Dit werk, maar dit werk ook nie
Die burgemeester van Windhoek moet eerder daarop fokus om die land se enigste krematorium in 'n werkende toestand te kry, sê 'n ontstelde inwoner.
Henriette Lamprecht
Dit werk, maar dit werk ook nie.
Verskeie ontstelde inwoners wat geliefdes reeds etlike maande gelede aan die dood afgestaan het en wag dat hul oorskot veras moet word, het gister gesê ten spyte van die Windhoekse munisipaliteit wat Maandag bevestig het die krematorium (dié keer die nuwe een) werk weer, dit beslis nie die geval is nie.
Die munisipaliteit se verweer by monde van hul woordvoerder, me. Lydia Amutenya, was die masjien wys “malfunctioning” wat hulle “waarneem en monitor”, maar dat verassings ten spyte hiervan voortgaan.
“Ons het die nodige ondersteuning van die kontrakteur op die perseel sou die behoefte daarvoor ontstaan,” het Amutenya gesê.
Sy het gerugte ontken dat hulp van die Duitse ambassade om te help om die nuwe krematorium weer aan die gang te kry, van die hand gewys is. Volgens haar het die persoon nie met 'n voorstel in dié verband na die uitvoerende hoof van die munisipaliteit gekom nie.
“Daar is prosedures en protokol wat gevolg moet word. Die persoon is dalk net nie bewus hiervan nie”.
Die nuwe krematorium is teen 'n koste van N$15 miljoen deur 'n Duitse maatskappy, Ruppmann, gebou wat verlede jaar bevind het 'n brand in Desember 2018 – slegs 'n paar maande nadat dit geopen het – was te wyte aan swak instandhouding.
“Ek wil ten minste die as hê, mens neem nie net afskeid met 'n foto nie,” het 'n leser gesê wat nege weke terug sy pa verloor het en steeds wag dat hy veras word. Volgens hom moes die familie “vorms by die hospitaal invul” dat sy pa veras móét word, omdat hy aan Covid dood is.
Sy pa was in 'n stadium 65ste op die lys om veras te word.
Die burgemeester is besorg oor 'n draad (Rooilyn) en mors sy tyd daarop, maar fokus nie op wat in sy eie stad aangaan nie, het hy gesê.
“Wat as dit sy (Job Amupanda) se pa was, sou hy dit toegelaat het? Hy bestee sy tyd aan nonsens terwyl Windhoek uitmekaar val.”
Nog 'n inwoner wie se ouers 11 dae uitmekaar aan Covid dood is, het gesê die situasie laat hom voel “asof ek my ouers in die steek laat”.
“Daar is absoluut geen waardigheid vir die dooies nie. Dit is vir my verskriklik dat my ouers so onwaardig behandel word, niemand verdien dit nie.”
Volgens hom is die herstel van die land se enigste krematorium “eenvoudig nie 'n prioriteit” vir die munisipaliteit of die hoofstad se inwoners nie. Dit terwyl mense “hoë tariewe en belasting betaal” en alles ten spyte daarvan val uitmekaar.
'n Man van Swakopmund wie se ma aan die begin van Junie oorlede is, het die munisipaliteit en regering op sy beurt daarvan beskuldig dat hulle nie “waardigheid aan hul eie mense kan bied nie, maar eerder kies om hul eie koffers te vul”.
Volgens hom was die munisipaliteit deeglik bewus van die pandemie en die gepaardgaande golwe waardeur die land is.
“Hulle het geweet wat kom en steeds net mooi niks gedoen nie.”
Elke keer as hy Swakopmund binnery, dink hy aan sy ma wat “in 'n lykshuis op 'n hoop ander lyke lê”.
“Hulle kan nie eers respek betoon aan die mense wat die nasie gebou het nie. Alles gaan vir hulself, hulle gee nie om vir die mense nie.” – [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie