Dorpe se leierskapsvrae gepak
Dorpe se leierskapsvrae gepak

Dorpe se leierskapsvrae gepak

Swapo se politburo gaan binnekort hoës na die onderskeie dorpsrade stuur om ondersoek na poste in te stel.
Augetto Graig
Augetto Graig - Die regerende party het Maandag ’n dringende vergadering by hul hoofkantoor in Windhoek gehou, waartydens besluit is raadslede wat onlangs vir Rundu en Okahandja verkies is, bly in diens.

Dié nuus is gister deur me. Hilma Nicanor, Swapo se sekretaris van inligting en mobilisering, in ’n verklaring bevestig.

“Die politburo van Swapo se sentrale komitee het vergader en beraadslaag oor spesifieke kwessies, soos Rundu en Okahandja se plaaslike owerheidsrade – veral oor die ontplooiing van Swapo-raadslede in dié instellings,” het Nicanor geskryf.

Hiervolgens bly Okahandja se burgemeester, mnr. Johannes “Congo” Hindjou, en sy adjunk, me. Hileni Iita, hul poste, terwyl mnr. Gideon Uwu-Khaeb die voorsitter van Okahandja se bestuurskomitee sal wees.

Me. Helmi Maruru bly die bestuurskomitee se bykomende lid en die ander pos bly vakant ná me. Sophia Upithe dit van die hand gewys het.

Dít glo omdat ’n Swapo-opdrag geïgnoreer is om haar as burgemeester aan te stel.

Dié opdrag was een van verskeie wat vroeër deur Swapo se sekretaris-generaal, me. Sophia Shaningwa, uitgereik is.

Okahandja

Wat Okahandja betref, het Shaningwa die distrikskoördineerder, me. Martha Mwandingi-Simeon, deur middel van Otjozondjupa se koördineerder, me. Susan Hikopua, opdrag gegee om Upithe as nuwe burgemeester aan te stel.

Upithe is egter deur opposisiepartylede vir dié pos genomineer en het die nominasie daarom van die hand gewys.

By Maandag se vergadering het pres. Hage Geingob, Swapo se leier, as voorsitter opgetree. Die vergadering is ook deur Swapo se visiepresident en Namibië se minister van internasionale betrekkinge en samewerking, me. Netumbo Nandi-Ndaitwah, en ander politburolede soos die eerste minister, me. Saara Kuugongelwa-Amadhila, en Namibië se visepresident, mnr. Nangolo Mbumba, bygewoon.

Na afloop van die vergadering was die betrokke dorpsraadslede onder die indruk hul lot sou by die volgende politburo-vergadering bepaal word.

Bevestiging is wel gegee dat hul aanstellings nie nou sal verander nie.

“Die kwessie sal aan die politburo voorgelê word,” het Mwandingi-Simeon aan Nampa gesê. Hindjou was dit eens: “Niks verander tot die politburo ’n besluit geneem het nie.”

Maar Nicanor sê sy dra geen kennis van ’n verdere politburo-vergadering om dié kwessies te bespreek nie.

Haar verklaring sê wel senior partyleiers gaan afgevaardig word om die betrokke dorpe te besoek en met partystrukture en raadslede te beraadslaag om blywende oplossings te vind.

Shaningwa se opdrag was laas jaar dat Hindjou gedemoveer word na die posisie van ’n gewone raadslid en dat Upithe as nuwe burgemeester van Okahandja aangestel word, met Uwu-Khaeb as adjunkburgemeester en Iita as voorsitter van die bestuurskomitee.

Die uitvoerende komitee van die Okahandja-distrik het Hindjou egter as burgemeester ondersteun. Ná die opdrag was Okahandja se verkiesings twee keer onsuksesvol, maar verlede week het dit wel met verrassende uitslae plaasgevind.

Rundu

Rundu-dorpsraadslede het ook nie Shaningwa se opdrag gehoorsaam dat ander leiers nie aangestel moet word nie. In plaas daarvan om me. Verna Sinimbo as burgemeester te behou, is mnr. Isaak Kandingu tot dié posisie verkies, met me. Toini Hausiku as sy adjunk. Hulle het die party met regsaksie gedreig ná Shaningwa hulle probeer herroep het.

Maandag, ná afloop van die byna drie uur lange vergadering by Swapo se hoofkantoor, het hulle gesê leiers moet op grond van hul bevoegdhede aanstel word. Volgens Nampa is tydens die vergadering besluit om die nuwe aanstellings te bekragtig.

Khorixas

Intussen heers verwarring op Khorixas, waar dorpsraadslede Shaningwa se opdrag ook nie gehoorsaam het nie. Ondanks die sekretaris-generaal se bevel om me. Elizabeth Geises as burgemeester te herkies, is mnr. Laurens //Hoebeb in haar plek verkies.

Geises het onlangs aan die nasionale uitsaaier (NBC) gesê binnegevegte en verdeling op die dorp bring die dorpsbestuur tot stilstand.

“Teen dié tyd moes ons al ons eerste vergadering gehou het. Daar is baie goed wat gedoen moet word. Dit is glad nie goed nie. Ons is met baie goed agter,” het sy volgens Republikein se susterkoerant Namibian Sun gesê.

Dié dorp se kwessies is nie in Nicanor se verklaring bespreek nie. - Bykomende bronne: Nampa/ Namibian Sun

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!