Dokter in naelloop-'tweeling' se kamp
Afrigter Henk Botha en sy twee “kinders” keer waarskynlik nog vandeesweek terug ná hul epiese Europese verowering.
Andrew Poolman – Meer wetenskaplike data sal ingewin moet word voordat 'n werklik ingeligte besluit oor die vooruitsigte vir die Namibiese naellopers Beatrice Masilingi en Christine Mboma geneem kan word, sê hul afrigter Henk Botha.
Die drietal se eerste Europese avontuur staan einde se kant toe en hulle word voor die einde van die week terug in Windhoek verwag, voordat hulle binnekort van hier na die Olimpiese Spele in Tokio, Japan, vertrek.
Mboma en Masilingi het oor die afgelope vier weke groot golwe gemaak tydens hul reeks deelnames in Europa.
Mboma se hoogtepunt was haar vernietigende 400 m-vertoning verlede week in Pole waar sy met 'n bykans ongehoorde voorsprong van minstens 20 meter onder die Europese kampioen en die res van uitgeseil het.
Haar wentyd van 48.54 sekondes is die vinnigste tyd deur enige vrou ter wêreld vanjaar en klop die Olimpiese en wêreldkampioen Shaunae Miller-Uibo (Bahamas) se 49.08. Derde op die wêreldlys is Masilingi se 49.53 (10 April in Lusaka).
Hierdie aandag het egter ook 'n ongewenste newe-effek gehad toe Wêreldatletiek skaars 'n dag ná Mboma se wondervertoning in Pole die mat onder beide se voete uitgepluk het met die onttrekking van hul uitnodiging om die 400 meter by die Tokio-spele te hardloop.
Beide het ook in die 200 meter die Olimpiese kwalifikasie behaal en word toegelaat om in die afstand mee te ding – hoewel hulle hierin veel minder oorheersend as oor die volle baanrondte presteer.
“Ek glo Wêreldatletiek se besluit is nie op alle relevante inligting gegrond nie,” het Botha gister uit Rome gesê.
“Die mediese ondersoeke waarop Wêreldatletiek aangedring het, is deur 'n ginekoloog uitgevoer en het sonartoetse en bloedtoetse ingesluit. Geen genetiese toetse is egter gedoen nie, wat deel is van die teenargument dat dit onregverdig en dalk onwetenskaplik is om summier te verklaar dat Beatrice en Christine in dieselfde klassifisering van DSD-atlete (met verskille in geslagsontwikkeling) hoort.”
Botha stel ook belang om die amptelike antwoord te kry hoekom die twee Namibiërs uitgekies is om aan hierdie toetsing onderwerp te word – wat nie noodwendig normale prosedure vir alle vroue-atlete is sonder dat iemand 'n klagte of 'n versoek met geldige gronde indien nie.
“Dr. Stephané Bermon (Wêreldatletiek se mediese beampte) het gesê die toetse is uitgevoer op grond van ons kinders se uitsonderlike prestasies, asof hulle uit die niet op die toneel gebars het.
“Die probleem is bloot dat hulle straks onbewus is van hoe die kinders die afgelope twee jaar baie hard gewerk en stadig maar seker die leer geklim het. Hulle het bloot die eerste resies gesien (op 7 Junie in Praag), maar daai is nie die beginpunt nie.
“Hul vorige prestasies wat by Wêreldatletiek aangemeld was, was redelike ou byeenkomste omdat soveel geleenthede weens Covid-19 deur die mat geval het. Maar ons het die voorreg gehad om deur die Covid-tyd met ons oefenprogram voort te gaan.
“So, ek het nie antwoorde vir al die goed nie. Al wat ek sê, is dat dit nou die huidige situasie is. Ons kan seker klippe gooi en foute (in Wêreldatletiek se beslissing) soek, maar in hierdie stadium het ons net nie voldoende inligting nie. Maar ek glo die mediese kenners en ander kommentators het dit reg, wat aanvoer dat ons atlete nie noodwendig in dieselfde bootjie as byvoorbeeld Caster Semenya is nie.”
'HEMELSBREë VERSKILLE'
Die Windhoekse dokter Andreas Obholzer reken Namibië behoort namens die atlete 'n wetenskaplik gegronde appèl teen Wêreldatletiek se beslissing van stapel te stuur.
Hy sê hormoon- en chromosoom-toetse sal uitsluitsel moet gee voordat die atletiek-owerhede die werklike bron van die 18-jarige Namibiese atlete se natuurlik verhoogde testosteroonvlakke kan vasstel.
“Die vraag word met reg gevra hoekom swart atlete uit Afrika soveel meer onder die vergrootglas is wanneer hulle goed presteer.
“Wetenskap is 'n dinamiese veld – wat tien jaar gelede as 'n feit aanvaar is, het intussen ander wendings geneem. Kyk as voorbeeld na die sportwetenskaplike prof. Tim Noakes se beskouing van diëte.
“Vra jouself dié twee vrae af: Wie beheer die wetenskap? En wie trek geldelike voordeel voordeel uit die wetenskap? Daar kan sonder twyfel vooroordeel in wetenskaplike bevindinge versteek wees.
“As jy praat van 'n hoër as normale vlak van testosteroon, moet 'n mens vra hoe normaal gedefinieer word – want normaal is op sigself 'n wye spektrum. Strawwe atletiese oefening is een faktor wat byvoorbeeld vroue se hormoonvlakke kan beïnvloed.
“Daar is ook 'n faktor soos spier-oorerflikheid. Kenia se produksie van wêreldklas atlete in die middelafstande kan byvoorbeeld gemeet word aan die afstande wat skoolkinders tussen die huis en die skool aflê.
“Hierdie Namibiese kinders wat nie in luuksheid grootgeword het nie, het ondanks die struikelblokke in hul pad 'n betekenisvolle mate van sukses behaal. Hulle verdien terdeë om verder ondersteun te word – binne die raamwerk van die wetenskap wat nou die nuutste hindernis in hul pad boontoe is.
“Uit my oogpunt is daar 'n oorhaastigheid in Wêreldatletiek se beslissing en dit kan nie sommer net so aanvaar word nie. Om aan te voer dat testosteroonvlakke op sigself die enigste faktor is hoekom hulle die kompetisie uitstof, is om elke ander opstapelende suksesfaktor soos afrigting, motivering, ambisie, talent, selfbeeld, ondersteuningsraamwerk en soveel meer buite rekening te laat.
“Sogenaamde DSD-atlete soos Caster Semenya en andere is ook nie sonder meer 'n gelyke maatstaf vir Masilingi en Mboma nie. Uit my siening is daar hemelsbreë verskille.
“Om mense uit te sluit op grond van net een faktor lei daartoe dat die hele kompetisie verwring word. Regulasies mag nie gebruik word om atlete se natuurlike talent teen hulle te hou nie.”
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie