Downsindroom: Tyd om stigmas af te breek
Namibiërs moet selfondersoek doen oor hoe hulle mense met gestremdhede sien en ervaar.
Henriette Lamprecht
'n Groot behoefte bestaan in Namibië om die wanvoorstelling wat mense het van mense met downsindroom (DS) te verander.
“Baie mense klou vas aan taboes en stigmas wat bepaal hoe die samelewing optree en reageer,” sê me. Anita Manthe, opvoedkundige koördineerder by die Downsindroom-vereniging van Namibië (DSAN).
Dit sluit volgens Manthe ook kerke en pastore in wat ouers verkeerdelik die skuld vir hul kinders se gestremdheid gee.
“Dit is Bybels verkeerd. Wanneer kerke hul onderskeie gemeenskappe met verkeerde onderrig, tesame met stigma en taboes belas, moet reusewerk gedoen word om dit te verander wat mense van persone met gestremdhede glo,” verduidelik Manthe.
DSAN is tans besig om 'n kantoor by die Môreson Spesiale Skool in Khomasdal in te rig wat hopelik voor die skole in April heropen sy deure sal open. Kantoorure sal aanvanklik beperk wees tot Maandae en Donderdae van 09:00 tot 12:00.
Deel van DSAN se uitreikprogramme is hulp en ondersteuning aan onderwysers met voorbereiding vir inklusiewe onderwys, terwyl slypskole vir gesinne wat deur DS geraak word, ook beplan word.
Manthe het die belangrikheid van onderrig vir veral die gesinne van mense met DS beklemtoon.
“Ons sal verkies dat ouers ons kontak die oomblik wanneer hulle die diagnose ontvang het. Hoe vroeër, hoe beter. In hierdie vroeë stadium sal hulle baie meer voorbereid wees op hoe om 'n ouer vir 'n kind met DS te wees.”
Sy het beklemtoon onsekerhede en vrees word sodoende verwyder, terwyl vertroue herstel word.
“Hoop is 'n goeie ding om te hê en dít is wat ons wil bereik. Vroeë kennis en bewusmaking berei mense op die toekoms voor. Ons glo mense met DS kan enigiets doen en ons sal graag ondersteuningstelsels wil sien wat verseker dat hulle suksesvol is.”
Volgens Manthe is die droom om #icandoanything mense met DS in Namibië se werklikheid te maak.
“Ons wil hulle aktief sien en 'n bydrae tot die land lewer wat hulle as betrokke en aanvaarde burgers liefhet.”
Om dit te bereik, is dit egter vir Namibiërs nodig om selfondersoek te doen oor hoe hulle mense met gestremdhede sien en ervaar.
“Mense met DS lewer 'n bydrae tot die samelewing en bied ons die geleentheid om ons menslikheid te wys. Hoe ons optree en reageer teenoor die gestremde definieer ons, nie hulle nie.”
Manthe het egter gemaan verandering is 'n proses en nie 'n eenmalige geleentheid nie en dit is iets wat tyd neem.
Volgens haar som DSAN se slagspreuk, #icandoanything, op wat die publiek van mense met DS moet weet.
“Gee hulle net 'n kans!”
Die einddoel is 'n inklusiewe en verwelkomende samelewing en die vestiging van ondersteuningsnetwerke.
“Die kantoor van die visepresident se departement vir gestremdhede streef dieselfde ideale na en bied toegang tot die Disabilities United Network wat ons strewe na verandering ondersteun.”
Volgens Manthe is daar wel 'n paar besighede in Windhoek wat informele werksgeleenthede bied aan mense met kognitiewe gestremdhede. Hoewel vroeë onderrig en voorkoming belangrik is, sê sy dit is nooit te laat vir ouers om by 'n jong volwassene of hul kind se ontwikkeling in te gryp nie.
“Die beste hulp is die wete dat iemand luister, omgee en hulle help om hul eie situasie en omstandighede te verstaan. Dikwels kan oplossings in hul gemeenskappe gevind word, maar dan moet gemeenskappe oper en meer verwelkomend wees.”
Op persoonlike vlak is die verandering in 'n gesin wanneer hulle die waarheid oor DS hoor en verstaan, haar grootste vreugde.
Die beplanning van die kantoor by Môreson het heelwat leerlinge betrek.
“Dit is so wonderlik om hul entoesiasme te sien wanneer hulle iets nuuts leer, hul uitroepe en uitdrukkings van sukses wanneer hulle iets regkry, is aansteeklik!”
Wêrelddownsindroomdag is vandeesweek Woensdag gevier.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie