Dis ek, Ana
Lloyd Zandberg
Elbie Lötter het in haar 2004-roman, Dis ek, Anna, die lewe van ’n vrou wat vanaf agtjarige ouderdom deur haar stiefpa verkrag en gemolesteer is, beskryf as “’n nagmerrie waaruit 'n mens nie kan wakker word” nie.
‘n Ander Anna woon tussen ons. Wie se naam met net een ‘n’ gespel word, maar ook erge trauma veroorsaak. Sy dwaal in die psige van verskeie mense en bou hoë mure wat selde die son inlaat.
Dié Ana is die personifikasie van die alombekende eetsteurnis anorexia nervosa, wat steeds deur te veel mense geag word 'n leefstylkeuse te wees, en nie 'n siekte wat behandeling benodig nie.
Ana is ‘n dief wat die gesonde selfbeeld en identiteit van die psige sonder blik of bloos steel. Sy klim in jou brein en maak nes.
Anoreksie is 'n sielkundige eetsteurnis waartydens 'n persoon obsessief is oor gewigsverlies en daardeur 'n absolute vrees vir eet ontwikkel. Die persoon hou later op eet.
Die steurnis kan maande of jare duur en baie min mense word ooit genees daarvan. Lyers het geen beheer daaroor nie, tensy hulle die regte hulp ontvang.
“Ana is ‘n demoon wat besit geneem het van my kind se denke. Ana is ‘n duisend stemme wat gelyk in haar kop praat, en vir haar sê sy mag nie eet nie. Al is sy briesend honger.” So vertel Lea Neethling*, ‘n magtelose ouer van ‘n anoreksielyer, aan Republikein.
Die lewe in die Neethling-huishouding het vier jaar terug drasties verander nadat Mieke* op skool anoreksie weens depressie ontwikkel het.
Nooit in haar wildste drome het Lea gedink dít gaan haar lewe wees nie.
“Mieke het opgehou eet en oormatig begin oefen. Sy was nog altyd ‘n maer kind, maar kinders het haar blykbaar ‘vet’ genoem. Dit was die begin van ‘n verskriklike siklus waaraan daar geen einde is nie,” sê Lea.
Daar bestaan ‘n wêreld van eetsteurnisse waaroor daar selde gepraat word, ‘n wêreld wat daagliks lewens oral in die wêreld insluk. Mieke woon al jare daar.
“Ek voel baie skuldig wanneer ek eet,” sê Lea toe ek versigtig begin krap. ‘n Kort, koue stilte volg voordat sy verduidelik. “Dit voel net nié regverdig om te eet terwyl jou kind honger ly nie.”
“Dit is nie maklik nie; dit is vir seker. Hoe doen jy so iets aan jouself?” vra sy my.
“Mense is vandag so onsensitief en hierdie siekte . . .”
Lea sê anoreksie is so erg soos kanker. Dit kan jou ook doodmaak.
“As jy kanker het, is almal onmiddellik simpatiek en doen hul bes om die lewe vir die persoon maklik te maak, maar my kind word soos iemand met melaatsheid gesien.”
'n Mens hoor én voel die frustrasie in haar stem.
“Die persepsie is dat anoreksie iets is wat jy aan jouself doen, en sodoende word dit nie ernstig opgeneem nie. Mieke sal nié doodgaan nie. Haar liggaam gee sy bes om haar noodsaklike organe soos die hart, lewer en niere aan die gang te hou. Die ander funksies is basies afgesny.
“Mieke se hare val uit. Haar vel is droog en haar breinfunksie word aangetas."
Benewens die fisieke gevolge van anoreksie, word Mieke se denke ook aangetas.
“Sy dink nie meer helder nie en het ook geen emosie. Sy is ‘n zombie en alles draai om kos.”
Ek val Lea in die rede. Hoe is dit moontlik: Iemand wat dan juis nie eet nie, is obsessief oor kos?
“Dis vir my ook 'weird' aangesien hulle glad nie eet nie. Maar in die spieël is sy vet.”
Hierdie toestand bestaan uit soveel meer as net iemand wat ontsaglik maer is. Uit die gesprek met Lea is dit duidelik die gebrek aan simpatie en begrip vir hierdie siekte is ewe erg.
“Niemand kon haar tot dusver help nie. Sy is al gehipnotiseer, maar dit het ook nie gehelp. Sy word omtrent elke twee maande gehospitaliseer waar sy basies net gestabiliseer en dan weer ontslaan word. As gevolg van die siekte het sy soveel mediese probleme.”
Samantha du Toit, ‘n bekende dieetkundige van Windhoek verbonde aan Eat Clean Namibia, verduidelik die toestand verskil van individu tot individu.
“'n Groot oorsaak van anoreksie is die algemene druk wat die media en ander bronne op ons mensdom sit om maer te wees. Die idee dat 'n mens net mooi kan wees as hulle maer is, speel ‘n geweldige rol. Maar ook komponente soos familieprobleme en perfektionistiese persoonlikhede.
Du Toit sê individue volg dan ongesonde diëte wat baie min kalorieë bevat.
“Dit word ‘fad’-diëte genoem. Dit word gebruik om so gou as moontlik gewig te verloor, en uiteindelik vorm ‘n abnormale patroon wat bestaan uit hopeloos te min voedselinname. Dit het ‘n groot invloed op die begin van hierdie sielkundige steurnis.
“Daar is standaardprosedures en toetse wat deur 'n algemene praktisyn gedoen kan word om te bepaal of 'n persoon 'n anoreksielyer is. Dit sluit in 'n fisieke assessering, bloedtoetse en 'n psigologiese evaluasie met standaardvereistes. Die uitslae van hierdie toetse dui gewoonlik baie duidelik aan dat die persoon nie net maer is nie, maar wel 'n angs- en eetsteurnis het.”
Du Toit werk gereeld met anoreksielyers, en het in haar loopbaan genadiglik nog nooit ‘n pasiënt met dié steurnis aan die dood afgestaan nie.
“Alle gevalle is vir my baie hartseer. Die persoon is so weerloos teen die toestand, al wil hulle graag beter word. Van die ergste gevalle is dié wat probeer selfdood pleeg, of wanneer die eetsteurnis verander in 'n alkohol- of dwelmprobleem.”
Vir enige ouer moet dit aaklig wees om 'n kind te sien ly. Ongeag waaraan en hoekom. Lea sê die feit dat mense openlik na Mieke staar, breek haar hart.
“Ek kan dit nie miskyk nie. Dit is ‘n geestelike siekte in die meeste ander lande en word nie uitgesonder as vreemd nie. Daar is selfs klinieke en hospitale wat toegewy is aan hierdie toestand.”
Waar kry Mieke hulp?
“Ek was baie bly toe daar vroeg in die jaar ‘n Mental Hospital Bel Esprit in Windhoek oopgemaak het. Dit was ‘n antwoord op my gebede.”
Ongelukkig het dit nie heeltemal so goed vir die Neethling-gesin uitgedraai nie.
“Ongelukkig kon hulle haar nie help omdat haar BMI (liggaamsmassa-indeks) te laag is, en volgens hulle sal niemand hier en selfs in Suid-Afrika haar help. Sy is te veel van ‘n risiko.
“Volgens die dokters kan sy enige tyd doodgaan, want haar hart sal net gaan staan. Ek weet nie wat om te doen.”
Ek huil vir Lea se part ook.
“Ana maak alles dood wat in haar pad kom, en dreineer ons energie. Dit is jou kind wat stadig maar seker besig is om haar eie doodsbed op te maak. En my hande is vasgebind.
“Ek wil net die beste vir Mieke hê.” Ek hoor weer die pyn van vroeër.
In die Neethlings se familie is geen geskiedenis van die eetsteurnis nie, maar Du Toit sê daar is definitief 'n genetiese komponent aan anoreksie verbonde.
“Daar is 'n groter kans vir ‘n persoon om dit te ontwikkel as daar 'n familiegeskiedenis is.”
Sy sê dit sal nie ontwikkel as daar nie ander komponente betrokke is nie, soos onder meer die druk om maer te wees, familieprobleme en perfektionistiese persoonlikhede.
Die toestand kom veral onder mense op die ouderdom van 16 en 17 voor, maar du Toit het al 'n 12-jarige as pasiënt gehad.
“Hartsiektes is die hoofoorsaak van dood onder mense met ernstige anorexia nervosa. Een van die mees algemene negatiewe effekte van anoreksie is bradikardie.
“Dit is 'n abnormale traagheid van die hartritmes, onder 60 slae per minuut. 'n Normale tempo kan wissel van 60 tot 100 slae per minuut. Wanneer die vloei van bloed verminder word en die bloeddruk daal tot 'n gevaarlike tempo, word die hart swakker en krimp.
“Een van die primêre gevare vir die hart spruit uit 'n gebrek aan balans van nodige minerale soos kalium, kalsium, magnesium en fosfaat. Hierdie minerale los gewoonlik in liggaamsvloeistowwe op, maar met die dehidrasie en hongersnood wat tydens hierdie eetversteuring plaasvind, skep die verlaging van vloeistowwe en mineraalvlakke 'n toestand genaamd elektrolietwanbalans.
“Sommige elektroliete, soos kalsium en kalium, is noodsaaklik vir die vervaardiging van die elektriese strome wat die liggaam benodig om 'n normale hartklop te behou. Daarom kan 'n wanbalans van elektroliete so gevaarlik wees. Dit kan lei tot 'n lewensgevaarlike toestand as hierdie vloeistowwe en minerale nie vervang word nie. Hartkomplikasies is 'n groter risiko wanneer anoreksie vererger word deur gedrag wat verband hou met bulimie en die gebruik van Ipecac, 'n geneesmiddel wat braking veroorsaak”
Is daar 'n lig aan die einde van die tonnel?
“Ja, tot 'n sekere mate dink ek daar is. Met die regte span kan die meeste mense gehelp word om die kondisie in remissie te kry,” sê Du Toit.
"Die herstelproses is gewoonlik baie stadig en geleidelik. As die persoon in 'n hospitaal opgeneem word en buisvoeding gegee word deur iemand wat dalk nie die regte kennis of ervaring het nie, kan 'n groot volume en hoë konsentrasie voedingstowwe veroorsaak dat die vlakke van natrium, kalium en magnesium gevaarlik laag daal. Ons noem dit in Engels ‘refeeding syndrome’ en dit is potensieel lewensgevaarlik.
“Dus is daar protokolle ingestel om buisvoeding baie stadig en met 'n lae volume te begin. Buisvoeding op sy eie is glad nie die antwoord vir die probleem nie, maar saam met ander vorms van terapie kan dit behulpsaam wees."
Du Toit se raad aan anreksielyers is om gereeld hulp van professionele gesondheidswerkers te ontvang.
“Dit sluit dokters, sielkundiges en dieetkundiges in.
“Die dieetkundige help die persoon om te besef watter gedrag rondom kos abnormaal en ongesond is, gee raad oor hoe om aan hierdie gedrag te werk en monitor hulle dan gereeld.
“Byvoorbeeld, as die persoon 'n reël het om altyd 'n bietjie kos op die bord te los, sal ek hulle aanmoedig om minder te skep en hulself uit te daag om alles op die bord klaar te maak. Hulle moet dan daarmee aanhou totdat dit al hoe minder angs veroorsaak,” sê Du Toit.
“Dit is 'n baie moeilike proses vir iemand wat een maal 'n week vir terapie gaan.
“Ek voel dit is van groot hulp as die persoon vir 'n tydperk in 'n spesiale inrigting opgeneem word waar meer intensiewe terapie daagliks gedoen kan word.”
Lea sê Mieke verdien al die geluk en liefde in die wêreld, want sy het so baie talente.
“Sy het so baie skoonheid gekry . . . wat in hierdie proses heeltemal vernietig is.”
Een van Lea se grootste wense is dat sy haar kind kan terugkry, so liefdevol en gesond soos wat sy was.
En soos wat “Dis ek” in die titel van Lötter se roman ’n terugeis van die self impliseer, ’n terugeis van die gesonde selfbeeld en identiteit wat klein-klein doodgegaan het, is Lea se raad aan ander Anas van die lewe: Leer vir Ana ken en probeer verstaan wat sy aan die psige van jou broer, ma, suster, oom, tannie, niggie, nefie, vriend en pa doen.
“Sluit ook aan by ondersteuningsgroepe vir spesifieke eetsteurnisse.”
Die mens kan net soveel hanteer. Ons is nie gemaak om konstant trauma, hartseer, ellende en negatiwiteit te ervaar nie. Dis normaal om te wonder of Lea nie al handdoek wou ingooi nie.
“Ek wou al baie, maar ek weet die Here hou definitief my en Mieke se hand vas en ek sou dit daarsonder nie kon oorleef nie.”
(*Regte name op versoek verander.)

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie