Donkies in NV bespreek
Donkies in NV bespreek

Donkies in NV bespreek

Kennis is in die Nasionale Vergadering gegee dat twee ministers heelwat vrae oor die slagting van donkies moet beantwoord.
Estelle de Bruyn
Estelle de Bruyn - Die beplande donkieslagpale het Dinsdag in die Nasionale Vergadering gedraai toe die UDF-lid, mnr. Dudu Murorua, kennis gegee het van vrae wat hy aan die minister van nywerheidsontwikkeling, handel en SME-ontwikkeling, mnr. Immanuel Ngatjizeko, sal vra.

Hy wil weet wat die ministerie se posisie oor die bemarking, slag en uitvoer van donkievleis en -produkte van Namibië na China is. Hy vra ook of die regering 'n studie gedoen het om vas te stel hoe die handel in donkievleis die lewe en die landelike ekonomië van arm mense in landelike gemeenskappe sal raak, aangesien donkies dikwels die enigste vervoermiddel vir arm mense is om brandhout te versamel, water te vervoer en siekes na klinieke te neem.

Hy wil ook weet of waardetoevoeging van donkievleis in Namibië gedoen kan word eerder as om dit onverwerk na China uit te voer. Hy sê China het 'n monopolie op die handel in donkievleis. Die slag en verwerking van donkies moet eerder gebruik word om sub-industrieë plaaslik te bou en werksgeleenthede vir plaaslike mense te skep.

Hy wil ook van die minister weet hoekom lande soos Mali, Niger, Burkina Faso, Senegal en Pakistan 'n totale verbod op die uitvoer van donkievleis en -produkte geplaas het.

Murorua vra ook dat donkieslagpale nie in stede nie, maar nader aan landelike kommunale gemeenskappe opgerig moet word. Dit sal arm mense help om hoë vervoerkoste vry te spring en landelike gemeenskappe help om te monitor dat die donkies wat bemark word met die toestemming van die wettige eienaars aangebied word.

Murorua het ook kennis gegee dat hy vrae aan die minister van landbou, water en bosbou, mnr. John Mutorwa, in die verband sal vra. Mutorwa sal moet sê hoe die verslagting van donkies deur die ministerie gereguleer gaan word, aangesien die beweging van donkies nie op dieselfde manier as ander diere ingevolge die Veebrandwet, Wet No. 24 van 1995, gereguleer word nie.

Kommentaar

Republikein 2025-04-18

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer