Dodetal styg ná aardbewing in Taiwan
Senuagtige inwoners moet steeds naskokke trotseer.
Reddingspogings om oorlewendes van die aardbewing in Taiwan op te spoor, is deur naskokke bemoeilik.
Reddingswerkers soek steeds deur die puin van geboue wat ineengestort het ná Dinsdag se aardbewing naby die gewilde toeristestad Hualien.
Die dodetal het tot nege gestyg.
Senuagtige inwoners moes laat Woensdag ’n reeks naskokke trotseer, wat ’n 5,7-sterkte skudding ingesluit het, gevolg deur kleiner skuddings vroeg gister. Sowat 265 mense is beseer in die aanvanklike 6,4-sterkte aardbewing wat Hualien Dinsdag net voor middernag (plaaslike tyd) getref het. Vier geboue het in duie gestort en 62 mense word nog vermis.
Baie van die vermistes is in ’n 12-verdieping-woonstelgebou. Hualien is die tuiste van sowat 100 000 inwoners.
Die kragtige aardbewing het ’n paar geboue erg beskadig gelaat, met sommige wat nou teen ’n gevaarlike helling oorleun. Paaie is oopgeskeur en honderde inwoners is gedwing om in plaaslike skole en ’n stadion skuiling te soek.
Die reddingswerkers se fokus bly hoofsaaklik op die Yun Tsui-woonstelblok, waar ses mense reeds gesterf het en dosyne vermis word. Die onderste vloere van die 12-verdiepinggebou het ook ’n hotel gehuisves. Twee van die oorledenes wie se oorskot reeds gevind is, sluit ’n toeris uit China en ’n hotelwerker in.
’n Reddingswerker het aan AFP gesê dit het 14 ure geduur om die lyk van die hotelwerker uit die rommel te haal omdat hy gedeeltelik tussen die hotel se plafon en vloer vasgekeer was.
“Ons het sy hare gesien en moes baie lank grawe,” het hy gesê. Deurentyd kon hulle die slagoffers se selfoon hoor lui.
’n Werker van die Rooikruis het op die toneel beraam die gebou het oornag nog ’n verdere 5% geskuif. Volgens hom het hy min hoop gehad dat oorlewendes op die onderste vloere gevind sou word.
“Verdiepings een tot drie is inmekaar gedruk en dit is moeilik om te sê of daar mense is,” het hy aan AFP vertel.
Volgens hom was daar geen risiko van ’n gasontploffing in die gebou nie, maar dat naskokke en verdere ineenstorting ’n voortgesette gevaar is.
Hualien is een van Taiwan se gewildste toeristeaantreklikhede omdat dit langs die prentjiemooi spoorlyn van die Ooskus en naby die gewilde Taroko-kloof geleë is.
Die berge agter die stad wat aan Taiwan se ooskus sy masjestuese skoonheid gee, is ’n teken van die dodelike, tektoniese verskuiwingslyne wat deur die eiland loop. - Netwerk 24/Reuters

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie