Dogter swanger nu00e1 pa haar glo verkrag
Dogter swanger nu00e1 pa haar glo verkrag

Dogter swanger ná pa haar glo verkrag

Volgens die Namibiese polisie is van die slagoffers oor lang tydperke verkrag en dra hulle die babas van hul vermeende verkragters.
Francoise Steynberg
Francoise Steynberg



Teen die agtergrond van verskeie minderjarige meisies wat die afgelope week glo verkrag is, word die ministerie van justisie se meer slagoffer-vriendelike wetsontwerp op verkragting verwelkom.

'n Bejaarde pa (61) van die Omufituwenghete-nedersetting naby Outapi in die Omusatistreek het glo sy minderjarige dogter swanger gemaak.

Volgens die Namibiese polisie se weeklikse misdaadverslag is die pa in Januarie in hegtenis geneem ná hy glo bloedskande met sy dogter gepleeg en haar swanger gemaak het. Sy was tydens die beweerde bloedskande jonger as 16 jaar oud.

Die pa sou gister in die Outapi-landdroshof verskyn het en die polisie­ondersoek duur voort.

Een van drie vermeende verkragters van 'n 14-jarige meisie van die Shighuru-nedersetting naby Ndiyona in die Kavango-Oosstreek is in hegtenis geneem en sou gister in die landdroshof op Rundu verskyn.

“Drie mans het die meisie Woensdag omstreeks 19:00 na bewering aan haar arms gegryp, haar die bosse ingesleep, haar arms en bene vasgemaak en haar verkrag,” sê die polisie.

Die polisieondersoek duur voort.

'n Vermeende 58-jarige verkragter sou ook gister in die landdroshof op Keetmanshoop verskyn het ná hy glo sedert Mei 2014 tot Mei 2018 'n minderjarige meisie (onder 16) op Aroab en ook op die plaas Sandduine ver­skeie kere verkrag het. Dié ondersoek duur ook voort.

Niemand is al in hegtenis geneem ná 'n man glo verlede Maandag en Dinsdag by Kamp 5 op Outjo 'n 12-jarige verkrag het nie. Die verdagte is aan die polisie bekend en hul ondersoek duur voort.



TAXIBESTUURDER VAS

Volgens die polisie het 'n taxibestuurder (67) glo tussen verlede Maandag en Donderdag drie susters (6, 7 en 9 jaar oud) by hul skool op Rehoboth opgelaai en huis toe geneem.

“In plaas daarvan om hulle huis toe te neem, het hy hulle na sy huis in Blok D geneem waar hy homself aan hulle ontbloot en hulle gedwing het om seksuele dade met hom te pleeg,” sê die polisie.

Hy is in hegtenis geneem en die polisieondersoek duur voort.

'n Sestienjarige seun het 'n 21-jarige vrou Saterdag om 03:00 in die Du Plessis-gebied naby Epukiro in die Omahekestreek na bewering verkrag.

“Die vrou het by 'n huis gedrink en die 16-jarige het glo aangebied om saam met haar huis toe te stap. By haar huis wou die seun glo langs haar slaap, maar sy het geweier en opgestaan.

“Hy het haar gegryp, die bosse ingesleep, haar onderklere geskeur en haar verkrag, waarná hy op die vlug geslaan het,” sê die polisie.

Die verdagte is nog nie in hegtenis geneem nie, maar is wel aan die polisie bekend.

Ook op Saterdag in die vroeë oggendure is 'n 22-jarige vrou glo deur twee mans in die Mondesa-woonbuurt op Swakopmund verkrag.

“Die vrou was omstreeks 03:00 op pad huis toe toe twee mans haar genader het en met 'n mes in 'n leë huis ingedwing het.

“Hulle het haar gedwing om te ontklee en haar verkrag,” sê die polisie.

“Hulle het besluit om haar na 'n ander plek te neem. Op pad het sy 'n groep mans van haar buurt gesien, na hulle gehardloop en die twee verdagtes het weggehardloop.”

Die polisieondersoek duur voort.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer