Doku-reekse skyn kollig op woestynland se skatte
Namibië se storie op die Namibiese manier vertel
Mariselle Stofberg
Die Nasionale Erfenisraad van Namibië het met die nasionale uitsaaier (NBC) hande gevat om twee dokumentêre films te vervaardig oor Namibië se wêrelderfenisgebiede: Twyfelfontein |Ui-?Ais en die Namib-sandsee by Sossusvlei.
Hierdie projek is moontlik gemaak deur die finansiering van die Duitse kommissie vir die Verenigde Nasies se Onderwys-, Wetenskap- en Kultuurorganisasie (Unesco), as deel van hul #SOSAfricanHeritage-finansieringsinisiatief.
Die twee dokumentêre films is gister amptelik by die NBC se hoofkwartier bekend gestel, waar die hooftoespraak deur die minister van onderwys, kuns en kultuur, me. Anna Nghipondoka, gelewer is.
Mnr. Moses Moses, die waarnemende voorsitter van die NHC, het beklemtoon hoe belangrik hierdie projek is vir die land as geheel is.
“Hierdeur is dit vir ons moontlik om getrou te bly aan ons mandaat om ons erfenis te beskerm en op só ’n wyse vas te vang dat dit mense van dwarsoor die wêreld sal lok om ons land te besoek.
“Hierdie projek is van onskatbare waarde vir ons land, ons toerismebedryf en ons erfenis,” het Moses gesê.
Die rolprente vertoon die landskap en kenmerkende aspekte van hierdie erfenisgebiede, en deel die stories van die gemeenskappe wat in en rondom hierdie gebiede woon en werk.
Die Namib-sandsee is die enigste kuswoestyngebied in die wêreld en is die tweede gelyste wêrelderfenisgebied in Namibië nadat Twyfelfontein in die Kunenestreek as tuiste van die wêreld se grootste konsentrasie van rotskuns in 2007 hierdie status verkry het.
“Ek doen ’n beroep op elke Namibiër om hul deel te doen om ons land se erfenis en kultuur te bewaar. Nomineer ons erfenisgebiede om deur Unesco as wêrelderfenisgebiede gelys te word,” het die minister van die omgewing, bosbou en toerisme, mnr. Pohamba Shifeta, gesê.
Die direkteur-generaal van die NBC, mnr. Stanley Similo, het uitgewys hoe skokkend dit is dat buitelanders meer van Namibië en sy erfenisgebiede weet as die landsburgers.
“Ons moet die tyd neem en die moeite doen om ons land te leer ken. Deur hierdie projek kan ons die Namibiese storie op ons manier vertel, en ons land met die wêreld deel. ”
Een punt wat ook tydens die bekendstelling aangeraak is, is die veranderende aard van erfenis, maar ook die belangrikheid daarvan om hierdie kultuur op só ’n manier vas te vang dat dit altyd bewaar en bevorder kan word.
“Erfenis en kultuur is nie staties nie. Dit verander soos ons en die wêreld verander, maar dit is ons werk om hierdie erfenis te bewaar vir toekomstige geslagte,” het me. Erica Ndalikokule, die NHC-direkteur, ten slotte gesê.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie