'Dis mý manier' - Donald Trump
Die nuwe president van Amerika is Vrydag ingehuldig en gister het sowat 500 000 vroue na die hoofstad opgeruk vir 'n saamtrek teen hom en die regte van vroue.
Erika Gibson - Donald Trump het sy presidentstermyn begin met 'n veglustige, populistiese toespraak wat gemik was op sy gegriefde ondersteuners en weinig poging aangewend het om uit te reik buite sy politieke dampkring of buitelandse leiers gerus te stel.
In sy inhuldigingstoespraak Vrydag in Washington DC het hy 'n onheilspellende prentjie geskets van die land wat hy nou regeer: 'n Plek van gewelddadige “Amerikaanse doodslag” waar “geroesde fabrieke” soos “grafstene” gestrooi lê en die middelklas se rykdom “uit hul huishoudings geruk word”.
Die skare was heelwat kleiner as toe oudpres. Barack Obama, sy voorganger, presies agt jaar gelede ingehuldig is.
Terwyl Obama enkele treë agter hom gesit het, het Trump 'n onapologetiese nasionalisme beloof wat Amerikaanse nywerhede sal beskerm, en 'n buitelandse beleid wat Islamitiese terreur sal “uitwis” en die land se belange bo dié van alle ander sal stel.
Sy woorde was skaars koud toe die eerste betogings in Washington begin het. Gister het sowat 500 000 vroue ook na die Amerikaanse hoofstad gestroom vir 'n saamtrek teen Trump en vir die regte van vroue. Dit het selfs gelyk asof meer mense by gister se opmars sou opdaag as wat Vrydag na Trump geluister het.
Trump se toespraak was grootliks 'n aanval op die politieke establishment wat volgens hom sy eie belange nagejaag het ten koste van die Amerikaanse nasie.
“Vandag dra ons nie bloot die mag oor van een administrasie na 'n ander of van een party na 'n ander nie, ons dra die mag oor van Washington en gee dit terug aan julle, die mense,” het hy gesê.
Enigiemand wat na politieke gematigdheid gesoek het, sou dit nie gevind het nie.
Trump (70), wat nog nooit in 'n verkose amp gedien het nie, betree die Withuis met 'n geskiedkundige lae volksteun. 'n Meningspeiling deur Fox News, wat Trump goedgesind is, het Vrydag gewys slegs 37% van Amerikaners steun hom. Ander peilings het gewissel tussen 40% en 44%. Agt jaar gelede was die vergelykbare syfer vir Obama 80%. Maar Trump, wat 60 miljoen stemme getrek het in November teenoor Hillary Clinton se 63 miljoen, steur hom nie aan peilings nie. Hy het net op sy basis gefokus: die “vergete mans en vroue” van Amerika.
“Julle sal nie meer vergete wees nie,” het hy gesê soos sagte reën begin uitsak het.
“Almal luister nou na julle.”
Later Vrydagaand het Trump en sy vrou, Melania, drie inhuldigingsbankette bygewoon.
“Mense wat voorheen nie so gaaf met my was nie, het gesê ons het vandag regtig goed gedoen,” het hy by die Liberty-bal gesê voor hy en Melania begin dans het op die maat van Frank Sinatra se lied “My Way”.
“Julle gaan só gelukkig wees,” het hy aan sy ondersteuners gesê. “Ons wil Amerika weer 'n grootse land maak. Ons gaan nie speletjies speel nie. Ons gaan resultate lewer.”
In The Washington Post is geskryf: “Of Trumpisme op die ou end gedefinieer sal word as 'n lewenskragtige patriotisme of 'n kwaadaardige nasionalisme, sal nog duidelik word, maar die eerste president wat verkies word sonder enige regering- of militêre ervaring het gewys hy sal regeer met die krag van sy persoonlikheid en die mag van sy reguit, soms onsmaaklike, taalgebruik.” – Netwerk24/Nampa/Reuters/Bloomberg/The New York Times/The Daily Beast

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie