• Tuisblad
  • Sake
  • Dis nie goedkoop om Kersvader Bpk. te wees nie
Dis nie goedkoop om Kersvader Bpk. te wees nie
Dis nie goedkoop om Kersvader Bpk. te wees nie

Dis nie goedkoop om Kersvader Bpk. te wees nie

Ou Langbaard bestee waarskynlik sowat $35,2 miljard daaraan om speelgoed te vervaardig en te verpak.
Elvira Wood – Al ooit gewonder hoe Kersvader Bpk. se finansiële state lyk?

Hoewel ou Langbaard nie sy state op die JSE se nuusdiens, Sens, publiseer nie en sy elf aan die hoof van finansiële sake nie antwoord op ’n e-pos-navraag nie, probeer Netwerk24 dié feestyd ’n ingeligte raaiskoot waag oor presies hoe dié “maatskappy” se finansiële state sou lyk.

Die begroting is in Amerikaanse dollar bereken omdat sy bedrywighede wêreldwyd strek.

Hoe groot is sy mark?

Om sy bedryfskoste te bereken, moet ons eerstens bepaal hoeveel kinders daar in die wêreld is.

Volgens Statistica.com is sowat 26% van die wêreld se bevolking jonger as 15 jaar. Met sowat 7,7 miljard mense op die aardbol kom dit neer op sowat 2,2 miljard “kliënte” aan wie Kersvader presente moet aflewer.

Ons maak twee aannames: Teen 15 glo die meeste kinders nie meer in Kersvader nie en stuur sommer hul lysies regstreeks aan hul ouers via WhatsApp of ander tegnologie. En alle kinders was natuurlik deur die loop van die jaar soet . . .

Hoeveel sou dit Kersvader kos om ’n geskenk te maak?

Speelgoedvervaardigers soos Mattel, wat Barbie-poppe maak, sê nie hoeveel dit hulle kos om so ’n pop te maak nie. Die poppe verkoop wel teen sowat $20. Gestel hulle het ’n winsmarge van 20%, kom dit neer op ’n koste van sowat $16 per pop.

As dié bedrag as maatstaf gebruik word om die vervaardigingskoste van alle speelgoed te bereken, beteken dit Kersvader bestee waarskynlik sowat $35,2 miljard om speelgoed te vervaardig en te verpak.

Hy kan dit tog nie alleen doen nie

Dit is alombekend dat Kersvader ’n groot arbeidsmag in die vorm van elwe het. Geen mens weet hoeveel elwe hy het nie, maar ons kan ’n ingeligte raaiskoot waag.

As ons Suid-Afrika se kalender gebruik waarvolgens daar die afgelope jaar 250 werkdae was, kom dit neer op 8,8 miljoen geskenke per dag om 2,2 miljard kinderharte bly te maak. Teen ’n arbeidsmag van 100 000 elwe, moet elkeen dus 88 geskenke per dag maak. Dit is heel moontlik omdat almal weet elwe is harde werkers.

Gestel Kersvader betaal net Suid-Afrika se minimum loon ($277 per maand in dollar), kom dit neer op ’n loonrekening van $332,4 miljoen per jaar.

As Kersvader die Sapphire-opsie van Gems, Suid-Afrika se mediese fonds vir staatsamptenare, vir die elwe kies, sal dit hom nog $36 miljoen per jaar uit die sak jaag.

Logistiek

Kersvader gebruik ’n unieke manier om presente af te lewer – per slee met takbokke.

Omdat niemand anders dit só doen nie, is dit onbekend hoeveel hulle hom kos, maar dis waarskynlik minimaal vergeleke met tradisionele vorme van vragvervoer, soos skepe of vliegtuie.

Die diere het tog versorging nodig, so ons het gaan kers opsteek oor wat dit kos om ’n resiesperd per jaar te versorg – $29 000 volgens die Britse resiesperdvereniging. Die koste vir Kersvader se agt takbokke kan dus sowat $230 000 per jaar beloop.

Versekering

Kersvader kan nie die risiko loop dat enige ramp sy onderneming nadelig beïnvloed nie.

Die Britse bloemis Serenata Flowers het in 2017 as deel van navorsing oor wat hy dink Kersvader se begroting is, die versekeraar Towergate genader oor die moontlike versekeringskoste wat met ’n onderneming van dié omvang gepaard sou gaan.

Volgens Towergate sal die totale versekering – alles van fabrieke, reise tot die takbokke se veeartskoste – sowat $35,8 miljoen per jaar beloop.

Tegnologie

Kinders stuur graag briefies aan Kersvader met lysies van die geskenke waarop hulle hul hart gesit het. Baie van dié briefies word waarskynlik vandag eerder via digitale kanale as met die tradisionele posdiens gestuur.

Facebook het luidens sy nuutste resultate sowat dieselfde getal daaglikse gebruikers as wat daar kinders onder 15 op aarde is. ’n Mens kan dus aanneem dat Kersvader se begroting vir inligtings- en kommunikasietegnologie (IKT) soortgelyk sal wees aan dié van Facebook.

Luidens Facebook se finansiële state vir die derde kwartaal van 2018 beloop sy kapitaaluitgawes vir die jaar $3,8 miljard.

Die hoof-IKT-elf het egter nie op enige e-pos-navrae gereageer nie. Die berig sal bygewerk word indien ons wel ’n antwoord kry.

Totale uitgawes

Bymekaar getel kom dit daarop neer dat Kersvader sowat $39,4 miljard per jaar bestee om seker te maak alle kinders op die aardbol kry ’n geskenk.

Dit beteken Kersvader sal Jeff Bezos, tans die wêreld se rykste man, se geskatte private fortuin van sowat $139 miljard binne 3,5 jaar bestee.

Kersvader Bpk. is ’n organisasie sonder winsbejag. Hy betaal dus nie belasting nie.

Inkomste

So, waar kry Kersvader sy geld vandaan? Daar is verskeie moontlikhede.

Kersvader verdien waarskynlik kommissie op alle Kersversierings wat wêreldwyd verkoop word.

Geen mens weet egter hoeveel jaarliks wêreldwyd aan Kersversierings bestee word nie.

ThoughtCo, ’n opvoedkundige webwerf, reken in Amerika word sowat $2,2 miljard per jaar net aan Kersbome bestee. Geëkstrapoleer na die res van die wêreld en alle Kersversierings – tog seker Krismisklappers en -hoedjies ook – moet selfs ’n kommissie van net 1% ’n stewige bydrae tot Kersvader se banksaldo lewer.

Verder verdien hy waarskynlik ook tantieme uit alle rolprente en musiek wat oor Kersfees handel.

Luidens Box Office Mojo beloop die totale inkomste van alle rolprente met Kersfees as tema wat sedert 1980 uitgereik is, tans sowat $3 278 miljard. Dan is musiek nog nie eens ingereken nie.

Kersvader het waarskynlik ook aandele in groot maatskappye soos Disney, Facebook, Mattel en vele ander, waaruit hy dus dividende verdien.

Hy verdien ook waarskynlik kommissie uit talle apps en rekenaarspeletjies wat die laaste paar jaar ontwikkel is.

Sy verskynings aan die einde van die jaar om elke hoek en draai oor die wêreld heen moet ook ’n inkomste genereer.

Die heel grootste deel van Kersvader se inkomste kom waarskynlik van maatskappye en individue wat nie skroom om hul beursies oor die feestyd oop te maak om geskenke vir veral minderbevoorregte kinders te koop nie. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!