Doodgebore baba se lykie verdwyn
Doodgebore baba se lykie verdwyn

Doodgebore baba se lykie verdwyn

Yandi Du Plessis
Iréne-Mari van der Walt op Swakopmund – Die bedroefde familie van Beauty Makena het 'n saak teen die ministerie van gesondheid aanhangig gemaak ná haar oorskot glo in die staatshospitaal op Swakopmund verlê is.

Beauty is 'n week gelede in dié hospitaal doodgebore.

“Dokter Amir (Shakir) het gesê hulle gaan ondersoek instel. Hulle vermoed iemand het dalk Beauty se liggaam gesteel. Hy het selfs aangevoer dat een van die familielede die liggaam gesteel het. Hoe kan hy dit sê? Dit het my regtig gewys daar is geen berou van hulle kant af nie,” het mnr. Nico Maloboka, 'n familielid, gesê.

Dr. Amir Shakir sê dié bewerings is bloot verkeerd geïnterpreteer. “Ek het al die moontlike verduidelikings genoem, want hierdie is 'n ondersoek. Ons weet nie wat gebeur het nie, so alles is moont­lik. Ek het gesê die oorskot is dalk verkeerdelik opgeëis of kon moontlik by die verbrandings­oond beland het. Ek het die moontlike opsies opgenoem. Ek het nie bedoel om iemand te ­beskuldig nie,” het hy gesê.



IN DIE DUISTER GELAAT

Volgens die familie het hulle besef iets is fout toe hulle Beauty se oorskot gaan opeis het om haar te begrawe.

“Ons het die begrafnis op die 17de gereël, en ons moes haar op die 18de begrawe. Toe ons haar liggaam wou gaan haal, het hulle vir ons gesê sy is nie daar nie,” het 'n ander familie­lid gesê.

Volgens die familielede het hospitaalpersoneel hulle aangesê om die volgende dag terug te keer sodra hul skofte tot 'n einde gekom het.

“Hoe moes ons die volgende dag ­terugkeer as ons veronderstel was om met die begrafnis voort te gaan?” wou Maloboka weet.

Die gesin het uiteindelik die goewerneur van die Erongostreek om hulp genader en kon met die hospitaalbestuur vergader om antwoorde te kry.

“Hulle het deur hul dokumente gekyk en dit lyk of die liggaam nooit by die lykshuis uitgekom het nie. Hulle kon egter vasstel wie die laaste verpleegster was wat die oorskot van ons baba hanteer het,” het Maloboka gesê.

Die gesin het daarna toegang tot die hospitaal se lykshuis verkry om self te kyk of hulle Beauty kon opspoor.

“Daarna het hulle gesê hulle gaan 'n interne ondersoek van stapel stuur en ons is meegedeel dat ons 'n saak teen die ministerie van gesondheid aanhangig kan maak,” het hy gesê.

Die direkteur van gesondheid vir die Erongostreek, me. Anna Jonas, het bevestig dat sy met die familie ­vergader het, maar wou nie verder kommentaar lewer nie.

Maloboka het gesê dit het min ­vertroosting gebring om 'n saak ­aanhangig te maak.

“Die polisiebeampte wat ons gehelp het, het gesê hierdie is 'n baie ­ongewone geval. Ons hoop dit neem hulle nie lank om dit af te handel nie.”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!