Doen jy dié werk? Dit gaan dalk gou verdwyn
Die Wêreld- Ekonomiese Forum het sekere poste geïdentifiseer wat binnekort kan verdwyn.
Elvira Wood – Is jy ’n boekhouer, sekretaresse, telebemarker of selfs ’n rekenmeester? Dalk is jy ’n motorbestuurder of werk as ’n teller in ’n bank.
Indien wel, behoort jy bekommerd oor jou toekoms te wees.
Dit is van die poste wat die Wêreld- Ekonomiese Forum (WEF) reeds geïdentifiseer het wat waarskynlik binnekort kan verdwyn.
Dit is alles te wyte aan die vierde nywerheidsrevolusie (4NR).
Dr. Klaus Schwab, stigter van die WEF, het die term “vierde nywerheidsrevolusie” in 2016 geskep. Dit verwys breedweg na die grense tussen die fisieke, digitale en biologiese wêreld wat stelselmatig verdwyn.
Die kwessie oor die 4NR en die moontlike invloed wat dit op die Suid-Afrikaanse arbeidsmag gaan hê, het Dinsdag weer in die kollig gekom toe Cameron Morajane, direkteur van die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA), gesê het dat dié kommissie verwag dat daar al meer afleggings weens die uitwerking van die 4NR gaan wees.
Hy het die banksektor uitgesonder waar outomatisasie en kunsmatige intelligensie reeds ’n groot uitwerking op banke se taknetwerke het.
Ons moet verseker dat ons kinders van jongs af presteer, veral op gebiede soos die wetenskap, tegnologie, ingenieurswese, die kunste en wiskunde. Dit sal hulle beter voorberei op die vierde nywerheids-revolusie.
Cyril Ramaphosa
Standard Bank, Absa en Nedbank het reeds aangedui dat duisende poste op die spel is omdat kliënte toenemend gebruik maak van die digitale bankdienste, eerder as om takke te besoek.
Daarenteen sê Capitec en FNB egter dat hulle meer personeel moet aanstel. Capitec stel dit egter duidelik dat hy ingenieurs, bedryfswetenskaplikes en masjienleer-deskundiges in diens moet neem. Die ander banke raak ook nie ontslae van werkers met dié vaardighede nie, maar wel van werkers wat byvoorbeeld as kassiere of klerke in banktakke werk.
Morajane is nie die eerste wat waarsku oor groot werkverliese wat Suid-Afrika weens die 4NR kan tref nie.
In sy verslag oor die kwessie wat in Maart gepubliseer is, sê die Nasionale Ekonomiese, Ontwikkelings- en Arbeidsraad (Nedlac) dat “die arbeidslandskap in die geval van onvanpaste vaardighede vir die meerderheid werkers in Suid-Afrika baie ongunstig sal wees en dat hulle inderdaad die risiko loop om vervang te word deur robotte, outomatiese stelsels en masjiene wat leer.”
Die samestellers van die verslag, prof. André Roux, Doris Viljoen en Deidré Samson, almal verbonde aan die Instituut vir Toekomsgerigte Navorsing aan die Universiteit Stellenbosch, waarsku dat ’n “aantal loopbaangeleenthede tot niet kan gaan” soos wat die 4NR ’n al groter rol in die ekonomie begin speel.
Die navorsers sê wel dat nuwe loopbaangeleenthede ook geskep kan word, maar dat nuwe vaardighede daarvoor nodig sal wees.
Die groep sê verval gegewe hoe jonk die Suid-Afrikaanse arbeidsmag is, is daar wel hoop vir die toekoms.
“Ons kan ’n demografiese dividend verdien, maar slegs as ons ’n bevolking het wat oor die toepaslike vaardighede beskik.”
Onderwys en die 4NR
Een van die eerste uitdagings van die 4NR vir die land, is onderwys.
“Onderwys het ’n totale ommeswaai nodig. Die hele onderwysomgewing, van kleuterskool tot nagraadse opleiding, moet herontwerp en in pas gebring word met die vereistes vir die aanleer van nuwe vaardighede,” lui die verslag.
Nedlac waarsku ook dat selfs al is mense klaar met skool en selfs al het hulle gestudeer, moet “lewenslange leer ’n noodsaaklikheid word; nie net ’n ‘lekker om te doen’ nie”.
Pres. Cyril Ramaphosa, ’n groot voorstander van die 4NR in Suid-Afrika, het juis in Januarie gesê die land se kinders moet voorberei word vir die 4NR en “ ’n werkplek wat heeltemal gaan verander”.
“Ons moet verseker dat ons kinders van jongs af presteer, veral op gebiede soos die wetenskap, tegnologie, ingenieurswese, die kunste en wiskunde. Dit sal hulle beter voorberei op die vierde nywerheidsrevolusie,” het hy op die departement van basiese onderwys se jaarlikse spitsberaad in Boksburg, Gauteng, gesê.
Die robotte is reeds hier
Die 4NR sal sonder twyfel die einde van talle loopbane kan beteken, en Nedlac wys daarop dat dit onvermydelik is.
Prof. Mashudu Tshifularo, hoof van oor-, neus-en- keelchirurgie in die Steve Biko- Akademiese Hospitaal in Pretoria, het ook onlangs gesê mense moet begryp dat dit nie ’n geval is van “die robotte kom” nie, maar eerder een van “die robotte is rééds hier”.
Tshifularo, wat in Maart vanjaar mediese geskiedenis gemaak het toe hy die eerste bio-identiese 3D-gedrukte middeloorbeen-oorplanting ter wêreld gedoen het, sê die 4NR skep baie nuwe loopbaangeleenthede, veral in die bedryf vir gesondheidsorg.
Dawie Roodt, hoofekonoom van die Efficient Group, sê “daar is geen rede om verskrik te voel oor ’n toekoms met kunsmatige intelligensie nie. Rekenaars, net soos enige ander tegnologie, word aangewend om van die wêreld ’n beter plek te maak.”
Die groep navorsers wat Nedlac se verslag saamgestel het, sê die sleutel tot sukses sal dus wees om te kyk watter loopbane geskep kan word wat by die 4NR pas.
Nedlac se verslag gee ’n lys van loopbaangeleenthede wat hy voorspel in die toekoms gaan uitbrei.
Van dié geleenthede sluit in:
· Operateurs van hommeltuie;
· Robotingenieurs;
· Kenners van kubersekerheid;
· Kenners wat kan help om fabrieke te outomatiseer;
· Kenners wat ou mynhope kan herwin;
· Ingenieurs om digitale produkte vir banke, die kleinhandel en ander sektore te ontwikkel;
· Ontwerpers van digitale produkte vir die onderwyssektor;
· Tegnici en ingenieurs wat op hernubare energie fokus; en
· Versorgers van bejaardes. – Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie