Divvy op 'n missie in Zim

Die voormalige Bokafrigter het reeds sy soeknet na nuwe talent begin uitgooi.
Tielman van Lill
Tielman van Lill - Hoewel Peter de Villiers laas in 2011 'n internasionale rugbyspan afgerig het, het Aaron Jani, president van die Zimbabwe Rugbyunie (ZRU), nie ver gaan soek vir 'n afrigter om die nasionale Sables te brei nie.

De Villiers is nog nie lank in dié breierstoel nie. Inteendeel, hy is eers in Februarie vanjaar aangestel, maar het reeds sy merk gemaak om verskeie spelers uit die buiteland nader te trek.

Jani is in Desember laas jaar as president verkies en het dit sy droom gemaak om die Sables vir die 2019 Wêreldbeker in Japan te laat kwalifiseer. Indien die Sables dit sou vermag, sal dit die land se eerste deelname sedert 1991 wees.

Nie net het die Sables 'n nuwe stuurman aan boord van sy verlore skip nie, maar verlede week het nuwe borge ter waarde van US$1.5 miljoen toegetree.

Gerald Mlotshwana, die prokureur in beheer van die Sable Trust, het seker gemaak dat Canterbury die spelers ten volle uitrus en ook dat die myngroep Zerttew Recourses as hoofborg sy belegging op die regte plek maak.

Zimbabwe wag al 27 jaar om weer aan 'n Wêreldbeker deel te neem, maar het nie die grootste talentpoel beskikbaar nie en De Villiers moes sy net wyd span om gehalte spelers te lok.

Die Sables sal tussen Junie en Augustus Rugby Afrika se Gouebeker-kompetisie moet wen om regstreeks vir die 2019 WB te kwalifiseer. Indien hy tweede eindig, kan hy steeds deur middel van die repecharge-uitspeelronde sy pad na Japan vind.

Namibië, die heersende Gouebeker-koning, en Kenia, die naaswenner in 2017, staan breed in De Villiers en die Sables se pad.

Met die nuwe politieke atmosfeer en optimisme wat sedert die vertrek van Robert Mugabe heers, is selfs dié land se sportbase tot nuwe drome aangespoor.

Die 60-jarige De Villiers het 'n tweejaarkontrak met die ZRU en sy aanstelling as die grootste dag in sy lewe bestempel.

“Ek kan nie belowe dat ons alles gaan wen nie, maar wel dat ons goed voorbereid en reg sal wees,” het De Villiers met sy aanstelling gesê.

Jani meen De Villiers se kontrak is meer as net 'n aanstelling.

“Die nuwe hoofafrigter se aanstelling spel duidelik uit wat ons beplan. Niemand kan 'n towerstaffie swaai en dan is ons weer 'n krag in wêreldrugby nie. Dit hang alles van ons self hier af om as 'n span en land weer in onsself te glo,” het die rugbybaas gesê.



OORSESE TALENT

De Villiers het uit Engeland die vleuel Dylan Baptista by Tottonians wat in die Londense eersteliga speel, nader geroep.

Die Suid-Afrikaans gebore Johan Stander wat vir Valsbaai in die Kaap speel, is nog 'n aanwins op slot.

'n Ierse geurtjie kom van die broers Brian en Peter du Toit wat beide in Zimbabwe gebore is, maar in Ierland grootgeword het. Brian was in 2016 nog by die Dublin Universiteit en deel van die internasionale klubgroep. Dit is die eerste keer dat hy vir Zimbabwe nader getrek word.

Sy ouer broer Peter is 'n voormalige o.20-skrum­skakel vir Ierland en was lid van die Sables-span wat onsuksesvol vir die 2015 WB probeer kwalifiseer het.

De Villiers kon die afgelope naweek in Harare die eerste keer sien hoe sy nuwe seleksie daar uitsien toe die Zambezi Steelers, 'n uitnodiging­span, teen die Blou Bulle in 'n vertoonwedstryd opgedraf het. Die Steelers is met 61-19 deur die Bulle oorweldig.

“Vandag was 'n goeie leerskool vir die ouens. Ons het verloor, maar ons het toewyding en hart gewys. Baie geluk aan die Bulle. Welgedaan Steelers, want die eerste wedstryd is nooit maklik nie en ons sal terugkeer na die tekenbord,” het De Villiers op Facebook geskryf.



TELEURSTELLING

Zimbabwe kon verlede jaar net een van sy Gouebeker-wedstryde (teen die uitgeskakelde Senegal) wen en het selfs teen Tunisië vasgeval wat sekerlik 'n laagtepunt vir die Sables was.

Die Sables se eerste teenstander in die 2018 Gouebeker is op 16 Junie teen Marokko, wat bevorder is nadat hy in 2017 die Silwerbeker gewen het.

Die Sables oefengroep: Shingi Katsvere, Takudzwa Kumadiro, Ngoni Chibuwe, Fortune Chipendu, Gabriel Sipapata, David Makanda, Kudzai Mashawi, Linience Tambwera, Denford Mutamangira (kaptein), Tapfuma Parirenyatwa, Zee Khupe, Godfrey Mangenje, Tapiwa Mafura, Tafadzwa Chitokwindo, Dylan Baptista, Riaan O'Neil, Mathew Mcnab, Justin Zietsman, Brandon Mandivenga, Hilton Mudariki, Peter du Toit, Njabulo Ndlovu, Biselele Tshamala, Michael Botha, Connor Pritchard, Jannie Stander, Johan Stander, Jan Ferreira, Farai Mudariki, Cleopers Kundiona, Sam Garnet, Sam Phiri, Nick Holdon, Simba Mandioma, Takudzwa Mandiwanza, Eli Snyman, Nyasha Tarusenga, Brian Mantanga, Sanele Sibanda, Ian Prior.

- Bronne: Facebook, Rugbypass.com, The Herald, News.com.au

Kommentaar

Republikein 2025-04-27

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer