Donkievelle - 'n nerfaf bedryf?

Vier lande in Afrika het reeds hul donkieslagpale gesluit, terwyl sewe geprotesteer het teen die handel in donkieprodukte.
Tanja Bause
Tanja Bause - “Die donkies van arm mense in landelike gebiede en van Afrika tot Suid-Amerika word gesteel, geslag en hulle velle afgetrek. Die mense word oornag in armoede gedompel en hul lewens is, moontlik vir altyd, verander.”

Dié inligting is vervat in die verslag, “Under the Skin” wat deur The Donkey Sanctuary, 'n Britse organisasie, uitgereik is.

Die toenemende vraag na donkies het veroorsaak dat dié diere se pryse skerp toegeneem het. Gevolglik is donkies ­onbekostigbaar vir families en gemeen­skappe wat die meeste van die diere ­afhanklik is.

Lande in Afrika soos Burkina Faso en Niger het die slag en uitvoer van donkies verbied - juis omdat die handel in dié diere die betrokke lande se inwoners en ekonomieë bedreig.

Wêreldwyd word die donkiebevolking op sowat 44 miljoen diere geskat.

Donkies het veral in ekonomies ontwikkelende lande waarde waar hulle as werksdiere ingespan word.

Tradisioneel word die dier gebruik om water en huishoudelike goedere te vervoer, om landerye te ploeg en om mense te vervoer. Die donkies word tot in 'n mindere mate vir hul melk en vleis gebruik.

Die afgelope twee jaar het die wêreldwye handel in donkievelle op groot skaal toegeneem, met 'n geraamde handel van 'n minimum van 1,8 miljoen donkievelle per jaar. Die wêreldwye aanvraag word konserwatief op vier miljoen velle geskat en China s'n op 10 miljoen velle per jaar.

Donkievelle word gebruik om tradisio­nele Chinese medisyne, ejiao, te vervaardig. Ejiao is antieke medisyne wat waardig genoeg vir keiserlike gebruik was. Beweringe word gemaak dat dit ook gesondheidsvoordele inhou en teenverouderingseienskappe het, tot 'n verhoogde libido lei en reproduktiewe probleme verminder.

Die toenemende rykdom van die Chinese middelklas en die oënskynlike geloofwaardigheid van die produkte, sowel as toenemende aanlyn en televisiebemarkingsveldtogte, het só 'n groot aanvraag na donkievelle veroorsaak dat die wêreldwye aanbod sukkel om by te hou. Dít lei weer tot stygings in donkiepryse.

Terwyl die aanvraag na donkievelle in China toeneem, het Chinese landbou-owerhede gesê donkiegetalle het dramaties in die land afgeneem - van 'n geskatte 11 miljoen in 1990 na 'n beraamde ses miljoen in 2014.

Die wanbalans tussen vraag en aanbod kan in die wêreldwye toename in die handel in donkievelle gesien word - veral in lande met donkiebevolkings.

Volgens dié verslag is dit duidelik dat die wêreldwye donkiebevolking tans baie kwesbaar is.


Burkina Faso
Volgens dié land se regering is 45 000 donkies uit 'n bevolking van 1,4 miljoen diere binne ses maande geslag. Die hoeveelheid diere wat geslag is en die byna verdubbeling in donkiepryse het aanleiding gegee tot besprekings oor die regulering van slagpale. In Augustus 2016 is die uitvoer van donkies en hul produkte in dié land verban.

Niger
Meer as 80 000 donkies is in die eerste nege maande van verlede jaar hier uitgevoer, teenoor die 27 000 in 2015. Die verhoging in die aanvraag het tot 'n skerp styging in die pryse van donkies gelei. Die regering het die slag van donkies hier verbied.

Ethiopië
Dié land het met 'n beraamde 7,4 miljoen diere die grootste donkiebevolking in die wêreld. Twee groot donkieslagpale wat aan Chinese behoort, is in Debre Zeit en Asela gebou, hoewel nie een van die twee al in werking is nie. Die slagpale is in samewerking met die regering opgerig. Die regering het 'n verklaring uitgereik oor die potensiaal wat die uitvoer van donkievelle na China inhou. Inwoners is egter verdeeld hieroor, terwyl steeds gedebatteer word oor of dit 'n handelsgeleentheid of 'n bedreiging vir arm gemeenskappe is wat op die diere vir die vervoer van goedere staatmaak.

Dit is moontlik dat die handel in donkievelle op die lange duur maatskaplike en ekonomiese ontwrigting kan veroorsaak in 'n land waar 83% van die inwoners in landelike gebiede bly en vervoer van goedere grootliks op die skouers van donkies rus.


Kenia
Grootskaalse donkieslagpale is hier opgerig. Die Mogotio-abattoir is met geld van Chinese beleggers gebou en die een by Naivasha deur plaaslike beleggers. Goedkeuring van die slagpale het tot groot verdeeldheid gelei - grootliks as gevolg van plaaslike taboes rondom die eet van donkievleis. Dié struikelblokke is egter oorkom deur bloot lisensies vir uitvoere uit te reik. Dit lyk of die regering en plaaslike owerhede van die feit dat die slagpale werkgeleenthede verskaf hou, asook 'n inkomste uit direkte en indirekte belasting. Die regering het in 2016 die uitvoerbelasting op velle van 40% na 80% verhoog.

Egipte

Sowat 250 donkiekarkasse sonder velle is onlangs in Egipte ontdek. Dít in 'n land wat die slag van donkies vir hul vleis as kultureel onaanvaarbaar beskou. Die regering het besluit donkie-“leer” mag na China uitgevoer word om as medisyne gebruik te word.

Tanzanië
In Tanzanië word berig oor die massa­slagting van donkies wat oornag in lande­like nedersettings gesteel is. ­Gemeenskapslede word as donkiewagters opgelei en bou omheinde krale om die donkies snags veilig te hou. Die krale word deur The Donkey Sanctuary gefinansier. Donkiekarkasse wat gevind is, bewys die velle is gevat en die vleis agtergelaat. Tanzanië is 'n land waar donkies reeds geslag word om geëet te word. Die slagpale in dié land is gesluit.


Pakistan
Hier is 'n donkiebevolking van 'n ­beraamde 4,9 miljoen. Tot onlangs was Pakistan 'n belangrike uitvoerder van donkievelle en is 200 000 velle tussen 2014 en 2016 uitgevoer. ­Onlangse kommer oor donkievleis, wat as beesvleis aan die gemeenskap verkoop word, is geopper. Dié bedrieglike praktyk is veral ernstig in 'n land waar die bevolking hoofsaaklik uit Moslems bestaan vir wie die eet van donkievleis verbode is. In die lig hiervan was Pakistan die eerste land in Asië wat die uitvoer van donkievelle verbied het, hoewel die ­onwettige slag van die diere steeds voortgaan.

Kirgisië
Vragmotors vol donkies word na China uitgevoer. Donkies mag reeds die ­afgelope paar jaar wettig in die land geslag word en 'n kontrak is onlangs vir die uitvoer van 4 000 donkies na China goedgekeur.

Colombia
Meer as 50 donkies is onlangs onwettig in dié land geslag. Die ontdekking van die karkasse sonder velle, met die vleis wat ongeskonde was, het die vermoede laat ontstaan dat die velle uitgevoer word. Die polisie het die Pas jou donkie op-veldtog in die Sucrestreek van stapel gestuur.

Brasilië
Dié land blyk 'n belangrike bron van velle te wees, met uitvoerkanale wat reeds vir beeste bestaan. Hy het 'n groot donkie­bevolking van sowat een miljoen wat “wilde” donkies in die noordooste van die land insluit. In een geval is 137 donkies meer as 1 000 km ver vervoer om geslag te word. Dit het vrae oor dié donkies se eindbestemming laat ontstaan. Volgens dierewelsynsorganisasies se verslae vind die uitvoer van 'n groot aantal velle na China op 'n gereelde basis plaas.

Australië
Onlangse verslae van die regering wys in die noordelike gebiede van die land kan eerder met donkies geboer word om die tradisionele Chinese mark te ­ondersteun, as om wilde donkies hiervoor te teiken.

In Afrika het Botswana, Ethiopië, Uganda en Tanzanië hul donkieslag­pale gesluit. Gambië, Senegal, Mali, Niger, Tsjad, Nigerië en Burkina Faso het teen die handel in donkieprodukte opgetree.

'n Aansoek om 'n donkieslagpale in Zimbabwe te open, is deur die land se regering ontvang, maar van die hand gewys.

Namibië en Australië oorweeg die ­oprigting van donkieslagpale en die uitvoer van die velle en produkte.

Mnr. Alex Meyers van The Donkey Sanctuary het tydens 'n onlangse besoek aan Namibië gesê die beplande donkieslagpale in Outjo en Okahandja “maak geen sin nie”.

“Namibië het sowat 160 000 donkies en dié getal verander sedert 2000. Dit maak nie saak of die diere aan ouderdom of weens siekte gesterf het of geslag is en geëet word nie, Namibië het geen groeiende donkiebevolking nie,” het Meyers gewaarsku.

Volgens hom groei donkiegetalle moeilik en is hulle nie geskik as teeldiere soos beeste of skape nie.

“Die bevolking is die afgelope 17 jaar in balans. Die slagpale sal dié balans vernietig en die bevolking moontlik in die volgende paar jaar uitroei,” het hy gesê.

Die handel in donkievelle en -vleis wek al hoe meer kommer wêreldwyd oor die welsyn van die diere.

Uit Suid-Afrika is berigte ontvang van 70 donkies wat in Bloemfontein gevind is. Die diere was besig om te verhonger en die eienaar van die plek waar hulle aangehou is, se verduideliking was hy wou net die velle hê om na China uit te voer.

Dit is een van die grootste uitdagings wanneer diere net vir hul velle geslag word en geen waarde aan die vleis geheg word nie. Die vel kan gebruik word, ongeag of die donkie in 'n goeie, gesonde toestand is of nie. Dikwels kry die donkies geen of bitter min water en kos terwyl hulle wag om geslag te word. Vir die persoon wat net in die vel belang stel, is daar geen ekonomiese waarde aan die hou van 'n donkie in 'n goeie toestand nie.

Wat ook kommer wek, is die omgewingsimpak van beide die wettige en onwettige slag van donkies.

In Burkina Faso was dit juis kommer oor omgewingsbesoedeling en nie die welsyn van die diere nie, wat tot die ­sluiting van die slagpale gelei het.

Vir elke werksdonkie wat verkoop word om geslag te word, is daar 'n negatiewe uitwerking op ander werkende diere om dié gaping te vul.

Wanneer die donkies uit gemeen­skappe verdwyn, moet die ­oorblywende donkies of beeste, perde of muile ingespan word om dié diere se take oor te neem, waarvoor hulle dalk nie geskik is nie. Die diere kan te oud, dragtig, te jonk of siek wees.

As daar geen ander bykomende werksdiere beskikbaar nie, sal vroue en kinders moet inspring om werk te verrig.

Dít word perfek vervat in die ­Ethiopiese spreekwoord “'n vrou sonder 'n donkie is self 'n donkie”.

The Donkey Sanctuary is in 1969 deur dr. Elisabeth Svendsen in ­Engeland gestig.

*Bron: Under the Skin - The Donkey Sanctuary

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!