Dispuut oor malaria-inentingsprojek in Afrika
Dispuut oor malaria-inentingsprojek in Afrika

Dispuut oor malaria-inentingsprojek in Afrika

Kommer heers oor die lang proeftydperk vir die gebruik van die wêreld se eerste entstof teen malaria voordat ‘n besluit daaroor geneem gaan word.
Daar is ’n dispuut oor die proeftydperk van drie tot vier jaar vir die malaria-inentingsprojek in Afrika voordat besluit kan word of die resultaat die moeite werd is.

Die entstof word RTS,S genoem en het deur die jare meer as $700 miljoen gekos om te ontwikkel, berig die vaktydskrif Nature.

Om te werk, moet mense vier inspuitings oor 18 maande kry.

“Ons moet die hele proses herbedink. Ons kan nie van die farmaseutiese bedryf verwag om 30 jaar te werk aan ’n entstof en dit dan net drie tot vier jaar te gebruik om tot ’n besluit te kom nie,” sê James Tibenderana, tegniese direkteur van die Malaria-konsortium in Londen.

Tibenderana het aan die vaktydskrif Nature gesê beamptes van malariabeheeragentskappe in Afrika is bekommerd oor hoe hulle ’n multidosis-entstof gaan bekostig terwyl hulle nog sukkel om selfs muskietnette en medisyne te kry om gewone infeksies mee te behandel.

Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) het reeds vroeër aangekondig dat kinders in drie Afrikalande as deel van ’n groot gidsprojek met die wêreld se eerste entstof teen malaria ingeënt gaan word.

In Malawi is reeds begin om kinders jonger as twee jaar oud in te ent, en Kenia en Ghana begin binnekort daarmee. Sowat 360 000 kinders sal ingeënt word, berig CNN.

In vier uit elke tien gevalle voorkom die entstof malaria, sê die WGO.

“Dit het die potensiaal om tienduisende kinders se lewe te red,” sê dr. Tedros Adhanom, direkteur van die WGO.

Malaria is een van die wêreld se dodelikste siektes en eis elke twee minute ’n kind se lewe, van wie die meeste in Afrika is, berig ReliefWeb.

“Hierdie deurbraak in die beheer van malaria is die hoogtepunt van 30 jaar se pogings om ’n entstof te ontwikkel,” het dr. Owen Kaluwa, die WGO se verteenwoordiger in Ghana, gesê.

“Ons is baie trots daarop dat die entstof gebruik word, maar hierdie soort poging kan nie herhaal word nie. Ons moet ander maniere vind,” het Thomas Breuer, mediese hoof van die farmaseutiese maatskappy GlaxoSmithKline, gesê.

Navorsers bevraagteken die wysheid daarvan om tyd en geld te bestee aan die gidsprogram terwyl ’n paar ander effektiewer entstowwe tans klinies getoets word en gereed sal wees teen die tyd dat die proeftydperk verby is.

Hulle sê die dekades lange poging om RTS,S te begin gebruik wys op die stadige vordering van entstowwe vir siektes wat die wêreld se armes raak en wys duidelik dat effektiewer alternatiewe nodig is. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!