Distell neem 'moeilike besluit' oor wynplase
Nederburg gaan een van die wynplase wees wat behou word en deel van Distell se portefeulje van duurder wyne gaan wees.
Nellie Brand-Jonker
Die Stellenbosse drankgroep Distell het Donderdag meer inligting aan beleggers gegee oor sy besluit om na dekades in die wynbedryf van sy wynplase te verkoop.
“As jy op of in die omgewing van Stellenbosch bly, sou jy seker die geraas gehoor het oor wat Distell met sy wynportefeulje doen,” het Richard Ruston, besturende direkteur, aan beleggers gesê.
Hy het bevestig hulle verkoop van hul wynplase en handelsname om die wynportefeulje te herfokus.
“Dit is 'n geval van ons wat ons wynportefeulje herfokus eerder as wat ons nie meer op wyn gaan fokus nie,” het hy verduidelik.
Hy het erken hul stilswye oor die besluit tot dusver het dalk kommer in die wynbedryf laat ontstaan oor wat aan die gang is.
Netwerk24 het 'n jaar gelede in Augustus berig Distell het stil-stil van sy wynplase in die mark gesit.
“Dit is 'n moeilike besluit vir ons. Hierdie bates is deel van ons geskiedenis en erfenis vir baie dekades. Maar dit is positief, want dit sal help om ons wynverkope te groei.”
Ruston sê hulle kon weens die onderhandelinge nie tot dusver meer inligting bekend maak nie, maar sal nou met die geaffekteerde partye in die wynbedryf praat.
Nederburg bly
Distell se plase sluit in Plaisir de Merle, Lomond, Papkuilsfontein, Durbanville Hills, Groenhof, Nederburg en Fleur du Cap.
Van die plase wat verkoop gaan word, is in 'n vennootskap gehou en sluit Stellenzicht, Neethlingshof, Uitkyk, Le Bonheur en Alto in.
Ruston sê Le Bonheur is reeds verkoop en hulle is besig om Stellenzicht te verkoop.
Alto gaan gehou word omdat dit as 'n belangrike handelsmerk beskou word en die plaas se terroir belangrik vir sy rooiwyn en cabernet sauvignon is.
Nederburg en Durbanville Hills gaan ook nie verkoop word nie.
Plaisir de Merle gaan ook behou word omdat sy terroir belangrik is vir Nederburg se duurder wyne.
Sy portefeulje van duurder wyne gaan nou net Nederburg, Durbanville Hills, Alto en Fleur du Cap wees.
Die wyne gaan in 'n afdeling geplaas word waar die bestuur van “grond tot bottel” gedoen kan word en uitvoer van die wyn verhoog kan word.
Bemagtiging
Volgens hom is China 'n uitvoermark waarop hulle op lang termyn gaan fokus. Omdat die regering se ondersteuning nodig is om voorkeurtoegang in die mark te kry, gaan Distell van die plase wat hy wil verkoop, vir bemagtigingstransaksies gebruik.
Hy sê 'n aankondiging gaan binnekort gedoen word.
Ruston het met die aanbieding van die maatskappy se resultate vir die jaar tot einde Junie gesê Distell het histories gefokus op “bateryke verkrygings” soos die konjakmaker Bisquit wat in 2009 vir R400 miljoen gekoop is en die whiskymaker Burn Stewart wat in 2013 vir R2,2 miljard gekoop is om sy uitbreiding aan te dryf.
Brandewynverkope groei weer in Suid-Afrika danksy Distell se Viceroy wat met 70% gegroei het.
Dit, saam met die wynplase vir die premiewyne, het die afgelope jare veroorsaak dat sy opbrengs op bates gedaal het. Sy belegging in Bisquit word nou ook afgeskryf.
Hoofstroom belangrik
Hy sê die fokus om wins volhoubaarder te laat groei, sal oor drie jaar verseker dat Distell ten opsigte van sy bates en portefeulje 'n baie ander maatskappy as vandag is.
Hy beklemtoon wyn is steeds baie belangrik vir Distell omdat sowat 'n derde van sy inkomste en wins uit wynverkope kom.
Ruston sê Distell se wynverkope het in die afgelope jaar beter groei as die res van die mark getoon, danksy die voortgesette dubbelsyfergroei van 4th Street-wyn.
Hy sê van die ander handelsname wat nou goeie groei toon, is Drostdy-Hof Adelpracht, Tassenberg, Paarl Perlé en Autumn Harvest.
Dié wyne is van die hoofstroom of goedkoper handelsname waarop Distell ook in Suid-Afrika en Afrika wil fokus.
Brandewyn styg weer
Ruston sê hulle kan vanjaar met groter selfvertroue sê brandwynverkope se daling is omgekeer.
Brandewyn se volumegroei was net onder 5% – dit is meegebring deur Viceroy wat volumes met 70% verhoog het. Volgens hom is dit gedoen deur die vyf jaar oue Viceroy se prys op R100 te hou.
Met die groei in die brandewynkategorie kan hulle begin met die ontwikkeling van premium produkte soos die nuwe drie jaar oue Viceroy en 'n prysverhoging van die vyf jaar oue Viceroy.
Die duurder Klipdrift en Richelieu se volumes is dieselfde gehou. – Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie