Donkieslagpale dalk op Outjo opgerig
Tanja Bause
Die Namibies-geregistreerde maatskappy Fu Hai Trading Enterprise het die munisipaliteit van Outjo in Oktober 2016 genader om 'n stuk grond te koop.
Die maatskappy wil 'n donkieslagpale daar oprig.
“Ons het 'n stuk grond aan hulle toegeken, maar ons wag nog op die goedkeuring van die regering en die veeartsenydienste. Die maatskappy moet ook nog 'n omgewingsimpakstudie en volledige besigheidsplan aan ons verskaf,” het mnr. Joseph Urib, hoof uitvoerende beampte van Outjo se munisipaliteit gesê.
Urib sê hy is besig met die ontwerp van 'n advertensie wat die publiek die geleentheid sal gee om besware te opper.
“Die besware sal dan aan die dorpsraad voorgelê word en 'n finale besluit sal geneem word,” het hy gesê.
'n Petisie teen die beplande slagpale is reeds opgestel.
“Die Chinese besigheidsman het die munisipaliteit genader om die slagpale sodat donkievleis en -vel na China uitgevoer kan word. Die munisipaliteit van Outjo nooi alle wettige besighede om hul planne aan die raad voor te lê,” het mnr. Marius Sheya, burgemeester van Outjo, gesê.
Sheya sê hy is nie bewus van die petisie nie.
“Ek is siek en sat vir mense van Outjo wat nuwe besighede teenstaan wat die dorp kan ontwikkel en werksgeleenthede kan skep,” het hy gesê.
Die gelatien van die donkievelle word gebruik om “ejiao” mee te maak.
Ejiao is 'n harde jellie wat in warm water of alkohol oplos.
Dit word in kos of water gebruik of in kosmetiese middels soos gesigroom. Daar word geglo dit verbeter bloedsirkulasie. Dit word ook deur mense met bloedarmoede, lae bloedseltellings en voortplantingsprobleme gebruik.
Daar is glo nie genoeg donkies in China oor om ejiao te vervaardig nie. Dus ondersoek vervaardigers moontlikhede in Afrika, waar die donkiepopulasie nog gesond en groot is.
Lande soos Niger en Burkina Faso het reeds die uitvoer van donkievelle verbied.
In 2016 is sowat 80 000 donkies van Niger na China uitgevoer in vergelyking met 27 000 in 2015.
In Burkina Faso is 18 000 donkies in die eerste kwartaal van 2016 aan China verkoop, en 1 000 vir dieselfde tydperk in 2015.
Naivasha in Kenia het ook donkieslagpale oopgemaak om die Chinese mark te bevredig.
Maar dié uitvoermark het 'n baie negatiewe impak op die gemeenskap.
In Niger het die prys van 'n donkie van U$34 na U$147 gestyg.
Dit maak oorlewing vir die landelike gemeenskap, wat op donkies staatmaak vir hul bestaan, baie moeilik.
In reaksie hierop het dié twee lande se regerings die uitvoer van donkies en donkieprodukte verbied.
In Suid-Afrika het die Nasionale Raad van Dierebeskermingsverenigings (NSPCA) in 'n mediaverklaring gesê hulle is geskok om te bevestig dat donkies die mees onlangse slagoffers van dierehandel in die Ooste geword het.
“Donkies word gesteel en geslag en hul velle word na China uitgevoer,” lui die verklaring.
“In een geval is 42 donkies in die Noord-Wes provinsie in die Mmaku-nedersetting gesteel.
Die Asiatiese eienaar van die plot waar die oorskot van die donkies gevind is, het bevestig hy het hulle gesteel en hul velle afgetrek omdat hulle goeie medisyne maak.”
In die petisie wat opgestel is, word gesê: “Ons wil nie deel wees van die wêreldwye afslag en uitwissing van die donkiebevolking en die uitvoer van hul velle China toe nie.”
Die petisie met 281 handtekeninge is Maandagoggend aan Urib oorhandig. Van die handtekeninge is 61 van mense uit die informele nedersetting.
Lede van die publiek wat die petisie wil teken, kan die volgende skakel besoek: https://secure.avaaz.org/en/petition/Outjo_Municipality_and_the_Namibian_Authorities_No_donkey_slaughterhouse_in_Outjo/

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie