Don Kossakke sing Ystergordyn op ’n skrefie oop
Ronelle Rademeyer - Met die jongste spruit wat hom tans saam met sy Namibiese spanmaters in Rusland bevind, praat ek en die pa die ander aand oor hoe ons as kinders teen dié grote – en grootse – land geïndoktrineer is.
Die kerk, skool en nasionale media het diepgewortelde vrese vir die donker wêreld agter die Ystergordyn en die Rooi Gevaar van kommunisme in ons jong Afrikaner-psiges geplant.
Saam met die Koue Oorlog het ’n koue angs ons beetgepak oor KGB-spioene in swart jasse wat hoed-oor-die-oë in donker stegies rondsluip en duister planne smee om ons ondergang te bewerkstellig.
Ons het vir só lank aan Russofobie gely.
Die Sowjetunie is in ons jong gemoedere tot Stalinistiese vergrype en Siberiese strafkampe gereduseer.
Dis eers veel later in my lewe dat ek deur skrywers soos Tolstoi (Anna Karenina), Dostojefski (The Idiot), Pasternak (Doctor Zhivago) en Solzhenitsyn (The Gulag Archipelago) die ryklike geskakeerdheid van Rusland, sy mense en sy geskiedenis ontdek het.
In my kinderdae was daar darem een stukkie Russiese lekkerte wat in ons huis toegelaat is: Die Don Kossakke-koor.
As dié mannekoor, onder leiding van Sergei Jaroff, met “Abendglocken” losgetrek het, het die Ystergordyn op ’n skrefie oopgegaan.
Ek is sommer opnuut die ene hoendervel as ek aan die diep weerklank van daardie basstemme terugdink. Dit was hoeka die einste Tolstoi wat gesê het “music is the shorthand of emotion”.
Die koor is gevorm uit Kossakke wat hul vaderland ná die kommunistiese oorname verlaat het en in ’n vlugtelingkamp naby Istanboel in Turkye beland het. Hulle is later na die Griekse eiland Lemnos en vandaar na die Bulgaarse dorp Cilingir.
Ek lees die koor het sy openbare debuut in 1923 in die Ortodokse Alexander Newsky-katedraal in Sofia gemaak. Verskeie suksesvolle optredes in Europa het gevolg. In 1926 toer die Don Kossakke-koor deur Australië en vier jaar later volg Amerika.
Die koorlede het later almal Amerikaanse burgerskap ontvang en het tydens die Tweede Wêreldoorlog in dié land gewoon.
Hul laaste toer saam met die briljante Jaroff het in 1979 plaasgevind en in 1981 het hy ná 60 jaar as koorleier uitgetree.
Na ’n dekade lange onderbrekeing is die koor in 1991 deur Wanja Hlibka en George Tymchenko herstig en hou hulle steeds gereeld konsert.
Betekenisvol was die ontdekking dat Krasnodar, die stad in Suid-Rusland, waar die Namibiese span môre teen Rusland speel, juis vanweë die Kossakke in die laat 1700’s sy beslag gekry het.
Die verskillende Kossak-gemeenskappe van weleer se name is deur die riviere waarlangs hulle gewoon het, aan hulle toegeken. Die Don Kossakke langs die Donrivier, die Ural Kossakke langs die Uralrivier, die Kuban Kossakke van Krasnodar van die Kubanrivier, ensovoorts.
Die gebied langs die Kubanrivier, waar Krasnodar geleë is, is in die laaste dekade van die 1700’s deur Katerina die Grote aan die Kuban Kossakke geskenk, lees ek.
Krasnodar beteken dan ook “Katerina se geskenk”.
Om in die gees te kom vir môre wanneer die span speel, sal ek en die pa vanaand na Abendglocken luister en ’n vodkatjie drink.
Nostrovia Namibië!

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie