Djokovic toets positief vir Covid-19
Djokovic toets positief vir Covid-19

Djokovic toets positief vir Covid-19

Tennis
Novak Djokovic, die wêreld se voorste tennisspeler, is positief getoets vir Covid-19.
Dié Serwiër se positiewe toets vir die koronavirus was te wagte nadat drie spelers wat aan sy Adria-vertoontoernooi in Kroasië deelgeneem het, positiewe uitslae ontvang het.
Die Bulgaar Grigor Dimitrov het hom die naweek aan die tweede toernooi in die reeks onttrek nadat hy Saterdag siek begin voel het. Hy het Sondag bekend gemaak dat hy getoets is, en dat dit positief is.
Daarna het die Kroaat Borna Coric en Serwiër Viktor Troicki ook gesê dat hulle positief getoets is nadat hulle aan Djokovic se liefdadigheidstoernooi deelgeneem het.
Die tweede toernooi in die reeks in die Balkan het laas naweek in Zadar, Kroasië, plaasgevind.
Sondag se eindstryd tussen Djokovic en Andrey Rublev is afgelas nadat die nuus van Dimitrov se toets bekend geword het.
“Die oomblik toe ons teruggekom het in Belgrado, is ons getoets. My en Jelena (sy vrou) se toetse was positief, maar ons kinders s’n was negatief,” sê die 33-jarige Djokovic.
“Ek is baie jammer vir elke individuele geval van infeksie. Ek hoop nie dit sal enigeen se gesondheid benadeel nie en dat almal orraait sal wees.
“Ek sal vir die volgende 14 dae in isolasie wees en oor vyf dae weer ’n toets ondergaan.”
Djokovic het reeds ná die eerste toernooi in Belgrado onder kritiek deurgeloop omdat toeskouers nié maskers gedra het of veilige afstande gehandhaaf het nie.
Die paviljoene was vol toeskouers.
Spelers het mekaar ook by die net omhels en gegroet, saam vir foto’s geposeer, saam basketbal gespeel en nuuskonferensies bygewoon.
Djokovic het vir die spelers saans vermaak gereël in Belgrado. Foto’s en video’s waar hy met die spelers dans, is op sosiale media geplaas.
Die Adria-reeks is deur Djokovic en sy broer Djordje gereël.
Serwië en Kroasië se inperkingsmaatreëls is lank voor die toernooi verslap en gesonde afstande was ook nie nodig nie.
Djokovic sê hy wou geld insamel vir spelers wat finansieel sukkel, maar die spelers en toeskouers se laksheid met betrekking tot veilige afstande en ander Covid-19-maatreëls is skerp gekritiseer.
Die uitgesproke Australiër Nick Kyrgios en die Britse spelers Andy Murray en Dan Evans het almal vir Djokovic gekap.
“Ek hoop nie daar word nou herbesin oor die Amerikaanse Ope weens hierdie betreurenswaardige geval nie,” het Evans gesê, terwyl Kyrgios die besluit om die toernooie aan te bied as “idioties” bestempel het.
“Ek hoop ons leer hieruit, want beroepstennis sal nie terugkeer as ons weekliks probleme ervaar en die spelers maak soos hulle wil nie,” het Murray gesê.
“Alles wat ons die laaste maand gedoen het, was met goeie bedoelings en uit die hart. Ons wou met die toernooi mense verenig en ’n boodskap van solidariteit en deernis met die mense van die streek deel,” het Djokovic sy toernooie probeer verdedig.
“Ons wou opkomende spelers van Suidoos-Europa help om mededingende tennis te speel terwyl toernooie opgeskort is.”
Die res van die reeks is gekanselleer – ’n tweedaagse toernooi wat op 3 en 4 Julie in Banja Luka, Bosnië, gehou sou word en ’n vertoonwedstryd teen die Bosniër Damir Dzumhur op 5 Julie in Sarajevo.
Al die positiewe toetse op die toernooie is slegte nuus vir die organiseerders van die Amerikaanse Ope, wat dié hardebaantoernooi einde Augustus in New York wil aanbied. – Reuters, Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!