Dood, aanhouding en verdwyning
Die aaklighede van die 80's aan die hand van die apartheidsmagte kom in 'n splinternuwe boek onder die soeklig.
Uit die geledere van die konstitusionele hof in Suid-Afrika meen regter Edwin Cameron dié boek is “'n boeiende lees, volgepak met hofsaaldramas en motorjaagtogte grens toe en terug”.
Dié vermaarde regsgeleerde sê voorts sy Namibiese kollega regter Dave Smuts se Death, Detention and Disappearance is “'n storie oor die stryd om waardigheid in die 1980's” en syns insiens “inspirerend vir almal wat nog in die skaduwee van die geskiedenis lewe”.
Mnr. Sisa Namandje, bekende Namibiese prokureur, sê die baanbrekerboek “toon hoe suiwer waagmoed en toewyding tot die verwesenliking van vryheid aktiviste soos Smuts gedryf het om – nie sonder risiko vir hul lewe nie – die regime in suidelike Afrika aanspreeklik te hou vir sy onwettige optrede”.
Op die keersy van die boek, wat eersdaags in Windhoek bekend gestel word, word lesers herinner aan die donker dekades van die 80's waar menseregtevergrype aan die hand van Suid-Afrikaanse veiligheidsmagte aan die orde van die dag – én nag – was.
Regter Smuts, wat toe 'n jong prokureur was, het geroepe gevoel om daardie drakoniese stelsel in die bek te ruk.
Hoewel Smuts in Suid-Afrika gebore is, het sy gesin Windhoek toe getrek toe hy op hoërskool was.
Dit “het my tuiste geword toe my pa aangestel is as landmeter-generaal van die destydse Suidwes-Afrika”, onthou hy die afgelope week in 'n gesprek met Republikein.
Smuts – nie bekend daarvoor dat hy doekies omdraai nie – sê: “Van 'n baie jong ouderdom af was ek vurig gekant teen apartheid en in my vroeë tienerjare het ek besluit om regte te studeer om teen ongeregtighede te baklei.”
Dié strewe het hom na die Eikestad gelei waar hy in die Ou Hoofgebou by die Universiteit Stellenbosch vir 'n BA LLB ingeskryf het.
Smuts vertel die afgelope week hy het ná Matieland in 1980 vir sy klerkskap by die regsfirma Lorentz & Bone aangesluit “weens hul politieke werk om aktiviste te verteenwoordig”.
'n Jaar of drie later het hy die geleentheid met oorgawe aangegryp om sy regstudies te verdiep met 'n meestersgraad aan die toonaangewende Harvard Law School.
Met sy terugkeer het hy weer by Lorentz & Bone ingeval en toe in menseregte gespesialiseer tot vroeg in 1988 toe hy die Regshulpsentrum (LAC) op die been gebring het.
In daardie stadium was hy al 'n lid van die balie.
Ondanks sy magdom kennis en vernuf was dit geensins 'n Sondagskoolpiekniek om die regering van die dag selfs met die letter van die wet te stormloop nie. “Dit was 'n reuse-uitdaging om die apartheidregering, hul veiligheidsmagte en hul plaaslike surrogate in die howe aan te vat. Die regslandskap was baie vyandig om toe sulke werk te doen.”
AANHOUDING SONDER VERHOOR
Een van die grootste euwels van daardie tyd – aanhouding sonder verhoor – het hom veral dwars in die krop gesteek.
Die destydse regering het dié praktyk met behulp van 'n reeks wette, wat dit gemagtig het, voortgesit.
Die mag is mildelik misbruik om met politieke teenstanders af te reken, sê hy. Marteling was dikwels deel van die pakket. “'n Doeltreffende toestand van krygswet was in Ovambo(land) van krag waar beweging kwaai deur 'n aandklokreël ingeperk is.”
Dié klokreël is gewetenloos toegepas en het lewens geëis en talle het erge ontbering gely, onthou Smuts. “Wet en orde is wesenlik ook effektief opgeskort. Die veiligheidsmagte was onverantwoordbaar en het toenemend buite die wet opgetree.”
Koevoet, byvoorbeeld, het selfs gemoor, sê hy. “Naas 'n merkbare uitsondering is al hierdie grootliks deur die plaaslike media ondersteun.”
BAIE KYK WEG
Baie politici en sakelui het ook gemaak of hulle nie dié ongeregtighede en vergrype, insluitend die strukturele ongelykhede, raaksien nie, sê Smuts.
“Dít was die vyandige omgewing waarin ek regte gepraktiseer het in daardie tye. Dit het selfs moeiliker geword toe ek besluit het om 'n meer besliste benadering te begin volg as om slegs kliënte te verdedig in die skaars gevalle wanneer hulle verhoor is.”
Behalwe vir propagandadoeleindes was die aansporing om aktiviste weens politieke misdade voor 'n hof te daag maar skraps as 'n mens hulle onbepaald kon aanhou, vertel Smuts.
'HOOGTEPUNTE NIE ALTYD OORWINNINGS'
Eie aan sy geaardheid onthou Smuts daar was oorwinnings “hoewel nie almal gelei het tot hofoorwinnings nie”.
Twee sake, byvoorbeeld, was deurslaggewend hoewel die hof se telbord iets anders gesê het, sê hy.
Die een hou verband met die aansoek om gevangenes vry te laat wat in die geheim by 'n kamp naby Mariental vir langer as ses jaar aangehou is nadat hulle op 4 Mei 1978 aangekeer is tydens die operasie wat ook die Cassingaslagting ingesluit het.
Die hofaansoek is deur 'n presidensiële sertifikaat geblok nog voor hulle hof toe is, sê Smuts. Die druk op die apartheidsregering was egter genoeg om toe te sien dat al die gevangenes in twee fases vrygelaat is – omtrent die helfte wat twee dae voor die saak toe wel hof toe is en die res enkele maande later, sê hy.
Die ander “nederlaag” in die hof was die aandklokreëlgeding. “Die hof het dit van die hand gewys. Maar dit het gehelp om teenkanting oor die kwessie en menseregtevergrype spoed te gee en het tot sy (die reël se) versagting gelei.”
Smuts onthou ook met deernis hoe hy die vryheidsheld Immanuel Shifidi se gesin verteenwoordig het tydens die geregtelike ondersoek na sy dood. Die regter het ook genoem dat hy politieke gevangenes gehelp het om vir dié status onder die VN-veiligheidsraad se Resolusie 435 aansoek te doen.
LAC EN THE NAMIBIAN
Om 'n menseregtehawe, die LAC, en The Namibian saam met die media-doyenne Gwen Lister te stig, tel as ander hoogtepunte, sê hy.
“Dié hoogtepunte en ander sake en temas word in die boek gedek in die konteks van die destydse toenemende militarisering en die reg wat toenemend deur die owerhede omvergewerp is ondanks die inwerkingstelling van 'n tussentydse regering wat veronderstel was om menseregte te beskerm maar misluk het.”
Death, Detention and Disappearance boekstaaf onder meer die optrede van dapper kliënte en gemeenskapslede wat weerstand gebied het teen die gewetenlose regering.
“Hierdie boek is deels 'n huldeblyk aan hulle. En in ander dele 'n rekord van dit wat gebeur het.”
Smuts sê die regslandskap het heeltemal verander sedert die land onafhanklik geword het. “Ons is nou 'n grondwetlike demokrasie met gereelde verkiesings en regte wat ferm in ons Grondwet verskans is.”
Dikwels vergeet 'n mens hoe daar byvoorbeeld tydens apartheid drie keer meer op 'n wit kind se opvoeding bestee is – en selfs tien keer meer as op 'n kind wat in Ovamboland gewoon het, sê Smuts.
Hy sê die boek is gebore toe 'n kollega wat saam met hom betrokke was by baie van die sake, regter Hosea Angula, voorgestel het hy skryf dit. “Baie jonger nie-prokureurs en prokureurs het my ook oor die jare gedruk om dit te doen omdat hulle daardie gedeelte van ons geskiedenis wou leer ken. Ek het geswig onder die druk.”
Danksy 'n skrywersbeurs deur die Rockefeller-stigting kon hy vir 'n maand in Italië in 2015 die eerste derde van die boek neerpen.
Die res het tussendeur tydens sy verlof gebeur, sê hy. “Ek is verlig die boek is klaar en het nie in dié stadium nuwe skryfplanne nie.”
Hy sê: “Daar is so min boeke deur Namibiërs oor Namibië. Ek hoop meer mense sal oor ons geskiedenis skryf en ook oor ons hede om die gesprek te verryk en 'n skryf- en leeskultuur in die land te skep.”
*Smuts is in 2011 as hoërhofregter aangestel en dien sedert 1 Januarie 2015 as regter van die land se hoogste hof, die hooggeregshof.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie