Drafkoning wen stryd teen kanker

Johan Bronkhorst praat self oor wonderwerk
Des Erasmus
Vanjaar op 4 Januarie het Johan Bronkhorst van Swakopmund die medici se finale uitspraak aangehoor. Hy het kanker.
Soos op die ver paaie van een van Namibië se bekendste langafstandatlete het dit hom by 'n kruispad gebring. Hy kan daarby berus, dit aanvaar en terugsit tot met sy dood of hy kan die siekte die stryd aansê.
Maar oorgee was min. Verlede week op 10 Julie is hy skoon verklaar.
“Ek het geweier om kanker as 'n doodsvonnis te aanvaar,” het hy gesê waar hy op Swakopmund 'n ­eksklusiewe ­onderhoud aan Republikein afgestaan het. Ook die ­omgewing het saamgespeel in die blye bood­skap wat die drawwer van die velde soos 'n mikstokdraer in die restaurantgedeelte van die kwekery Little Foot gebring het. Bydraend tot die ontrafeling van die raaisel van die siekte was die naam Monkey Puzzle teen 'n muurwand. Dis 'n plek van rose, blomme en plante met 'n ­verwende papegaai wat al skreeuend sy tussenwerpsels gooi.
“Kanker is nie 'n doodsvonnis nie. Jy moet wel jou kop reg instel, die geloof behou en doen wat die medici voorstel,” sê hy. Met die aanvanklike mededeling was sy kanse op oorlewing op 20 persent geskat. “Ek het so gewens dit kon andersom wees, synde 'n kans van 80 persent op oorlewing en 20 persent op die dood. Ek mog nie die handdoek ingooi nie. Wat van die jongste lieflingkind, Chris­tine. Sy is maar nege jaar oud en getrou aan vadershand.”
Hy draf al weer ná wat vir hom 'n wonderwerk was, hoewel hy tydens sy siekte nooit heeltemal opgehou het nie. Hy het net 'n bietjie afgeskaal. Sy eerste grote waaraan hy weer gaan deelneem, is die Husab-marathon op 5 Augustus oor 'n volle 42,2 km. Die wegspringplek is waar die mynpad tussen Swakopmund en Arandis wegswaai Husab toe.
Oor die pad waarlangs hy gekom het, sê Bronkhorst hy was maar 14 jaar oud en 'n leerling van die skool SSS op Swakopmund toe hy met die langer afstande 800 meter, 1 500 meter en 3 000 meter begin het. Sy eerste jare in sy loopbaan was in die destydse polisie en later was hy lid van die taakmag. In 1995 het hy uit die polisiediens getree en in die private sektor begin werk.
Oor kanker meen hy alles het maar begin met 'n gewas teen sy keel. Toe was daar 'n knop onder sy blad wat hom voortdurende pyn besorg het. Die pyn was so erg dat hy die betrokke arm met sy ander hand moes vashou wanneer hy draf. Dit het gelei tot 'n operasie waarin kliere van onder meer onder sy blad verwyder is. Vanjaar op 13 Januarie is op sy verjaardag 'n groot skandering gedoen. Die kanker het toe reeds versprei met onder meer 'n aantasting van sy bekken. Al die limfkliere was reeds siek.
Vir vloeistofdreinering moes hy onder meer vir ses weke 'n emmertjie dra. Op die twintigste dag het hy die emmertjie neergesit wat toe reeds die huishoudelike noemnaam Frikkie gekry het.
Vanjaar in Februarie het hy weer tydens die Rössingmarathon aangetree, al was dit net vir die korter afstande. Met die Brandberg Rhino Run was hy op 11 Julie weer daar, maar Johan gee toe hy het bitter swaar gekry. Dit was drie dae ná sy laaste chemo. “By die eindpunt het dit vir my gevoel of ek die sappie sommer met blik en al kon drink.” Hy sou vanjaar ook aan die Skedelkuswoestynwedloop deelneem, maar moes hom weens sy siekte onttrek.
raad en rate
Agter Johan lê vyf Comrades en ses Two Oceans. Hy gaan homself deurlopend monitor, maar glo hy gaan so oor twee jaar weer aan 'n grote soos die Comrades of die wedloop tussen die twee groot oseane deelneem. Op sy kerfstok is ook die Namaqua Quest en die Outeniqua Quest, Knysna se Otter-roete en die 161 km van die Addo Olifante.
Johan het sy eie opvatting oor sy genesing. Ten eerste was daar sy geloof. “Ek het vir die Here gesê daar is die siekte, vat hom!”
Hy het ook nooit afgewyk van 'n gesonde leefstyl wat hy gevolg het nie.
“Ek het elke moontlike raad en raat gevolg, selfs dit wat die bossiedokters aanbeveel het. Van die vreeslikste brousels het ek ingeneem soos 'n mengeldrankie van borrie en olyfolie. Cannabis Oil (dagga-olie) is gebruik met net so 'n paar druppels op 'n slag. Dan was daar al die luste wat bevredig moes word. Kerrievis is sommer houergewys verorber en pakke Cream Crackers moes verby kom. Alles was aanvullend tot die voorgeskrewe behandeling en medikasie. Daar was ook die tweeweeklikse vitamien C-inspuitings. “Wanneer ek in 'n toilet urineer, het die hele vertrekkie soos 'n ­sitrusboord geruik”.
“Onder al die goed kan ek nie sê wat gehelp het en wat nie, maar wat ek wel weet, is dat ek nooit 'n verkoue gekry het nie.”
hou moed
Ander hulpmiddels in die stryd was die wonderlike bystand wat hy van sy ouers gekry het. Hulle was altyd daar. Pa Martin het self ure aan sy kant deurgebring wanneer in 'n ry op behandeling gewag is. Sy ma, Rieta, was self 'n kankerlyer, maar is nou al jare skoon. Ondersteuning was daar van sy kinders Johan, Irina en Christine. Die bure het sommer van die goed aangedra wat hy nodig kon kry en ander veldatlete het getrou aan hom gebly.
Ook oor sy en pa Martin se gewag op sy beurt vir behandeling het hy 'n ligter sy. “Daar sit ons in 'n rytjie en wag. Van hulle is deur die siekte uitgeteer en feitlik net hul geraamtes het oorgebly. En ek? Ek sit ook daar en het in die tydperk van genesing van 10 tot 15 kg gewig aangesit.”
Gemoedelik sê Johan sy kanker het blykbaar verneem wie sy ma is en toe besluit om eerder pad te gee.
Toe hy aan sy vrou, Anja, gesê het hy het kanker, was haar reaksie: “Moenie bekommerd wees nie, ek bid.”
Die dag toe hy aan haar gesê het hy is kankerskoon, was haar geloof ewe sprekend: “Ek het geweet.”
Hy vertel dat hy en wyle Quinton-Steele Botes in sy lewe 'n moontlikheid van 'n uitmergelende wedren bespreek het. Dit sou van Swakopmund na Windhoek strek en daarvandaan 'n roete oor die Khomas Hochland na Walvisbaai en dan terug na Swakopmund volg. Dit sou oor dae in skofte afgedraf word.
Net dalk kom hy in 2018 met so 'n gedenkbyeenkoms om te beklemtoon dat die stryd teen kanker gewen kan word en ter herinnering aan almal wat in die stryd geval het.
Vir hulle wat nog met die siekte worstel, het hy raad. “Moenie dat kanker 'n oormag oor jou denke kry nie. Bly vasberade en hou by 'n Engelssprekende mentor se ­ondersteuning tydens my wedlope. 'Keep it up, laddie!'”

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!