Donker jare wag op konstruksie
Jo-Maré Duddy - Konstruksie, Namibië se ekonomiese steunpilaar die afgelope jare, gaan tot in 2018 steier.
Só voorspel die Bank of Namibia (BoN) in sy ekonomiese vooruitsig wat vandeesweek vrygestel is. Konstruksie het in 2013 met 28,5% gegroei, in 2014 met 42,9% gebult en verlede jaar na raming met 33,7% toegeneem. Daarenteen verwag die BoN die sektor sal vanjaar met 7,5% inkrimp, volgende jaar negatiewe groei van 3,7% aanteken en in 2018 nóg swakker vaar en met 9,5% inkrimp.
Die insinking in konstruksie is een van die vernaamste redes dat Namibië se ekonomie vanjaar na verwagting met net 4,4% sal groei vergeleke met ’n geskatte 5,7% in 2015. Eweneens speel dit ’n groot rol in die verwagte algehele inkrimping van 1,4% in tersiêre nywerhede vanjaar nadat dit verlede jaar met ’n stewige 8% gegroei het.
Die BoN sê konstruksiebedrywighede gekoppel aan private belegging in die mynbousektor en die regering se infrastruktuurprojekte het groei in dié sektor die afgelope jare aangevuur. Dié projekte is egter afgehandel of nader voltooiing.
Nuwe projekte is nie groot genoeg om die groeibasis te volhou wat in die afgelope drie jaar deur mynboukonstruksie daargestel is nie, sê die BoN. Voorts is die regering se infrastruktuurbesteding weens begrotingskonsolidering nou tot bestaande projekte beperk. Vergeleke met die vorige begrotingsjaar sal die regering se ontwikkelingsbegroting in 2016-’17 na verwagting 18% minder wees.
Weens die waterkrisis in veral Sentraal-Namibië gaan druk op private konstruksiebedrywighede geplaas word, sê die BoN. Boonop ontmoedig onsekerheid oor die uraanprys en die toestaan van visvangregte groot private beleggings in dié sektore op kort termyn. Bestaande visvangregte verval in 2018-’19 en maatskappye sal opnuut daarvoor moet aansoek doen.
Die H-faktor
Namibië se ekonomiese redding vanjaar gaan in mynbou lê. Dié sektor sal na verwagting met 7,7% groei nadat dit verlede jaar na raming met 0,1% ingekrimp het.
Dié beter vertoning sal deur die uraan- en metaalertsbedryf aangevuur word. Uraan sal na verwagting met 58,2% groei vergeleke met ’n inkrimping van 18,1% in 2015. Dié drastiese ommekeer is danksy Swakop Uranium se Husabmyn wat in September vanjaar met produksie begin, sê die BoN. Sodra Husab teen volle kapasiteit produseer, sal dit na verwagting 6 810 ton uraanoksied per jaar lewer.
Rössing Uranium sal ook bydra tot beter algehele groei vanjaar in die uraansektor. Dié myn se produksie vir die eerste vyf maande van 2016 is 58% hoër as dieselfde tydperk verlede jaar.
Die BoN verwag Namibië se totale uraanproduksie sal van 3 420 ton in 2015 tot 13 052 ton in 2018 styg. Volgens die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) sal die uraanprys vanjaar na verwagting met 11,2% val, maar volgende jaar weer met 5,8% styg.
Danksy die Otjikotogoudmyn en die Tschudikopermyn sal groei in die metaalertsbedryf vanjaar waarskynlik met 29% toeneem.
Die BoN verwag Otjikoto sal vanjaar 4 394 kg goud lewer. Teen 2018 behoort dit volle kapasiteit te bereik en jaarlikse produksie tot 6 670 kg op te stoot. Tschudi se verwagte produksie vir 2016 is 17 000 ton.
Die BoN sonder die elektrisiteit- en watersektor ook as een van dryfvere van ekonomiese groei vanjaar uit. Na verwagting sal dit in 2016 met 10,8% groei teenoor 9,8% in 2015.
Volgens die sentrale bank se berekenings gaan slegs primêre nywerhede vanjaar algeheel beter vaar. Groei van 3% word verwag vergeleke met ’n inkrimping van 3,1% in 2015. Tersiêre nywerhede se groei gaan van 5,9% in 2015 tot 5,6% daal, verwag die BoN.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie