Dis toe nie soos om fiets te ry nie
Estelle de Bruyn - Met tydsones en internasionale reise verskuif tyd en dit speel speletjies met 'n mens se kop.
Woensdag om middernag klim ek op 'n vliegtuig in Hongkong om terug te vlieg huis toe. Dis 'n vlug van meer as 12 ure, maar ek land 07:00 Donderdag in Johannesburg en die middag vlieg ek terug Windhoek toe. Dis 18:00 in Windhoek en twee dae gelede het ek aan boord die vliegtuig gegaan en op 'n aanloopbaan oor Suid-China opgestyg op pad huis toe, maar dit voel soos gister.
Om te kan reis, bly een van die ongelooflikste avonture.
Met die aankoms in Hongkong tref die hitte en humiditeit 'n mens soos 'n voorhamer teen die kop as 'n mens uit die koel, lugverkoelde eindpuntgebou stap.
Hongkong is 'n voormalige Britse kolonie en gevolglik is die meeste aanwysings in Engels en Kantonees. Die motors ry aan die linkerkant van die pad, wat 'n mens tot 'n mate tuis laat voel.
Maar verder is die kontras so groot dat dit dreig om jou voete onder jou uit te vat.
My kind kom laai my by die lughawe op en ons ry met 'n kronkelpad deur landelike nedersettings en gebiede met toringhoë woonstelblokke na Mui Wo op Lantau-suid eiland, waar hulle woon.
Ons parkeer en toe tref die skok. 'n Mens parkeer nie langs of voor jou huis nie, maar omtrent 'n kilometer ver, want spasie is 'n probleem en parkeerplek is 'n luukse. Ons sleep my bagasie te voet na hul huis.
Dis nie maklik nie, want my tas is swaar. Ek het 'n gevriesde skaapboud, vyf pakke boerewors, langlewe melk, Oros-aanmaakkoeldrank, pakke droëwors en biltong, kaas en verjaardaggeskenke ingepak.
Uiteindelik in haar huis ontlaai ek al die proviand waarna 'n kind in die vreemde verlang.
Ná 'n redelike klimatisering, gaan swem ek in die Suid-Chinese see. Silver Mine Beach se see is nie Langstrand se see nie. 'n Mens stap omtrent 'n kilometer in enkeldiep louwarm water en dan word dit geleidelik kniediep, en dan gee 'n mens op en dryf maar sommer so bietjie rond en dan pak jy weer die pad terug strand toe aan. Teen die tyd dat jy jou klere en handdoek opgetel het en oor die strand teruggestap het huis toe, is jy net so warm en natgesweet soos toe jy die tog see toe aangepak het.
Te fiets pak ek en my dogter die tog winkels toe aan. Dis meer as 30 jaar wat ek laas op 'n fiets was en glo my vry, daardie gesegde "it's like riding a bicycle” is nie waar nie!
Met 'n groot gesukkel het ek dit uiteindelik onder die knie gekry. Teen die derde dag is my selfvertroue meer as my vermoë en op pad na die nedersetting slaat ek in die pad neer en koop my eie stukkie Hongkong-grond op skouspelagtige manier.
Toe maar weer opgestaan, en met my ego, wat seerder as my knie gekry het, opgeklim en versigtig verder gery.
Nou ja, 'n mens is seker nooit te oud om (weer) te leer nie.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie