Dr. Hèléne – Namibië se ‘kaalvoet bosdokter’

Van Wiskunde-klasse tot druiwe pluk in Frankryk tot plaasdokter vir die inwoners van Hekel en Skoonheid – ’n propvol lewe in diens van ander.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht – Haar reise en ervaringe van Ruskop van haar kinderjare tot Hekel waar sy dekades gelede aan die sy van haar Namibiese man saam ’n toekoms begin, lees soos ’n storieboek wat jy nie wil neersit nie, maar tog ook stadig blaai dat die storie nog ’n bietjie hou.

Dr. Hèléne de Kok is warm en hartlik en het vertellinge vir dae tydens ’n besoek ’n week of wat terug aan die plaas en die kliniek waar alles vir haar as ‘kaalvoet plaasdokter’ begin het.

Haar storie begin met haar kinderjare op die Vrystaatse platteland tydens en ná die Tweede Wêreldoorlog. Van sub A tot standerd ses is sy by ’n plaasskool waar sy saam met 30 ander leerlinge in een klaskamer onderrig deur een onderwyser ontvang. Vervoer skool toe is per donkiekar.

Sy onthou haar ouerhuis op Ruskop as ’n gewilde bymekaarkomplek, met haar pa en ma wat goed hul slag met onderskeidelik ’n klavier en konsertina kon wys. Ook was daar die groot versameling boeremusiekplate wat gereeld op die gesin se grammofoon gedraai het.

Met spesiale kuiers is die huis skoongemaak en is mooi aangetrek. Elke familie wat tydens die spesiale aand op die plaas aangekom het, het gesorg vir die kos wat van vleis tot slaaie en poedings ingesluit het. Oujaarsaande is deurgedruk dagbreek toe, met die kleiner kinders wat op komberse iewers in ’n hoek of onder ’n tafel geslaap het.

“As ek 40, 50 jaar terugdink, ek is gevul met wonder.”

Op die ouderdom van 12 jaar word sy na ’n hoërskool in Bloemfontein gestuur. Eunice was ’n dubbelmediumskool, met Afrikaans en Engels wat weekliks geruil is as spreektaal in die koshuis. Aan die einde van elke kwartaal is Hèléne per trein terug plaas toe.

“Ons is geleer om reg te praat, goedgemanierd, bedagsaam en pligsgetrou te wees.”

Sy onthou ’n voorval op die stasie toe vier tieners ’n argument met ’n “ou, maer Kleurlingman” gehad het wat besig was om bondels beddegoed in khaki-omhulsels te organiseer. Hulle het aangedring op “vinnige diens, selfs diens sonder betaling”. Die tieners het die man rondgestamp en vloekwoorde is geuiter.

“Dit was my eerste ondervinding met die moontlikhede van ongegronde, onregverdige behandeling wat oor die laaste paar jaar met die apartheidsbeleid oopgebreek het. Ek het ongelooflike simpatie vir die hulpelose en magtelose man en woede teen die samelewing gevoel wat sulke onregverdigheid toelaat. Jare later het ek dit onthou en gedink dit was moontlik dié voorval wat my maatskaplike bewustheid verskerp het.”

Ná skool studeer sy vir ’n BSc-graad aan die Universiteit van Pretoria met hoofvakke wiskunde en chemie.

Vier “genotvolle en interessante jare” as onderwyser volg ná haar studies in Bethlehem in die Vrystaat, Salisbury (vandag Harare) en Londen. Terwyl sy Europa plat reis, doen sy ook “allerlei nederige werkies” in verskeie lande – kombuis- en huiswerk in Oostenryk (onder meer houtkap!), druiwe pluk in Frankryk en werk selfs in die Bertram-Mills-sirkus in Londen.

Ná 15 maande in Europa was dit tyd om na Afrika terug te keer.

In Livingstone gee sy klas in Wiskunde en Wetenskap by die Hillcrest Hoërskool aan die buitewyke van die dorp. Vryetyd word bestee aan tennis en muurbal, terwyl piekniekmandjies naweke gepak word vir verkennings al langs die Zambezi-rivier, die valle en klowe in die omgewing.

Sy het altyd ’n begeerte gehad om haar in die joernalistiek te begewe en was gelukkig genoeg om ’n pos by Die Burger in Kaapstad te kry. Hoewel die werk opwindend en stimulerend was, sou sy net vir ’n wyle hier vertoef.

Hèléne word gevra om ’n paar maande ná haar aanstelling ’n dokument te onderteken wat sy erken sy “reg of verkeerd” interpreteer het as iets wat haar vryheid van spraak sou beperk. Dit was glo in veral maatskappybeleid en ook dié van die koerant in die algemeen.

“Vir my het dit beteken ek sou instem om my nuus en artikels op so ’n manier te skryf dat dit nie ongunstig of neerhalend teen die regering van toe, die Nasionale Party, sou wees nie. Ek het geen begeerte gehad om in my werk voorgeskryf te word nie.”

Die eertydse droom van eendag ’n dokter word, brand egter steeds en sy hervat haar studies in 1964 as stoere Afrikaner by die Universiteit van die Witwatersrand.

Benewens dat dit dié mediese skool in Afrika was, stem Hèléne ook nie saam met die rigting waarin Suid-Afrika se politiek beweeg het nie. Ook wil sy as dokter produktief tot gesondheidsorg en die uitwissing van armoede bydra.

“Wits was die enigste universiteit in die nuwe Republiek van Suid-Afrika wat ‘nie-wit’ studente toegelaat het. Ons was ’n klas van 100 studente van wie ses vroue en ses ‘van kleur’ was.”

Vir ’n ekstra inkomste gee sy ekstra klasse in Wiskunde en skryf ’n paar artikels oor haar oorsese ervaringe vir The Weekend Argus.

As deel van haar studies verrig sy diens by ’n kliniek in die township Alexandria, terwyl die teaters van die Baragwanath-hospitaal haar vaardighede in chirurgie slyp.

Die ongevalle-afdeling is egter die grootste leerskool om die hantering van alle tipes trauma vinnig en doeltreffend te hanteer.

“Medies het my roeping geword, maar om te skryf het my passie gebly.”

Vir vyf jaar werk sy in vooraanstaande hospitale in stede en ook verskeie geïsoleerde hospitale oral oor Suid-Afrika. By die Butterworth-hospitaal in Transkei is sy benewens die superintendent die enigste dokter. Sy werk die meeste van die tyd in verloskunde en narkose en bestee meer as ’n jaar in die kindersaal.

En toe verruil sy die stadslewe vir ’n plaas in die Namibiese boendoes. Waar sy aanvanklik dink dis die einde van haar mediese loopbaan, was dit maar net die begin.

In 1970 terwyl sy in narkose diens by die Addington- en King Edward III-hospitale in Durban doen, kry haar lewe ’n Namibiese kinkel toe sy vir Boetie Claassens, ’n boer van Gobabis, tydens ’n skemerkelkie by die dokterskwartiere ontmoet. Boetie was saam met ’n dokter en sy vrou op vakansie in Suid-Afrika. Gereeld word oor en weer gekuier en in 1974 word sy Boetie se vrou en begin haar lewe op ’n geïsoleerde plaas in die Kalahari.

Dié rigting wat haar lewe ingeslaan het, het haar laat dink sy het haar mediese loopbaan agtergelaat, min wetend wat ’n uiterste behoefte aan dokters in afgeleë gebiede daar was.

Skaars is sy op die plaas of pasiënte begin per voet, donkiekarre en “voertuie van alle soorte in baie stadiums van verval” hier aankom.

Haar spreekkamer is 80 km van Gobabis en die naaste hospitaal geleë en benewens hier diens doen, beman sy ook selfs meer afgeleë klinieke in van Herero- tot Boesmanland.

Die mediese praktyk op Hekel begin op ’n grasperk agter die huis. Sy sien om na hul eie plaaswerkers en soms werkers van ’n naburige plaas wat by haar vir mediese hulp kom aanklop.

Gou sou daar soggens reeds ’n paar mense wat op die grasperkie begin saamdrom en wag dat sy moet help. Hèléne leer vinnig om met haar pasiënte te praat in ’n taal wat hulle verstaan.

“Ek het begin deur beleefd te wees en vinnig besef hulle het nie ’n idee gehad waarvan ek praat nie. Ek was verplig om my tot vierletterwoorde te wend, ongeskik in beleefde geselskap, maar noodsaaklik in my praktyk.”

Die dag, toevallig haar verjaardag, toe sy moedeloos die 80 Herero-pasiënte in netjiese rye op die stukkie gras in flambojante, bont rokke sien sit, toe weet sy haar roeping is vervul.

Dikwels is veral uiters siek kinders oornag by die kliniek gehou om hulle ten minste te stabiliseer voordat hulle weer huis toe sou gaan.

In die eerste jaar voor die nuwe spreekkamer gebou is, is die pasiënte in ’n klein kamer gespreek. Die familie, van pasiënt tot ouers en enige boeties en sussies, moes gehuisves en gevoed word. Matrasse is vir elkeen op die vloer uitgegooi. Omdat haar pasiënte nie horlosies gehad het of kon lees nie, gee sy aan elkeen ’n paar kort kerse wat vir sowat twee uur sou brand. Begin die kers sy laaste flikker gee, was die tyd verstreke en kon hulle sodoende met gereelde tussenpouses aan haar venster klop om die pasiënt weer te monitor.

Twee reusebloekombome wat deur die eerste eienaars van die plaas aangeplant is, het skaduwee gebied aan pasiënte wat gesit en wag het om haar te sien. Tydens ’n storm breek een van die bome se takke. Albei bome word afgesaag en in stompe gesny wat nou as sitplek gedien het. Die bome groei weer terug na hul oorspronklike hoogte en vandag is die stompstoele steeds onder dié bome se skaduhange.

Dis ook hier waar Hèléne se pad met die San begin. Die San het ongewone talente, sê sy, wat in die moderne, materialistiese wêreld moontlik nie waardeer word nie: ’n sin vir rigting, ’n ongelooflike vermoë om spoor te sny en ’n sterk bewaringsin. Wat hulle egter nie het nie, is immuniteit teen siektes en euwels waarteen ander ’n weerstand opgebou en aan gewoond geraak het.

“Ek het baie van hulle behandel, ek het sommige gesond gemaak; ek hoop ek het hulle gehelp.”

In die 40 jaar wat sy as dokter op die plaas en omliggende omgewing diens gedoen het, was sy keer op keer verstom deur die “stil samewerking en byna volwasse houding” van die meeste van haar klein Herero-pasiëntjies. In Hereroland is drie klinieke waar sy met tussenpouses pasiënte sou sien: by Pos 3, Otjinene en op Okanjato. Die aantal pasiënte wat op die dag van haar besoek aan die kliniek sou opdaag, was altyd ’n verrassing. Dikwels was daar 40 tot 60 en een keer selfs 120!

“Ek het ’n verskeidenheid pasiënte uit baie kulturele agtergronde gehad. Hoewel ek probeer het om ten minste die hoofsimptome en heersende siektes in vier of vyf tale te ken, was dit ’n reusetaak. Otjiherero het ek vreemd gevind omdat die begin van die woorde ‘afneem’ en nie die einde nie. San was totaal buite my bereik.”

Dertien jaar gelede kom ’n San-pasiënt van die naburige hervestigingsplaas Skoonheid, sowat 30 km van Hekel se kliniek, by haar op die plaas aan.

“Skoonheid is nie meer skoonheid nie, dis nou vuilheid,” sê hy verslae. Kan sy daar waar verskeie San-groepe hervestig is en “sonder hoop, hulpeloos en verlore” is ook ’n kliniek begin?

Met elke besoek is daar sowat 40 pasiënte, waarvan ’n derde kinders was. Hèléne onderhandel vir ’n aanvaarbare en bekostigbare fooi vir die kliniek, met dien verstande hulle het ’n inkomste uit handwerk wat sy vir die vroue sou begin.

Volwassenes betaal N$5 en kinders N$2 vir die konsultasie en die medikasie.

“Aan die begin kon byna niemand betaal nie en ons het meestal ’n lys van ‘gee vir my’ gehad wat eintlik geskenke was. Nou is dit die uitsondering as ’n pasiënt nie betaal nie.”

Sy droom van ’n samelewing waar kinders nooit honger of koud is nie, die geleentheid gegun word om hul beste kreatiewe potensiaal te verwesenlik en waar hulle die vaardighede geleer word om vrees en woede sonder haat en geweld op te los.

Met ’n toewyding tot geregtigheid en menseregte en met ’n ingeweefde deernis vir die swakheid van die mens tesame met die krag van die menslike gees, eggo Hèléne die gevierde woorde van Martin Luther King:

"Let no man be judged by the colour of his skin.

Let every man be judged by the content of his character."

“Die hoop vir Afrika lê daarin dat die menigte van verskeie klein pogings saamkom om ’n reusetsunami van samewerking en welwillendheid te vorm.”

*Bron: barefoot bushdoctor – Hèléne de Kok

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!