Dominee kritiek nu00e1 skietongeluk
Dominee kritiek nu00e1 skietongeluk

Dominee kritiek ná skietongeluk

'n Geliefde afgetrede NG Kerk-leraar sterk in 'n hospitaal in Windhoek aan.
Francoise Steynberg
Francoise Steynberg - “Die feit dat hy tot in Windhoek oorleef het, is 'n wonderwerk.”

Só het ds. Thijs van der Merwe, algemene sekretaris van die NG Kerk in Namibië, van sy predikantsvriend, dr. Jan Woest (61), gesê wat Maandag op sy plaas naby Dordabis in 'n skietongeluk was.

"Hy is in 'n kritieke, maar stabiele toestand. Hy gaan vir 'n hele ruk nog kritiek wees," het Van der Merwe gister aan Republikein gesê.

Volgens Van der Merwe was Woest Maandagmiddag in die veld op sy plaas toe hy in sy voertuig die 30.06-jaggeweer agter sy kussing ingesit en ‘n skoot per ongeluk afgegaan het.

Die skoot het glo van agter deur Woest se boud en bekken gegaan en by sy bobeen uitgekom waar dit die femur gelukkig gemis het.

Sy slagaar en ander are in dié area is afgeskiet wat geweldige bloeding veroorsaak het.

"Hy het hulp ontbied en sy vrou, Nicoleen, en sy seun Nico het hom in die veld gekry. Nico, wat medies gekwalifiseer is, het vir hom 'n drup opgesit," sê Van der Merwe.

"Daarna het hulle met hom van die plaas af ingery Windhoek toe en ’n ambulans wat van voor af gekom het, het hom verder geneem. Op Rehoboth het hulle hom twee eenhede bloed gegee, waarna hy na die Rooms Katolieke Hospitaal in Windhoek geneem is."

Woest was meer as twee ure in die teater en word in die intensiewesorgeenheid (ICU) van die hospitaal versorg.

"Tydens en ná die operasie het hy verskeie eenhede bloed ontvang. Hy is in ’n kritieke toestand weens die swaar bloedverlies en uiteraard die skok op sy gestel weens die koeëlwond," sê Van der Merwe.

"Die chirurg sê tydens die operasie is slegs die bloedtoevoer herstel. Die slagaar en ander are moet nog herstel word. As hy gestabiliseer het, sal hulle aandag aan die ander uitdagings gee."

Van der Merwe sê Woest is gistermiddag weer terug teater toe, want die bloeding was toe nie heeltemal gestop nie.

Boonop het Woest ‘n skaars bloedgroep, O-positief, en gister het mense spesiaal vir hom gaan bloed skenk.

“Daar is tans tydens die Covid-19-pandemie ‘n skaarste van bloed by die Namibiese Bloedoortappingsdiens, so ek doen ‘n beroep op Namibiërs om in elk geval te gaan bloed skenk,” het Van der Merwe gesê.


Woest is 'n afgetrede NG Kerk-leraar wat besig was om "baie belangrike vryskutwerk" vir die sinode te doen.

Academia was die laaste gemeente waar hy as predikant betrokke was. Sy vyf jaar lange kontrak met die sinode het verlede jaar volgens Van der Merwe verstryk, waarná Woest hom op sy plaas toegespits het.

Hy was sedert 2004 in diens van die sinode.

Boonop sal Woest sy 62ste verjaardag eerskomende Vrydag waarskynlik in die hospitaal vier.

Van der Merwe vra vir gebede vir Woest, sy vrou en seuns.

Op die Facebook-blad van die NG Kerk in Namibië het boodskappe van beterskap van heinde en verre ingestroom.

“Wat 'n skok om die nuus te verneem. Jan is een van die NG Kerk se voorste dogmatici en denkers. Ons kan maar net bid vir sy herstel. Laat ons ook sy gesin in ons gebede onthou,” skryf Fanie Snyman.

“Dit is ‘n geweldige skok om van Jan se besering te hoor. So dankbaar dat hy die hospitaal kon bereik. Ons bid dat die Here hom en sy gesin sal beskerm en dra, “ skryf Danie Mouton.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!