'Dit was God se wil'
Die Venter-familie het berusting gevind en is nie bitter oor die bustragedie nie.
Ronelle Rademeyer
Was dit nie vir die “Here se hand” nie, het die bedroefde familie van wyle Jacques Venter (13) van Windhoek Gimnasium Woensdagmiddag 'n tweede tragedie beleef.
Sy oupa en ouma, ds. Kobus en me. Annatjie Venter, het reg agter die voertuig gery wat Woensdag sowat 40 km voor Arandis voor 'n vragmotor beland en “uitmekaar gebars het”.
Dié oudpredikant van Walvisbaai sê hulle was van Windhoek af, waar hulle sedert Sondag hul seun (mnr. Jaco Venter) en sy gesin ondersteun het, op pad terug kus toe.
“Die Here het al baie vantevore sy hand oor ons gehou, maar die keer was dit regtig die engele wat gekeer het dat die wrakstukke wat deur die lug getrek het, ons tref.
“Ek het gesien die bestuurder van die voertuig voor ons gaan van die teerlaag af op 'n plek waar die verskil in hoogte tussen die teer en padskouer seker omtrent 8 cm of meer is. Ek het gesien hy pluk die kar terug, maar toe ry hy ver regs en beland dwars oor die pad. Die volgende oomblik sien ek hoe 'n groot vragmotor die kar tref en dit oopbars.
“My vrou was histeries, want toe sien ons hoe die wrakstukke in die lug opgaan en hoe die mense uitgeslinger word,” vertel Venter.
Die Venters het afgetrek en na die insittendes geloop wat om die wrak gestrooi gelê het. “Ek het in my lewe nog nooit so iets gesien nie. Nie een het meer geleef nie.” (Sien die kassie op bl. 1 vir die name van die ses oorledenes en die een oorlewende.)
JACQUES SÓ ONTHOU
Venter het gister gesê hoewel hulle “treur en ween” oor Jacques, het hy die “heerlike en wonderlike versekering dat God altyd uit pyn die grootste en heerlikste seën” laat voortspruit.
Hy sê hy en sy vrou bid voortdurend vir hul familie.
“Ek omring hulle met 'n muur van gebed. As iets met hulle gebeur, is dit iets wat God toegelaat het. Daarom weet ek wat met Jacques gebeur het, gaan 'n onbeskryflike seën word. God gaan daardeur verheerlik word.”
Jacques se stiefma, me. Liezel Venter, het gister gesê sy is so trots op haar man, Jaco. “Hy is nie kwaad nie en hy is nie bitter nie. Ons het ons vrede by die Here gekry.”
Sy sê Jacques het 'n baie hegte band met sy pa gehad.
'n Maat van Jacques, Christiaan Janse van Vuuren, het hom as “baie positief en vriendelik” beskryf.
Jacques laat benewens sy grootouers, pa en stiefma, ook sy ma, me. Amoré Venter, ouer broer en suster, Travis (25) en Jacinda (18), en sy stiefbroers, Lawrence (19) en Stephan (16), agter.
Jacques word Dinsdag om 10:00 uit die skoolsaal begrawe, waar sy oupa die diens sal lei.
Die begrafnisdiens vir Angela Maiba, die ander leerling wat in die busongeluk gesterf het, vind vandag om 12:00 in die eetsaal van Windhoek Gimnasium se koshuis plaas. 'n Gesamentlike gedenkdiens vind Donderdag om 12:00 in die skoolsaal plaas.
- [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie