Dorp hou fees vir eensgesindheid
Dorp hou fees vir eensgesindheid

Dorp hou fees vir eensgesindheid

Mariana Balt
Tydens vanjaar se Koperfees gaan hulle wys dat alle mense van verskillende rasse in Tsumeb kán saamstaan, sê die voorsitter van die feeskomitee, mnr. Julius Gaeseb.
Die tema van die fees wat van 28 Oktober tot 1 November gehou word, is “Copper: Creating unity” nadat eerste minister dr. Hage Geingob, die gasspreker tydens verlede jaar se fees, die versugting uitgespreek het dat die gemeenskap deur groter eenheid gekenmerk sal word.
Skole in die gemeenskap het toe die geleentheid gekry om ? tema te verwoord en die leerlinge van Tsumeb Gimnasium het met die wen-gedagte na vore gekom.
“As mense saamstaan, kan ons baie goeie dinge laat gebeur,” sê Gaeseb, terwyl hy vertel van die nuwe idees wat vir vanjaar se fees beplan word. Dit sluit onder meer ? sakekonferensie op 28 Oktober in, ? modeskou om jong mense aan te spoor om hul talente te ontwikkel en ? fietsrykompetisie wat saam met Nigel Reynolds se Multi Sport Africa beplan word.
Soos gewoonlik is Dundee Precious Metal Tsumeb (DPMT) weer die hoofborg van die fees en Gaeseb is vol lof vir die maatskappy oor sy volgehoue en mildelike ondersteuning.
Hy glo die fees is die ideale geleentheid waartydens die dorp met al die nuwe ontwikkelings kan spog en terselfdertyd meer beleggers na die gebied kan lok. Hulle sal vanjaar weer veral op geleenthede vir klein en medium sakeondernemings fokus en verkies om stalletjies aan diegene toe te ken wat waardetoegevoegde produkte van die hand sit, eerder as klaargekoopte vlooimarkprodukte.
Stalletjies kan reeds teen N$800 bespreek word en daar sal weer heelwat kompetisiepryse op die spel wees.
Dit alles word voorafgegaan deur die galadinee wat op 20 September by Hoërskool Etosha gehou word. Maatskapppye en individue word nou reeds uitgenooi om hul plekke by dié prestige geleentheid te bespreek, teen N$8 000 per tafel of N$800 per persoon.
Navrae: Mnr. Julius Gaeseb by 081 146 0166.

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer