Dispuut oor Kommando-grond verklaar
Dispuut oor Kommando-grond verklaar

Dispuut oor Kommando-grond verklaar

Die opperhoof van die Ovaherero, adv. Vekuii Rukoro, sê nie die regering óf die kantoor van die prokureur-generaal het ’n sê in ’n private transaksie nie.
Jo-Mare Duddy Booysen
Catherine Sasman – Die Maharero koningshuis se tradisionele owerheid het ’n dispuut teen die munisipaliteit van Okahandja verklaar oor die verkoop van erf 1755 in die Nau-Aib-woonbuurt aan die Ovaherero tradisionele owerheid (OTA).

Die Maharero se regsverteenwoordiger, Shikale & Vennote, het op 20 Oktober ’n brief aan die munisipaliteit gerig waarin die dispuut verklaar word, met die argument dat die verkoop aan die OTA "nietig" is aangesien dit onder andere nooit geadverteer is, of deur die minister van stedelike en landelike ontwikkeling, me. Sophia Shaningwa, goedgekeur is nie.

Die Maharero meen dus die erf behoort nog steeds aan die munisipaliteit.

Die prokureurgeneraal (PG), mnr. Sacky Shanghala, het in ’n brief van 18 Oktober aan Shaningwa se kantoor, gesê die verkoop van die erf aan die OTA in Desember 2014 is “weens verskeie redes nietig”.

Shanghala het gesê hoewel die erf tans in die besit van die OTA is, die OTA “geen reg” het om daarop te bly nie en dat die munisipaliteit van Okahandja onmiddellik regtelike stappe moet neem om die tradisionele owerheid van die erf uit te sit.

Hy het aanbeveel die munisipale raad plaas die uitsettingsvoorstel so gou as moontlik op sy agenda en "om ’n voorstel te aanvaar om die nodige regstappe te neem" om die uitsetting te bewerkstellig.

Shaningwa het op dieselfde dag (18 Oktober) aan die burgemeester van Okahandja, mnr. Johannes Congo Hindjou geskryf, om Shanghala se voorstel oor te dra.

Die opperhoof van die Ovaherero, adv. Vekuii Rukuro, het gesê die kooptransaksie tussen die munisipaliteit en die OTA was “deursigtig” en het teen ’n markverwant prys en op kommersiële terme geskied.

“Die OTA het die erf helder oordag gekoop. Ons beskik oor ’n koopkontrak en het okkupasiereg. Dit is onredelik van die minister om haar goedkeuring vir die transaksie te weerhou en enige hoërhof sal bevind sy het nie ’n voet om op te staan nie. Die voorwaardes is presies dieselfde as dié waaronder honderde ander transaksies in Okahandja en ander dorpe geskied en wat die minister toegelaat het,” het Rukoro gesê.

PG meng by stam sake in

In ’n aanval op Shanghala, het Rukoro gesê die PG moet die wet onderhou, veral artikel 10 van die Namibiese grondwet, wat diskriminasie en ongelyke behandeling van ander verbied.

Rukoro het gesê Shanghala se raad aan Shangingwa kom neer op inmenging in ’n private transaksie en dat hy dus die eiendomsregte van die OTA as ’n belegger oortree.

Hy het gesê nie Shanghala óf Shaningwa het in hul skrywes ’n enkele rede gegee hoekom die OTA van erf 1755 uitgesit moet word nie.

Rukoro het gesê terwyl die Maharero koningshuis binne sy regte opgetree het om ''''n beswaar teen die verkoop van die erf aan die OTA in te dien, die munisipaliteit van Okahandja ook binne sy regte was om dié beswaar te verwerp.

“Wanneer alles in ag geneem word, waar kom die regering in?” wou Rukoro weet. Hy het bygevoeg die PG se kantoor “maak homself goedkoop”.

“Die munisipaliteit het sy eie prokureurs en sê die transaksie met die OTA is bo verdenking. Dit is duidelik die PG voer instruksies van ’n hoër gesag uit, wat daarop uit is om pres. Hage Geingob se naam swart te smeer aangesien hierdie saak op die ou einde in die hof gaan eindig,” het Rukoro gesê.

Hy het voorts gesê Shanghala “meng homself by stam sake in” en sy “ongevraagde politieke inmenging gaan meebring dat ander stories sal uitkom”.

Gevra wat hy hiermee bedoel, het Rukoro gesê daar was ’n “derde magselement” in die regering wat daarop uit is om onstabiliteit in Geingob se administrasie te veroorsaak, terwyl die president die nasie in ’n verskillende rigting vir vrede en insluiting wil neem.

Hy het gesê die sogenaamde derde mag beplan om “die regering in die verleentheid te bring om ’n klein kliek met politieke verbintenisse te beskerm”.

“Laat hulle doen wat hulle wil; geregtigheid sal seëvier,” het hy gesê.

Hoewel hy nie name wou noem nie, het hy gesê die sogenaamde destabiliserende "derde mag" is welbekend en het alle respek onder gewone Namibiërs verloor.

“Dit is nie net ek nie, maar ander uit die regslui wat nie beïndruk is met die PG se kantoor oor hierdie aangeleentheid nie,” het Rukoro gesê.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!