• Tuisblad
  • Weer
  • ‘Dit het geklink of klomp Boeings oorvlieg’

‘Dit het geklink of klomp Boeings oorvlieg’

’n Haelbui het Saterdag ’n wit kleed oor ’n gebied in die Kalahari getrek.
Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer - Namibië se grootste koolboer staan verstom oor “die magtigheid van die natuur” ná ’n haelbui die rooi Kalahari-sandduine op sy plaas “soos die sprokiesmooie Switserse Alpe” laat lyk het.

Al het mnr. Francois Janse van Rensburg nagenoeg N$1 miljoen se skade gely toe die haelkorrels 60 000 jong koolplantjies vernietig het, sê hy: “Daar is soveel hartseer op die oomblik in die wêreld dat ek eerder hierdie finansiële terugslag vat voor ek die hartseer vat wat die coronavirus bring.”

Janse van Rensburg sê die haelbui het Saterdagmiddag binne die bestek van 20 minute oor ’n gebied van 2 km by 2,5 km op sy plaas Westfalen, en die plaas Werda van sy broer, Charl, uitgesak. “Dit was ’n natuurfrats net op die klein kolletjie.”

Hulle boer sowat 5 km vanaf Uhlenhorst en 120 km suidoos van Rehoboth.

Janse van Rensburg sê sy broer het hom gebel toe die haelbui uitsak en gesê “dit klink soos klomp Boeings wat hier oorvlieg”.

Hy sê toe hulle by die huis uitkyk, was die rooi sandduine spierwit.

“Dit het gelyk soos sneeu. Dit het gelyk of jy in Switserland in die Alpe staan.”

Janse van Rensburg, sy vrou, Marcelle, en hulle drie kinders het vir omtrent ’n uur tussen die duine rondgery en in die tyd het die hael wat tussen 3 en 4 duim (sowat 10 cm) diep op plekke gelê het, nie gesmelt nie.

Hoeveel millimeter reën geval het, kan hy nie sê nie aangesien die haelkorrels die reënmeter volgemaak en uitgeval het. Hy het wel 40 mm reën elders op sy plaas gemeet waar dit nie gehael het nie.

Hy sê hoewel hierdie laat in die seisoen is, kan grasontkieming nog plaasvind.

“Ons het maar tussen 60 en 80 mm vir die seisoen gemeet. Hierdie is vir ons baie werd.”

Volgens hom het die hael toe dit op die duine begin smelt het, afgeloop na die strate tussen die duine en klein riviertjies gevorm.

Janse van Rensburg is benewens groenteboer, ook ’n kleinveeteler.

Intussen het mense in die groter Windhoek-gebied op Reën in Namibia se Facebook-blad gesê hulle het tussen 20 en 80 mm reën gemeet.

Dit het ook by Omaruru gereën.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-18

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer