Dordabis-boere teen grond ná veldbrande

Die grootste veldbrand sover vanjaar in Namibië het sowat 37 000 hektaar se weiveld verwoes.
Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer

Ná vyf vermoeiende dae waartydens verskillende spanne brandbestryders ’n wegholveldbrand op 19 plase by Dordabis beveg het, was die lug gisteroggend eindelik weer blou.

Dr. Johan le Roux van JLR Consulting, wat as omgewingswetenskaplike sy doktorale proefskrif op veldbrande in Namibië gedoen het, sê sy satellietbeeld-ontledings wys 37 000 hektaar is verwoes. Die omtrek van dié gebied is 135 km.

’n Man van 63 jaar is na bewering dood toe hy op pad terug vanaf Dordabis op een van die plase deur die vlamme in die veld oorval is.

Ambulanse was van Vrydag af op bystand om brandbestryders vir uitputting en rookinaseming te behandel.

Wildverliese is aangemeld, maar so ver bekend het vee nie doodgebrand nie. Skade is wel aan infrastruktuur soos heinings en pypleidings aangerig.

Mnr. René Kraft van die plaas Ibenstein digby Dorbabis sê hy het 95% van sy plaas verloor. Gelukkig het hy nie beeste of kleinvee verloor nie. ’n Takkraal waar hy lammers hou het afgebrand, maar hulle kon gelukkig betyds die jong diere verwyder.

Toe Republikein met Kraft gepraat het, was hy op die punt om saam met sy pa, mnr. Mike Kraft, oor die gebied te vlieg en ’n opname van die skade te maak en seker te maak die brand vlam nie weer iewers op nie.

Kraft sr. was voor sy aftrede van die bekendste Simmentaler-telers in die land. René is nou in beheer van die Ibenstein-stoet.

Benewens Ibenstein, het die plaas Autabib van mnr. Gys Joubert ook omtrent 60% afgebrand. ‘n Splinternuwe kampeerterrein op die plaas het ook in die slag gebly.

Die ander plase wat erg deurgeloop het en feitlik geen weiding oor het nie, is Autabib-Wes, Garib-Wes, Hamis en Opdam.

Die veldbrand het Dinsdag op Hamis ontstaan – na bewering weens nalatige optrede.

“Ons is baie ontevrede. As daar vinniger opgetree is, sou ons nie soveel skade gely het nie. Ek doen ’n beroep op die polisie om teen die skuldiges op te tree,” het Kraft jr. gister gesê.

Volgens hom is daar ’n hele paar plase wat aan naweekboere behoort en waar daar nie grootskaalse kommersiële boerderye bedryf word nie. Daar woon egter ’n groot klomp mense sonder toesig op daardie plase, sê hy.

NLU

Die Namibië Landbou-unie (NLU), wat Vrydag sy Dare to Care-rampfonds geaktiveer het, sê in ‘n verklaring dit is “betreurenswaardig” dat die meeste van die veldbrande wat die afgelope weke wydverspreid in die land voorgekom het, veroorsaak is deur nalatige optrede van individue.

Volgens die NLU wys ervaring dat in gebiede waar die landbou goed georganiseer is met boereverenigings wat aktief en paraat is en oor goeie kommunikasiekanale, toerusting en toegangsroetes beskik, vinnig in situasies soos hierdie opgetree kan word.

“In gebiede waar geen boereverenigings georganiseer is nie, bestaan groot uitdagings met kommunikasie en koördinasie, wat groter verliese veroorsaak,” sê die unie in sy verklaring.

HULP

Mnr. Anton Dresselhaus, eienaar van die bekende Ankawini Safari Ranch, sê dit was vyf uitmergelende dae vir die boere van die omgewing.

“Wat dit moeilik gemaak het, is die swak sein in die berge.” Verder, sê hy, is vals nuus oor waar dit erg brand soms op WhatsApp versprei. Dit het meegebring dat brandbestrydingspanne soms ore in die nek na ‘n plek jag, net om te vind die inligting was verkeerd.

Dresselhaus is vol lof vir die “ongelooflike ondersteuning” van die gemeenskap.

“Toe ek een aand by die huis kom, was daar 505 WhatsApp-boodskappe van mense wat ons sterkte toewens en hulp aanbied. Dit was fenomenaal. Mense het weiding aangebied selfs sover as uit die Suide,” sê hy.

Hy sê buiten vir instansies soos die Lions Club, het private mense langs die Dordabis-Rehoboth-pad kosstalletjies vir die brandbestryders opgerig.

“Twee mans van die ministerie van landbou het met groot watertenks agter op hulle bakkie van die een groep vuurslaners na die volgende gery en vir ons water gebring.”

Ná ‘n noodkreet vir hulp vroeg Vrydagoggend op die WhatsApp-groep, Veldbrande Namibia, het Namibiërs getrou aan hul aard vragte noodvoorrade soos watertenks, gebottelde water, kospakkies, elektrolietaanvullings, lemoene ensovoorts vir die moeë brandslaners aangery. Ambulanspersoneel was ook op bystand.

OKAHANDJA

Die het ook die naweek op twee plekke noordoos en noordwes van Okahandja gebrand.

Kaarte van JLR Consulting wys dit het op die plase Ongombeanavita, Okamumatero, Howell en Okaimpuro-Noord wes van die B1 en suid van Sukses gebrand.

‘n Veldbrand het ook op die plase Wembley en Swakophohe noordoos van Okahandja gewoed. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer