Dokic laat bom bars oor mishandeling

Tennis
Die Australiese tennisspeler Jelena Dokic onthul jarelange mishandeling deur haar pa in 'n nuwe boek.

Dokic (34), wat in 2003 tot nommer 4 op die wêreldranglys vir vroue gevorder het, maak skokkende onthullings in die boek.

Haar pa, Damir Dokic, was jare lank een van die mees berugte “tennispa's” en die boek Unbreakable maak nou die omvang van sy mishandeling van sy dogter bekend. Die boek word vandag in Australië uitgereik.

Jelena onthul van die oomblik dat sy as sesjarige 'n raket opgetel het, het haar pa haar geslaan, geskop, gespoeg en gevloek in 'n poging om van haar die beste speler in die wêreld te maak.

“Hy het my regtig sleg geslaan,” het Dokic die naweek aan The Sunday Telegraph in Sydney gesê. “Dit het basies op dag een van my tennisloopbaan begin. Van daar af het dit net erger geraak en hy het beheer verloor,” het die Aussie gesê.

Van die aantygings wat sy maak is:

• Damir Dokic het haar een keer so hard geslaan dat sy haar bewussyn verloor het.

• Hy het haar dikwels ná 'n swak oefening of wedstryd met 'n swaar leergordel geslaan.

• Hy het haar in die gesig gespoeg; haar hare en ore getrek en haar geskop met 'n swaar skoen totdat sy bebloed was.

• Hy het sy tienerdogter geskel en gevloek en haar gereeld 'n “slet” en 'n “hoer” genoem.

Damir, wat deesdae in sy geboorteland Serwië woon, het nie op navrae van The Sunday Telegraph reageer nie.

Jelena sê sy het dit selfs oorweeg om haarself om die lewe te bring weens die mishandeling. Sy sê die sielkundige aftakeling was soms erger as die geweld.

“Die slanery het op byna daagliks plaasgevind, maar ek het ook met die sielkundige situasie gesukkel. Die fisieke pyn is erg, maar wanneer jy 11, 12 is, is dit baie moeilik om iemand daardie goed oor jou te hoor sê.”

Sy het ook vertel hoe haar pa haar uit hul hotelkamer geskop het die aand nadat sy in 2000 in die halfeindronde van Wimbledon teen die Amerikaner Lindsay Davenport verloor het. Sy was maar 17 jaar oud en het die aand op 'n rusbank by die baan geslaap.

Sy sê haar grootste berou was dat sy na haar pa geluister het toe hy haar oorreed het om haar burgerskap in 2001 van Australiër tot Serwiër te verander.

“Dit was 'n groot fout en het my baie skade berokken. Ek het jare later weer vir Australië gespeel, maar toe was dit te laat.”

• Tennis Australië sê in 'n verklaring ofskoon daar destyds gerugte was oor Dokic se mishandeling, was dit baie moeilik om op te tree aangesien Jelena nie self om hulp gevra het nie. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!