• Tuisblad
  • Sake
  • Doen huiswerk voor jy van mediese fonds verander
Doen huiswerk voor jy van mediese fonds verander
Doen huiswerk voor jy van mediese fonds verander

Doen huiswerk voor jy van mediese fonds verander

Volgens kenners is dit al belangriker vir verbruikers om makelaars of gesondheidskonsultante te gebruik.
Nellie Brand-Jonker – Die tendens wat die afgelope sowat twee jaar beleef is van Suid-Afrikaanse verbruikers wat na goedkoper opsies skuif omdat hul premies te duur raak, gaan voortduur met die bo 9%-verhogings wat tot dusver deur sekere mediese fondse aangekondig is.

Victor Crouser, hoof van Alexander Forbes Health in die Wes-Kaap, meen dis nie verrassend nie maar teleurstellend en moontlik effens hoër as wat hul verwag het.

Verbruikers kan nie die verhogings bekostig nie.

“Ongelukkig kry mense meestal salarisverhogings van 5% en as jy gelukkig is 6%. Die premieverhogings is ver bo salarisverhogings.”

Van die mediese fondse wat reeds verhogings aangekondig het, is Discovery, Bonitas, Fedhealth, Health Squared, Momentum Health en Sizwe.

Volgens Alexander Forbes Health is die gemiddelde verhoging van al die mediese fondse 9,1%.

“Daarteenoor styg salarisse gemiddeld met 5%. Iewers moet verbruikers begin sny. Omvattende mediese dekking begin onbekostigbaar raak vir die publiek,” sê Gary Feldman, streekdirekteur van NMG Consulting.

Damian McHugh, hoof van verkope en bemarking van Momentum Health, het op die bekendstelling van dié mediese fonds se 2020-verandering aan die media gesê verbruikers kan nie die voortdurende verhogings van bo inflasie bekostig nie.

Crouser sê dit is sover bekend die eerste keer dat die premie vir ’n hooflid alleen van bo R10 000 per maand in die mark is - naamlik vir Momentum Health se Summit.

Skuif na goedkoper opsies

Feldman glo daar gaan beslis ’n voortsetting van die tendens wees van mense wat goedkoper opsies koop omdat hulle nie meer hul premies kan bekostig nie.

Hy meen baie mense gaan begin om net na hospitaalplanne te kyk en die dag-tot-dag uitgawes uit hul eie sak betaal.

Crouser sê dis hoekom dit al belangriker word vir verbruikers om makelaars of gesondheidskonsultante te gebruik.

“Mense moet weet wat hulle koop en in sekere gevalle is dit nie die antwoord om na ’n goedkoper opsie te verskuif nie,” sê hy.

Voordele verander

Volgens McHugh verminder voordele deurlopend maar mense betaal meer. “So mense kry minder gesondheidsorg teen ’n hoër prys.

Twee van sy groot mededingers wat reeds aankondigings gemaak het, het “beslis voordele verminder”.

Hy sê Momentum Health het voordele behou en in meeste gevalle die voordeel-limiete met inflasie verhoog.

“Die bedryf het berug geword vir voordele oor tyd verander.

“Dit wat jy vyf jaar gelede gekoop het, lyk nie vandag dieselfde nie,” sê McHugh.

Hy gebruik die voorbeeld van iemand wat drie jaar gelede ’n BMW gekoop het met vier wiele. “In die gesondheidsektor beteken dit dieselfde BMW word nou met drie wiele gekoop en jy betaal meer daarvoor.”

Crouser sê daar is twee maniere om mediese fondse te laat voortbestaan en volhoubaar te maak in die omgewing en dit is met die verhogings wat aangekondig word en die ander is om voordele te verminder.

“Die mediese fondse vat nie noodwendig direk voordele weg nie,” sê hy.

Hy meen die meeste verandering hou verband met “moeiliker toegang tot voordele” deur middel van netwerke of spesifieke dokters wat gebruik moet word of dat mense eers na verpleegsters moet gaan voor hulle ’n dokter mag sien.

Volgens hom probeer die mediese fondse daarmee gedrag en benutting verander.

As mense nie die netwerke of medisynelyste gebruik wat vereis word nie, kan in sommige gevalle redelike groot verandering met bybetalings kom.

Hy sê die veranderinge wat gesien word is ook nie in die algemeen oor al die opsies nie, maar net spesifieke opsies.

NT Snyman, konsultant van Alexander Forbes, sê van die veranderinge aan die opsies word nie altyd in die brosjures met lede gekommunikeer nie en dit is hoekom kundige mense soos konsultante nodig is om verbruikers te help besluite neem.

Hy sê veranderinge kan insluit dat daar vanjaar nie ’n aftrekking was vir ’n sekere prosedure op ’n spesifieke opsie nie, maar volgende jaar is daar wel ’n bybetaling.

Snyman sê ten opsigte van hospitaalkoste sal mediese fondse nie drastiese verandering maak nie omdat die koste met die hospitaalgroepe onderhandel word.

“Dit sal nie radikaal of drasties verander van een jaar na die ander nie. Wat wel kan verander is die netwerk of wat dokters ontvang wat iemand in die hospitaal behandel.”

Een mediese skema het die dekking van dokters se tariewe byvoorbeeld van 300% tot 200% verminder.

Alle mediese fondse moet sekere minimum voordele dek. “’n Mediese fonds sal nie die behandeling of voordele vir hoë bloeddruk of diabetes mag afskaf nie, maar wat wel verander is watter medisyne ten volle gedek gaan word,” sê Snyman.

Dit is omdat mediese fondse medisynelyste of netwerke mag gebruik om die koste van die minimum voordele te bestuur.

Rede vir skerp stygings

Volgens Feldman het die mediese fondse wat reeds verhogings aangekondig het die groot rede vir die styging in koste van ver bo inflasie is omdat die gemiddelde lidmaatskap van mediese fondse ouer word.

McHugh sê die mediesefondsmark groei al vir jare lank nie werklik nie en die ouerwordende bevolking wat lede van mediese fondse is, is besig om sy tol te eis.

Momentum Health voer reeds aan dis oor sy gemiddelde ouderdom wat minder styg as ander mediese skemas wat hom in staat stel om ’n premie verhoging van 8,2% te gee.

Feldman sê hul inligting van inhuise skemas toon eise gaan met tussen 2% en 3% op wanneer ’n skema se gemiddelde ouderdom met ’n jaar styg.

Dit stem ooreen met ander inligting hieroor.

As ’n mediese fonds 1 000 lede het, skuif dié gemiddelde ouderdom elke jaar met ’n jaar op.

Nog ’n groot rede vir die verhoging in koste is mediese tegnologie.

Hy glo ook meer mense is onder stres en baie mense is sieker as wat hulle ’n dekade gelede was.

Advies aan verbruikers

Verbruikers kry nou weer die geleentheid om voor die begin van 2020 van opsie of mediese skema te verander.

Die gemiddelde verhoging van ’n skema is nie dieselfde vir alle opsies nie. Sommige opsies se verhogings is baie skerper.

Snyman sê ’n persoon moet eerstens sy gesin se behoefte ten opsigte van hospitaaldekking verstaan; tweedens of hulle chroniese medisyne gebruik of nie en derdens wat hul dag tot dag uitgawes is. Dag tot dag uitgawes word normaalweg uit ’n spaarrekening befonds.

“Dit is in die drie hoofkategorieë wat jy vrae moet vrae oor wat jou behoefte is.” Ten opsigte van hospitalisasie kan iemand kyk hoe wyd is die netwerk waarheen sy gesin moet gaan en hoeveel word dokters betaal wat in die hospitaal die behandeling doen en wat die bybetalings gaan wees.

McHugh sê verbruikers moet ook kyk hoe netwerke hul premies kan verlaag. “As jy ’n netwerk kan gebruik om jou premie te verlaag sonder dat jou dekking verminder, is dit ’n goeie idee.”

Verbruikers moet ook kyk na bybetalings. Van die groot mediese skemas se beste planne het bybetalings verhoog en nuwe bybetalings bekend gestel. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!