Dorser, hongerder weens aardverhitting
Dorser, hongerder weens aardverhitting

Dorser, hongerder weens aardverhitting

Méér snikhete dae en nagte, 'n sukkelende landbousektor en 'n groeiende woestyn is waarskynlik Namibië se voorland.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh – Klimaatsverandering beteken groter waterstres vir Namibië, buiten dat méér hitte die landbousektor lelik sal knou.

Dr. Simon Angombe van die Universiteit van Namibië (Unam) het verlede week tydens 'n nasionale gesprek oor die voedselstelsel in Namibië gesê aardverwarming sal kwesbare lande soos Namibië erg raak.

Dit kom nadat die Verenigde Nasies se internasionale paneel op klimaatsverandering (IPCC) Maandag 'n verdoemende verslag oor aardverhitting vrygestel het.

Hiervolgens is die veranderinge wat tans deur wetenskaplikes oraloor die wêreld waargeneem word, ongekend oor duisende, indien nie honderdduisende jare nie.

Boonop is van die klimaatsveranderinge wat reeds meegebring is, soos die voortgesette styging in die seevlak, onomkeerbaar binne honderde tot duisende jare.



LANDBOU SAL SWÉÉT

“Die drakrag van weiding in Namibië kan met sowat 15% verminder terwyl aardverhitting beteken plaaslike gewasproduksie sal met tussen 5% en 10% verminder,” het Angombe gesê.

“Bestaansboere mag tot soveel as 20% tot 80% van gewasproduksie inboet, terwyl die produktiwiteit van vee met tussen 5% en 20% kan verminder. Indien plaaslike temperature met soveel as 3 °C styg, sal vee se produktiwiteit met tot 50% verminder,” het hy gesê.

Angombe sê in 'n onlangse, gesamentlike studie deur Unam en die Universiteit van Kaapstad, temperature in Namibië sal vinniger as die wêreldwye gemiddeld styg. “Vir elke 0,5 °C-styging in globale temperatuur, sal die gemiddelde temperatuur vir Namibië met tussen 0,5 °C en 1 °C styg.

Angombe sê Namibië is reeds kwesbaar vir klimaatsverandering omdat reënsyfers tussen seisoene dikwels drasties verskil, wat die kans op waterskaarste, droogtes of vloede verhoog.

“As globale temperature met 1,5 °C of meer styg, dui klimaatmodelle aan dat die intensiteit en gereeldheid van klimaatsuiterstes in Namibië gaan verhoog,” het Angombe gesê.

“Warm dae en warm nagte sal drasties meer gereeld voorkom. Sou die globale verhitting 1,5 °C wees, sal die duur van hittegolwe in Namibië tot 59 dae verhoog en semi-woestyngebiede sal die kwaaiste deurloop.”

Angombe sê warmer temperature sal hittestres in Namibië se mees kwesbare sektore verhoog en die intensiteit van droogtes verhoog. Dit sal ook die jaarlikse reëngemiddeldes verminder, wat op die beurt beteken dorre gebiede gaan vergroot.

“Namibië sal die implementering van sy nasionale beleid vir klimaatsverandering dringend moet versnel,” het hy gesê.



VERANDERING

Intussen het die IPCC gesê 'n sterk, volgehoue vermindering van koolstofdioksied (CO2) asook ander kweekhuisgasse kan egter klimaatsverandering beperk.

“Terwyl voordele soos 'n verbeterde luggehalte vinnig ervaar sal word, kan dit tussen 20 en 30 jaar neem voor globale temperature gaan stabiliseer,” lui die IPCC verslag. Die verslag is die eerste van die IPCC se sesde evalueringsverslag (AR6), wat in 2022 voltooi sal word.

Volgens die verslag sorg “mensgemaakte klimaatsverandering” reeds vir verskeie weer- en klimaats­uiterstes oraloor die wêreld in die vorm van hittegolwe, swaar reën, droogtes en tropiese siklone.

Die wetenskaplikes sê globale verhitting van tussen 1,5 °C en 2 °C sal tydens die 21ste eeu ervaar en selfs oortref word, behalwe as die mensdom hul weë kan verander.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-12-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 35° Rundu: 22° | 34° Eenhana: 22° | 34° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 23° | 35° Tsumeb: 20° | 33° Otjiwarongo: 19° | 32° Omaruru: 23° | 35° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 19° | 31° Henties Bay: 16° | 20° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 15° | 21° Rehoboth: 22° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 25° | 38° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 18° | 28° Ariamsvlei: 24° | 39° Oranjemund: 16° | 23° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 18° | 25° Lubumbashi: 16° | 30° Mbabane: 17° | 28° Maseru: 16° | 29° Antananarivo: 16° | 33° Lilongwe: 22° | 34° Maputo: 23° | 34° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 18° | 22° Durban: 22° | 27° Johannesburg: 17° | 23° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 22° | 33° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!