Draai die krane toe, vra vorige finansminister

Jo-Mare Duddy Booysen
Erika Gibson - Moenie meer geld aan Zimbabwe leen nie – dié land moet nou sy eie potjie krap.
Dit is die streng vermaning van ’n voormalige Zimbabwiese minister van finansies nadat die invloedryke nuusblad The ­Economist vandeesweek gepleit het dat die internasionale gemeenskap die geldkrane toedraai.
“Jy kan nie langer geld gooi vir ’n klomp struikrowers nie, want dít is wat die regering is,” het Tendai Biti, voormalige minister van finansies, in ’n onderhoud met Rapport gesê.
“Om nóg geld by die Wêreldbank en die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) te leen, gaan die krisis nie oplos nie – dit gaan dit op die duur vererger.”
Biti, ’n prokureur wat nou die leier van die People’s Democratic Party (PDP) is, het in 2009 gehelp om Zimbabwe se ekonomie reg te ruk, net om te sien hoe dit weer in chaos gedompel word.
Sedert die 2013-verkiesing het die getal staatsamptenare van 233 000 tot 550 00 toegeneem.
“Niemand weet wat dié klomp amptenare skielik moet doen nie. Wat ons wel weet, is dat daar duisende spookwerkers is wat eintlik maar net die staats­kas tap.
“Die regering is die olifant wat die beskeie koek, wat die ekonomie is, verorber en nóg soek. Nou is niks oor nie.”
Die afgelope week se protes was ongekend wydverspreid.
“Woensdag se wegblyoptrede was vreedsaam in Harare en almal het saamgestaan. Dit was nie politiekgedrewe nie – dit is uit honger en wanhoop gebore.”
“Die temperatuur styg vinnig. Die volk is keelvol,” sê Biti.
Korrupsie is die hoofoorsaak van die geldtekort.
“Mugabe neem gemiddeld R100 miljoen op ’n buitelandse reis saam. Hy het die laaste paar jaar meer as 40 buitelandse reise onderneem. Maak self daardie sommetjie. Sy dogter was drie maande in Singapoer net om ’n baba te gaan kry terwyl ons landgenote krepeer.”
Mugabe het in Maart “buitelandse maatskappye” daarvan beskuldig dat hulle sowat R270 miljard uit diamantopbrengste “verduister” het.
Só het hy hom die gramskap van China, een van sy vernaamste vriende in die diamantbedryf, op die hals gehaal.
“Daar is slyperye in China en Indië wat heeltyds sit en slyp aan Zimbabwe se diamante.
“Die opbrengs kom nooit ­terug nie. Met die oopstelling van die banke in Suidoos-Asië en Mauritius is daar heelparty wegsteekplekke vir die regering se rykdom,” sê Biti.
Suid-Afrika was die afgelope week tjoepstil oor die Zimbabwe-krisis. “Pres. Jacob Zuma kyk nou anderpad, maar hy vergeet dat Zimbabwe 46% van sy invoer van Suid-Afrika kry. Suid-Afrika gaan dus saam met ons seerkry. Dit is sý land se groot kettingwinkels wat saam wurg.”
Die nuwe invoerbeperkings uit Suid-Afrika sal goedere van R2 miljard per jaar raak, berig City Press se Dewald van Rensburg.
Zimbabwe wil sy handels­tekort met Suid-Afrika wat verlede jaar R20 miljard beloop het, op dié manier verklein.
Die verbod spruit uit Statutêre Instrument 64 van 2016. Dit is die derde lys van verbode items wat uitgereik is. Verlede jaar is ’n stokkie gesteek voor die invoer na Zimbabwe van komberse, tweedehandse klere, motorbatterye, kerse, vloerpolitoer en tabak. Altesaam 36 produkte mag slegs met lisensies ingevoer word.
SRB Trading, ’n Zimbabwiese vervoermaatskappy wat uit Suid-Afrika sake doen, sê “60% tot 70%” van sy klandisie het opgedroog sedert die eerste beperkings in Maart van krag geword het.
“Dis ’n nagmerrie,” sê Karen Coetzee, mede-eienaar.
“Die permitte neem ’n leeftyd om te bekom.” - Netwerk24


Kassie:


Verbode!
Dié produkte mag nie meer uit Suid-Afrika ingevoer word nie:
* Kunsmis met ’n ammoniak-basis (R500 miljoen tot R750 miljoen per jaar)
* Bottelwater (invoer in 2015: R272 miljoen)
* Koffieverromer soos Cremora (R281 miljoen)
* Lyfroom (R250 miljoen)
* Voorafvervaardigde geboue (R55 miljoen)
* Geblikte boontjies (R37 miljoen)
* Aartappelskyfies (R53 miljoen)
* Kaas (R40 miljoen)
* Motorbatterye (R63 miljoen)
* Gebruikte motorbande (R37 miljoen)
* Ontbytgraan (R37 miljoen)

Kommentaar

Republikein 2025-01-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 30° Rundu: 19° | 32° Eenhana: 19° | 33° Oshakati: 23° | 32° Ruacana: 20° | 35° Tsumeb: 20° | 33° Otjiwarongo: 21° | 31° Omaruru: 24° | 33° Windhoek: 23° | 31° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 18° | 23° Swakopmund: 17° | 18° Walvis Bay: 18° | 22° Rehoboth: 24° | 35° Mariental: 26° | 39° Keetmanshoop: 25° | 40° Aranos: 26° | 39° Lüderitz: 19° | 31° Ariamsvlei: 25° | 40° Oranjemund: 17° | 25° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 24° | 37° Lubumbashi: 15° | 21° Mbabane: 16° | 28° Maseru: 17° | 33° Antananarivo: 18° | 23° Lilongwe: 19° | 26° Maputo: 23° | 34° Windhoek: 23° | 31° Cape Town: 20° | 28° Durban: 22° | 27° Johannesburg: 18° | 32° Dar es Salaam: 27° | 32° Lusaka: 17° | 27° Harare: 16° | 28° #REF! #REF!