Donald Trump dank prokureur-generaal af
Donald Trump dank prokureur-generaal af

Donald Trump dank prokureur-generaal af

Die mallemeulerit waarop die Trump-administrasie Amerika geplaas het, duur voort.
Estelle de Bruyn
Pres. Donald Trump het Sally Yates, Amerika se waarnemende prokureur-generaal, afgedank.

Dit kom nadat Yates laat Maandag aangedui het die departement van justisie kan nie Trump se 120 dag-verbod om vlugtelinge na Amerika toe te laat; 'n onbepaalde verbod op vlugtelinge van Sirië; en 'n 90 dag-verbod op burgers van Iran, Irak, Libië, Somalië, Soedan, Sirië en Jemen afdwing nie.

Sy sê dit sou nie reg wees om die bevel te verdedig nie, want dit is “strydig met die instelling se verpligting om altyd geregtigheid na te streef en om te staan vir dit wat reg is”.



Ure later is sy afgedank

Die Withuis het in 'n verklaring gesê sy het “die departement van justisie verraai deur te weier om 'n bevel af te dwing wat Amerikaanse burgers beskerm”. Die Withuis meen ook Yates se optrede is polities van aard.

Die uitvoerende bevel het tot die aanhouding en deportasie van honderde mense gelei wat in Amerika by lughawens opgedaag het.

Dit het ook tot reusebetogings in baie Amerikaanse stede gelei.

Trump het die stap verdedig as noodsaaklik vir Amerikaanse sekuriteit, maar sy kritici meen dit sonder Moslems uit en dat hy Amerikaanse wetgewing asook die land se grondwet oortree.

Yates, wat destyds deur pres. Barack Obama aangestel is, sou in elk geval binne dae deur Trump se keuse, senator Jeff Sessions, vervang word.

“Yates is 'n Obama-aanstelling; sy was swak in grensbeheer en die vervolging van onwettige immigrante,” sê die Withuis.

Obama het vroeër Maandag by monde van 'n woordvoerder gesê hy is sterk gekant teen enige beleid wat teen mense van verskillende gelowe diskrimineer.

“Mense wat hul grondwetlike reg gebruik om te betoog, sodat dié wat verkies is kennis kan neem dat hulle iets teenstaan, is presies wat ons wil sien wanneer Amerikaanse waardes op die spel is,” sê Kevin Lewis, Obama se woordvoerder.

Dana Boente, 'n staatsprokureur van die deelstaat Virginië, sal waarneem totdat Sessions aangestel word. 

- Netwerk24/Reuters

Kommentaar

Republikein 2024-11-27

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 21° | 36° Rundu: 24° | 34° Eenhana: 21° | 36° Oshakati: 22° | 36° Ruacana: 19° | 36° Tsumeb: 24° | 37° Otjiwarongo: 19° | 35° Omaruru: 18° | 36° Windhoek: 18° | 32° Gobabis: 17° | 32° Henties Bay: 14° | 20° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 16° | 31° Mariental: 16° | 31° Keetmanshoop: 14° | 30° Aranos: 16° | 31° Lüderitz: 13° | 29° Ariamsvlei: 14° | 30° Oranjemund: 12° | 26° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 17° | 32° Lubumbashi: 17° | 25° Mbabane: 12° | 19° Maseru: 9° | 20° Antananarivo: 18° | 30° Lilongwe: 22° | 34° Maputo: 20° | 25° Windhoek: 18° | 32° Cape Town: 16° | 23° Durban: 15° | 24° Johannesburg: 14° | 25° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 19° | 21° Harare: 18° | 26° #REF! #REF!