien.

Nagenoeg 22 000 nuwe lede het by Dis-Chem se lojaliteitsprogram aangesluit danksy die vennootskap met Total.

Mense met lojaliteitskaarte is vir alle kleinhandelaars goud werd. Dis-Chem bereken dat hulle 72% tot hulle verkope in Dis-Chem-apteke bydra. Mense met Dis-Chem-kaarte bestee gemiddeld R315 per besoek; lede van ander lojaliteitsprogramme wat by Dis-Chem gebruik kan word, bestee gemiddeld R405 per besoek. Dis teenoor net R183 per besoek vir mense wat glad nie aan enige lojaliteitsprogram gehoort nie.

Dié syfers kom uit Dis-Chem se tussentydse resultate, vir die ses maande tot einde Augustus.

Daaruit lyk dit asof verkope by bestaande Dis-Chem-apteke stoom verloor het in die ses maande tot einde Augustus.

Verkope by apteke wat in dieselfde helfte van 2017 ook oop was, het met slegs 3,5% gegroei.

Verkope by ál Dis-Chem se apteke het met 9,8% tot R9,6 miljard gestyg. Die verskil wys dat dit nuwe apteke was wat verkoopsgroei by die groep aangedryf het.

Vergelykbare verkope word as ’n belangrike maatstaf beskou omdat dit wys hoe volhoubaar die voeteval na ’n winkel is – nuwe winkels lok dikwels mense wat openingspromosies kom benut, maar nie noodwendig gereelde kopers word nie.

Dis-Chem self sê sy volume verkope het in totaal met net 2,3% gestyg en pryse het gemiddeld met 1,2% gestyg.

In syfers

· Wesensverdienste per aandeel styg met 10,5% tot 51,7c

· Inkomste styg met 9,4% tot R10,5 miljard

· Kleinhandelsverkope styg met 9,8% tot R9,6 miljard

· Bedryfswins styg met 8,3% tot R700 miljoen

· ’n Tussentydse dividend van net minder as 21c per aandeel word uitgekeer

Die lae prysstygings is die gevolg van die baie lae enkeluitgangprys op medisyne wat in Maart vanjaar van krag geword het (van net 1,26%) – die regering reguleer met hoeveel medisyne duurder mag word.

Daarby sê Dis-Chem daar is baie strawwe mededinging in die kategorie vir toiletware en skoonheidsprodukte, waar Dis-Chem se grootste mededinger Clicks is. Clicks reik eersdaags sy halfjaarsyfers uit.

Ivan Saltzman, uitvoerende hoof, wys daarop dat verbruikers onder enorme druk verkeer weens die verhoging van belasting op toegevoegde waarde (BTW) in April en die skerp stygings in brandstofpryse vanjaar.

Nagenoeg 36,6% van Dis-Chem se verkope is medisyne, en daarvan is 45% voorskrifte vir chroniese medisyne.

Toiletware en skoonheidsprodukte is die tweede grootste verkopers, met 26,8% van verkope.

Dis-Chem sê hy het in al sy kategorieë markaandeel gewen. Altesame 22,7% van voorskrifmedisyne word nou by Dis-Chem verkoop (2017: 22%); 16,7% van toiletware en skoonheidsprodukte (2017: 15,4%); 45,6% van gesondheidsorg- en voedingsprodukte soos vitamiene en aanvullings (2017: 44,2%); en 9,8% van babasorgprodukte (2017: 9,5%).

Saltzman sê ná ’n droewige April en uiters moeilike Julie was daar in Augustus en September tekens dat verkope verbeter.

Die groep het sewe nuwe winkels geopen en het nou 136 winkels landwyd. Dit het egter ’n 13,2%-styging in die kleinhandelsafdeling se koste meegebring.

Groothandel

Benewens sy apteke doen Dis-Chem verslag oor sy groothandelsafdeling, wat produkte aan sy eie apteke en onafhanklike apteke lewer. Die afdeling se inkomste het met 15,1% tot R7,4 miljard gestyg.

Dis-Chem se groothandelsafdeling verskaf meer as 80% van die voorraad in die Dis-Chem-winkels.

Dié afdeling werk nog aan sy Kaapse verspreidingsentrum en nog een in Delmas, Mpumalanga, wat sy koste met 15,4% laat styg het.

Die afdeling se bedryfsverlies het tot R46 miljoen gestyg. Sy verlies voor rente, belasting, afskrywings en waardevermindering is R25 miljoen vir die ses maande, maar dit het ná die einde van die halfjaar gelyk gebreek.

Die groep wag vir die Mededingingskommissie se goedkeuring om die Wes-Kaapse groothandelaar Quénet’s aan te skaf, wat hy glo vir hom nog deure na verkope aan ander apteke sal open.

Vooruitsigte

Dis-Chem sê verkope vir die eerste ses weke van die tweede helfte van sy boekjaar het met 10,3% gegroei vergeleke met dieselfde ses weke van 2017. Dis weer eens aangedryf deur nuwe winkels, met vergelykbare verkope slegs 3,3% hoër.

“Die groep verwag dat verbruikers onder druk sal bly weens die voortgesette styging in brandstofpryse en die algemene lewenskoste. Soos voorheen sal die veerkragtige markte waarin die groep sake doen, beskerming bied teen die swak omgewing. Die groep is goed geplaas om voordeel te trek uit enige bykomende besteebare inkomste van verbruikers.”

Dis-Chem hou aan om winkels te open en wil teen die einde van die 2019-boekjaar minstens 151 winkels hê. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 35° Rundu: 19° | 35° Eenhana: 20° | 36° Oshakati: 23° | 35° Ruacana: 22° | 35° Tsumeb: 22° | 34° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 20° | 33° Gobabis: 21° | 33° Henties Bay: 16° | 24° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 15° | 23° Rehoboth: 21° | 33° Mariental: 21° | 37° Keetmanshoop: 21° | 38° Aranos: 22° | 37° Lüderitz: 14° | 25° Ariamsvlei: 20° | 39° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 35° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 17° | 29° Maseru: 16° | 31° Antananarivo: 16° | 32° Lilongwe: 21° | 33° Maputo: 21° | 32° Windhoek: 20° | 33° Cape Town: 16° | 25° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 16° | 31° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 20° | 32° Harare: 18° | 28° #REF! #REF!