Divvy: u2018Chiliboy u2019n held soos Dirkie Uysu2019
Divvy: u2018Chiliboy u2019n held soos Dirkie Uysu2019

Divvy: ‘Chiliboy ’n held soos Dirkie Uys’

Rugby
Tinus van Staden – Chiliboy Ralepelle is ’n Suid-Afrikaanse held soortgelyk aan die Voortrekker Dirkie Uys, sê Peter de Villiers, die voormalige Springbok-afrigter.
Ralepelle (33), ’n gewese Bok-haker, se rugbyloopbaan het Woensdag ’n moontlik noodlottige knou gekry toe die Suid-Afrikaanse Instituut vir Dwelmvrye Sport (Saids) hom vir agt jaar geskors het vir die gebruik van die verbode middel zeranol.
Al is Ralepelle se regspan van plan om teen die straf te appelleer, is die kans skraal dat hy weer sal rugby speel.
Dit sal die einde wees van ’n loopbaan wat vroeg ongelooflike potensiaal getoon het, maar later deur beserings en omstredenheid lamgelê is.
De Villiers het Ralepelle die eerste keer in 2005 afgerig, toe die haker lid was van sy seëvierende Junior Springbok-span in die o.21-Wêreldtoernooi.
Ralepelle het sy Springbok-buiging die volgende jaar onder Jake White gemaak en tussen 2006 en 2018 in 25 toetse gespeel, 19 daarvan tussen 2008 en 2011 toe De Villiers die Bokke afgerig het.
“Soos met alle swart spelers in Suid-Afrika in daardie stadium, was Chiliboy ’n slagoffer van mense se vooropgestelde idees,” het De Villiers Woensdag aan Netwerk24 gesê.
“Hy het nie ’n goeie ondersteuningsbasis in rugbygeledere gehad, soos wat baie ander ouens gehad het nie. By die huis, beslis, mense was mal oor hom.
“Sy gemeenskap het opgekyk na hom. Dit het bykomende druk op hom geplaas, as jy kyk na hoe graag hy ’n rolmodel vir mense wou wees. Mense het so baie van hom verwag.
“Dit was seker maar moeilik om al daardie druk te verwerk, want soveel mense vind hoop in jou. Jy moet ’n front voorhou en maak of dit altyd goed gaan,” sê hy.
“Hy was ’n slagoffer van omstandighede. Jy moet jou hoed afhaal vir hom dat hy dit so ver gemaak het.
“Hy is een van die helde van Suid-Afrika, in dieselfde asem as ’n Dirkie Uys, wat destyds so hoog aangeslaan was omdat hy ’n gun kon skiet. (Chiliboy) het nou net nie ’n geweer gehad nie.”
Ralepelle het in die era van John Smit, Bismarck du Plessis, Gary Botha en later Adriaan Strauss en Malcolm Marx gespeel en het gesukkel vir gereelde speelkans.
“Hy is nooit by die Bulle tot sy volle potensiaal benut nie en hy moes maar skuif. Daar was goeie hakers, maar tog kon hy vir jou bykomende leierskap op die veld gee.”
De Villiers sê Ralepelle is ’n gebore leier, wat baie meer potensiaal gehad het as ander spelers wat hoër hoogtes as hy bereik het.
Ralepelle het in 2006, as 20-jarige, die eerste swart Springbok-kaptein geword toe hy die span in ’n wedstryd teen ’n Wêreld-vyftiental aangevoer het. Die wedstryd het nie toetsstatus gehad nie en daarom word Siya Kolisi as die eerste swart Springbok-toetskaptein erken.
Beserings het Ralepelle se vordering daarna gekniehalter en hy is ook drie keer positief getoets vir die gebruik van verbode middels.
In 2014 is hy vir twee jaar geskors nadat hy positief in Frankryk getoets is, waar hy vir Toulouse gespeel het. In 2010 is opkikkers in sy bloed gekry, maar hy is onskuldig bevind nadat hy kon bewys die middels was in ’n proteïenaanvulling wat die Springbokke gebruik het.
Die laaste voorval het in Januarie 2019 gebeur, tydens ’n lukrake toetsing by sy franchise, die Haaie.
Paul Anthony, sy afrigter by die Pretoria Boys’ High School, onthou Ralepelle as ’n skolerugbyster. Hy het in 2002 en 2003 vir die Suid-Afrikaanse Skolespan gespeel.
“Hy was die hartklop van ons span, met die hele wêreld oop voor hom,” sê Anthony.
“Hy was in my koshuis en het ongelooflik hard gewerk. In sy o.15-jaar het ek gesê hy moet van losvoorspeler na haker skuif. Hy het elke dag om 05:30 balle in my kantoor kom haal en dan voor ontbyt sy lynstaan-ingooie gaan oefen.
“Sy droom was altyd om ’n Springbok te word.” – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!