Dokters wis nie van voorskrifte
Die herskedulering van sekere medikasie jaag die koste vir pasiënte verder op.
Henriette Lamprecht
Geen amptelike kennisgewing is aan lede van die twee grootste verenigings vir dokters in die land uitgestuur oor die herskedulering van medikasie, insluitende kodeïen, wat nou 'n voorskrif vereis nie.
Nóg die Namibiese Private Praktisynsforum (NPPF) nóg die Mediese Vereniging van Namibië (MAN) is amptelik hieroor deur die Namibiese Medisynebeheerraad (NMRC) of die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste (MoHSS) ingelig.
Die Aptekersvereniging van Namibië (PSN) het verlede week die NMRC en MoHSS hof toe gesleep om 'n besluit ter syde te stel om die klassifikasie van kodeïen van 'n skedule 1-medikasie na skedule 2 te verander.
Ook moet die besluit ter syde gestel word om die klassifikasie en toelaatbare dosisse van sekere ander medisyne en middels te verander.
ANDER PRODUKTE
Dié medisyne en middels sluit onder meer entstowwe, vitamien A, B, C, D en K, water vir inspuitings, asook inspuitings in.
Dr. Dries Coetzee van die NPPF sê lede het geen amptelike kennisgewing oor die besluit ontvang nie en hulle het “via apteke” daarvan gehoor, wat pasiënte vir voorskrifte na hulle verwys het.
Lede was ook nie bewus van die ander produkte wat hierdeur geraak word nie.
“Dit kon wel gegazette gewees het, maar wie lees elke dag die Staatskoerant? Hoe weet ek hierdie goed as dit nie met dokters gekommunikeer word nie?” vra Coetzee.
Volgens hom gaan die besluit ook kostes onnodig opjaag.
“'n Dokter gaan nie 'n pasiënt verniet behandel nie. Die pasiënt moet steeds 'n konsultasie- en voorskriffooi betaal.”
Dr. David Weber van MAN het beaam geen amptelike skrywe is van die NMRC of MoHSS oor die kwessie ontvang nie.
Volgens Weber moet die herskedulering van medikasie ook die blaam dra vir die feit dat sekere “gewone” medikasie nie beskikbaar is nie.
“Die beskikbaarheid van behandeling is 'n mensereg. Omdat sekere produkte nou geherskeduleer is, is dit nie moontlik nie,” sê Weber.
Mnr. Benjamin Khumalo van die PSN verwys in hofstukke na verskeie produkte wat deur die besluit geraak word.
Dit sluit onder meer griep- en vitamien B-inspuitings in, wat voorheen sonder voorskrif deur aptekers toegedien kon word.
Volgens Khumalo word griepinspuitings in groot hoeveelhede aan die begin van die winter aan gemeenskapsapteke beskikbaar gestel.
“Letterlik duisende Namibiërs nader hul aptekers jaarliks vir 'n griepinspuiting.
“Met skedule 2 wat nou op 'n 'kombersverbod' op inspuitings dui, mag entstowwe nie meer deur aptekers deur middel van 'n inspuiting toegedien word nie. Dit beteken byna alle entstowwe wat normaalweg deur aptekers toegedien word, het die mediese landskap deur 'n enkele besluit ten slegste verander sonder dat die aptekersbedryf van die redes hiervoor ingelig is,” sê Khumalo.
Die herskedulering van normale soutwater en water vir inspuitdoeleindes tot skedule 2 is “belaglik”, sê hy.
Khumalo sê ook die NMRC en MoHSS se “onvanpaste optrede” word duidelik wanneer die vaardighede van aptekers met etlike jare se formele en praktiese ervaring en “duisende inspuitings” vergelyk word met die feit dat 'n studenteverpleegster enige aantal inspuitings aan pasiënte kan toedien ná net 12 maande se opleiding.
Hy verwys ook na die herskedulering van produkte soos Capsaicin, 'n anti-inflammatoriese middel wat in sportpleisters gebruik word om spiere te verhit en te laat ontspan, wat op supermarkrakke beskikbaar was.
“Die enigste ooglopende skade uit die gebruik van die middel is wanneer jy dit in jou oë vryf, maar dit kan ook met goed gebeur wat geredelik beskikbaar is, soos peper, mosterd en rissies.” - [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie