'Diversiteit verryk Afrikaans'
Die Afrikaanse Taalraad (ATR) sê Afrikaans se voortbestaan hang af van die erkenning van “diversiteit en tongvalle”.
“Diversiteit is 'n enorme bate. ’n Lewenslyn vir Afrikaans. Ons moet dit gebruik om die ryk kultuurerfenis van Afrikaans te vier en dit van negatiewe assosiasies te bevry,” sê Michael Jonas, nuwe voorsitter van die direksie van die ATR in ’n mediaverklaring.
Jonas glo die Afrikaanse taalgemeenskap het die grootste rassediversiteit van al die inheemse tale.
“Ons moet daardie diversiteit vier en ruimtes skep waarin dit kan floreer. Pleks van mense uit te sluit op grond van hoe hulle met die taal omgaan, moet alle variëteite omarm word. ’n Taal het standaarde nodig, maar die uitsluitlike klem op die gestandaardiseerde weergawe lei tot vervreemding.”
Volgens dr. Conrad Steenkamp, uitvoerende hoof van die Taalraad, is inklusiwiteit van die verskillende vorme van Afrikaans belangrik vir die oorlewing van die taal.
“Inklusiwiteit beteken dat al die sprekers van al die variëteite op 'n gelyke basis betrek word. Géén variëteit, die standaardvariëteit ingesluit, word belangriker as die ander geag nie. Afrikaans is die som van die taal se variëteite. Ons moet mekaar kan groet met ’n mirrag, hoesit, saloet en aweh. Ons moet saam kan smul aan melktert, krimpvarkies, tweegevreetjies, koeksisters én koesisters.
“As Afrikaanssprekendes verskille uit die weg ruim en meer begrip vir mekaar ontwikkel, sal hulle in ’n beter posisie wees om ruimtes vir Afrikaans te beding. Dit is net so duidelik dat hulle Afrikaans beter in samewerking met die ander inheemse tale sal kan bevorder. Wye alliansies – in die gees van die veeltaligheidsvoorstander dr. Neville Alexander – is nodig om die hegemonie van Engels teen te staan en ruimte vir die inheemse tale, Afrikaans ingesluit, te skep.
“In die praktyk beteken dit die sprekers van Standaardafrikaans moet ophou om variëteite soos Kaaps te stigmatiseer. Ons moet ook ophou om Pretoria-Afrikaans of die sogenaamde stywe boordjie van Standaardafrikaans bespotlik te maak. Om die variëteite teen mekaar op te stel, is 'n slegte ou gewoonte,” meen Steenkamp.
Prof. Frank Hendricks, nuwe direksielid en tot sy aftrede in 2017 verbonde aan die departement Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van Wes-Kaapland, glo inklusiewe Afrikaans gaan oor meer as net erkenning van ’n ander tongval.
“Erkenning van die menswaardigheid van al die sprekers van die taal is noodsaaklik vir oorlewing en groei.”
Nog ’n nuweling op die direksie, kommissaris Aäron Messelaar, meen Afrikaans word bedreig.
Messelaar het 'n sterk agtergrond in Griekwa-Afrikaans. Hy glo Afrikaans moet in gemeenskappe bemark word.
“Afrikaans moenie net as ’n taal nie, maar ook as ’n kommunikasiemiddel tussen Afrikaanssprekendes bevorder word. Kinders moet meer Afrikaans praat, veral omdat die jonger geslag daarop fokus om kinders Engels groot te maak. Gemeenskapsuitreikaksies vir Afrikaans is dus baie belangrik.”
Die terugkerende direksielid Alana Bailey het ’n uitgewersagtergrond en meen diversiteit kan ’n taal verryk.
“Mense moet minder bang wees daarvoor. Afrikaanssprekendes moet die kennis hê om die standaardvorm te kan praat, maar nie wal gooi teen vernuwing en ander variëteite nie. Kruisbestuiwing moet toegelaat word. Die staat gee nie regtig meer erkenning aan Afrikaans in werksplekke en howe, waar mense hulle in hul eie taal kan uitdruk, nie. Wanneer mense op hul gemak kan gesels, doen hulle dit in hul moedertaal.”
• Annelise de Vries, ’n taalbeplanner en forensiese linguis, is die nuwe ondervoorsitter van die Taalraad.
Ander direksielede is die skrywer en kenner van Gariepafrikaans Anzil Kulsen, die TV-aanbieder Sinki Mlambo, die taalkundige Karien Brits, die taalliefhebber Louis du Plessis en Japie Gouws, voormalige uitvoerende hoof van die ATKV. - Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie