Dr. Haufiku loop onder boelies deur
Dr. Haufiku loop onder boelies deur

Dr. Haufiku loop onder boelies deur

Die euwel van “vals nuus” het meegebring dat ’n minister en lede van die Nasionale Vergadering die slagoffers van kuberboelies geword het.
Estelle de Bruyn
Estelle de Bruyn - Die minister van gesondheid en maatskaplike dienste, dr. Bernard Haufiku, was die slagoffer van kwaadwillige uitbuiting op sosiale media nadat hy listeriose enkele weke gelede in die Nasionale Vergadering (NV) bespreek het.

Toe me. Agnes Limbo van die Rally for Democracy and Progress (RDP) Donderdag ‘n mondelinge vraag oor die hospitaal op Katima Mulilo gevra het, het Haufiku versoek dat die NBC se televisiekameras afgeskakel word alvorens hy antwoord.

Die speaker, prof. Peter Katjavivi, het verduidelik Haufiku is met opset geteiken en sy woorde is op ‘n onverantwoordelike manier verdraai en daar is in sosiale media ‘n gek van hom gemaak.

Tog het Katjavivi daarop gewys dat regstreekse uitsendings van parlementêre sittings op die NBC nie onderbreek kon word nie.

Die minister van inligting en kommunikasietegnologie, mnr. Stanley Simataa, het hierop gesê hy sal binnekort met die NBC se tegniese afdeling in verbinding tree om maniere te ondersoek waarop hierdie onaanvaarbare gedrag hokgeslaan kan word.

Haufiku het op sy beurt oop kaarte gespeel.

Hy sê hy het geen probleem met kritiek teen sy werk of teen hom in sy professionele hoedanigheid nie.

In sy antwoord oor listeriose het hy ‘n woord verkeerd uitgespreek, maar homself onmiddellik gekorrigeer.

Die boosdoeners het egter dié spesifieke gedeelte van sy antwoord so geredigeer dat net die verkeerde uitspraak, sonder die regstelling, op sosiale media versprei is.

Tydens sy besoek verlede week Vrydag aan Katima Mulilo het hy gehoor hoe mense neerhalende uitlatings oor sy uitspraak gemaak het.

Haufiku sê as jong seun is hy uit die Noorde gebring om op Okahandja skool te gaan. Hy was nie Afrikaans of Damara magtig nie en gevolglik was hy die teiken van boelies wat hom gespot het en selfs fisiek aangeval het.

Hy sê hy verkies om nie verfilm te word nie.

“Praat ek die swakste Engels in die Huis?” wou hy weet.

Limbo wou van Haufiku weet wat gedoen word aan die feit dat wasgoed by die Katima Mulilo-hospitaal ophoop, omdat daar glo nie seeppoeier is nie.

In antwoord hierop het Haufiku gesê hy was verlede Vrydag by die hospitaal op Katima Mulilo en het nie die hospitaal vooraf gewaarsku dat hy besoek sou aflê nie. Hy is die versekering gegee alles is in orde en die hospitaal het die afgelope jaar geen sterfgeval van pasgebore babas gehad nie.

Hy sê die hospitaal het nou drie spesialiste onder wie ‘n ginekoloog.

“Niemand het my gesê daar is ‘n probleem met wasgoed nie. Maar werklik, word dit van ‘n minister of ‘n permanente sekretaris verwag om wasgoedkwessies op te los? Ek sê daar is ‘n mislukking van leierskap by die hospitaal. Indien daar nie genoeg geld is nie, moet die mense met diegene op die volgende vlak kommunikeer.

“Selfs al sou ek geweet het daar is ‘n probleem met wasgoed en waspoeier, sou ek die personeel aangeraai het om dié klein probleme self op te los. As ons sê daar is nie geld vir ‘n groot nuwe hospitaal nie, beteken dit nie dat ons nie steeds die beste kan doen met dit wat ons het nie. Dit begin deur die plek skoon te maak, deur kreatiwiteit en inisiatief aan die dag te lê en probleme self op te los,” het Haufiku gesê.

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!