Doodskoot vir African Stars se titelhoop?
Doodskoot vir African Stars se titelhoop?

Doodskoot vir African Stars se titelhoop?

Citizens se sege het die NPL-voorloper Black Africa 'n guns bewys.
Tielman van Lill
Tielman van Lill - Unam en Tura Magic het Dinsdagaand met 1-1 gelykop by die Sam Nujoma-stadion gespeel, terwyl Citizens met 2-1 African Stars se veldtog by dieselfde veld omgedop het.

Dit was die MTC Namibiese Premierliga (NPL) se laaste ronde vir Februarie, met die eerste skote van die nuwe maand wat môreaand om agtuur by dieselfde stadion tussen die gewonde African Stars en Blue Waters van Walvisbaai sal klap.

In Dinsdagaand se eerste kragmeting het Unam en Tura mekaar takties goed dopgehou met hul vier-drie-drie-spelpatroon wat die breiers met welslae aangewend het. Dit was binne die eerste minute duidelik dat die spanne mekaar nie beweegruimte sou gun nie.

Ditwas egter die slimjanne van Unam wat in die 38ste minuut teen die verloop van die spel hul eerste doel van 'n kruisskop behaal het, toe Pandeni Kandjabanga 'n los bal teen die net laat klap om rustyd met 1-0 die pas aan te gee.

Met die tweede helfte goed aan die gang, mis Salom Omseb in die 53ste minuut 'n gulde geleentheid om die telling gelykop vir Tura te maak. Tien minute later is dit wel sulke tyd toe die nasionale speler Junius Theophilus die gelykmaker behaal.



STARS TREF AARDE

Dinsdagaand se hoeveelste ongedwonge glips kan African Stars duur te staan kom. Die verdedigende kampioen se onvermoë om belangrike wedstryde in te palm, word 'n kopseer vir Starlile wat in die tweede posisie op die NPL-ligaleer met 22 punte ná 12 botsings is.

Black Africa, wat met 32 punte ná 13 wedstryde die voorloper is, het wel een kragmeting meer as Stars agter die rug.

Die Leeus van Katutura is egter met tien punte ver voor Stars, wat nou sal moet hoop dat BA iewers 'n string wedstryde verloor of gelykop speel om hom enige kans te gee.

Citizens het vir Stars met mening aarde toe gebring ná Starlile se wonderlike oorwinning van 5-0 teen Orlando Pirates in die kwarteindronde van die Standard Bank Topagt-kompetisie wat laas naweek afgeskop het.

Citizens het sy doele net voor rustyd behaal toe Steward Goaseb binne twee minute hul telling 2-0 gemaak het. Stars kon eers diep in die tweede helfte 'n merk maak toe hoofafrigter Bobby Samaria vir Gustav Isaak en Alpheus Handura in die plek van Rodger Katjiteo en Protasho Kambue opgestuur het.

Al het sake toe beter vir Stars verloop, kon die rooi truie nie die kanse afrond waarvoor hulle so hard gewerk het nie. In die 78ste minuut wil-wil sake vir Starlile beter begin lyk toe Ambrosious Amseb hul enigste doel behaal, maar die stryd is nietemin met 2-1 verloor.

Steward Goaseb, wat uiteraard die held van Citizens was, is as speler van die wedstryd aangewys wat hy met sy twee doele sonder teëspraak verdien het.

Citizens (20 punte) lê wel in die sesde posisie op die NPL-ligaleer, maar 'n skrale twee punte skei hom en Stars, wat ook vir Life Fighters (21), Mighty Gunners (21) en Tura Magic op 19 ligapunte warm in hul nek voel blaas.

- Bygewerk van Nampa

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!